Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nkosi Johnson se nalatenskap vereer met benoeming van nuwe koshuis
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 22/05/2018

Die Universiteit Stellenbosch (US) betoon eer aan die nalatenskap van die ikoniese jong Vigs-aktivis, Nkosi Johnson, deur ʼn nuwe studentekoshuis na hom te vernoem.

Nkosi Johnson Huis is die nuutste van drie nuwe studentekoshuise by die US se Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe-kampus in Tygerberg, en hou die titel vir die “groenste koshuis in Afrika" danksy die gebou se merkwaardige energie- en waterbesparings wat dit ʼn sertifisering van Excellence in Design for Greater Efficiencies (EDGE) besorg het.

“Dit is fantasties dat die Universiteit ʼn gebou na Nkosi vernoem. Hy het nog nooit ʼn toekenning in Suid-Afrika gekry nie, en dit is die eerste keer dat hy hier erkenning ontvang," sê Gail Johnson. Sy was Nkosi se pleegmoeder vir so te sê 10 jaar. Nkosi het ʼn kragtige impak gemaak op die openbare siening oor MIV tot en met sy dood in 2001 op 12-jarige ouderdom. Op daardie stadium was hy die langslewende kind wat met MIV gebore is.

Volgens die US rektor en vise-kansellier, prof Wim de Villiers, is geboue se name 'n aanduiding van 'n instansie se kultuur.  “Deur hierdie koshuis Nkosi Johnson Huis te vernoem, neem ons nog ʼn tree na sigbare regstelling op ons kampusse. En ons gee erkenning aan die belangrike rol wat wyle Nkosi Johnson gespeel het as 'n kritiese stem in die stryd vir sosiale geregtigheid in die stryd teen MIV/Vigs in Suid-Afrika," sê De Villiers.

Die Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), prof Jimmy Volmink, beskou die naamgewing van koshuise as ʼn geleentheid om die kultuur van inklusiwiteit by die US te verstrek. “Die benoeming van koshuise is deel van ʼn groter, deurlopende inisiatief om alle studente en personeellede 'tuis' te laat voel by die Tygerberg-kampus. In 2014 het ons ʼn deelnemende proses gevolg waarby ons studente baie betrokke was, wat daartoe gelei het dat die eerste seniorkoshuis op kampus 'Huis Ubuntu House' genoem is. Ons het weereens hierdie inklusiewe proses gevolg met die naamgewing van die tweede seniorkoshuis, en ons is baie beïndruk met die voorstelle wat ons van die studente ontvang het. Dit is ʼn eer om ʼn koshuis na ʼn ikoon soos Nkosi Johnson te vernoem," het Volmink gesê.

“Dit is belangrik dat ons erkenning gee en eerbied toon aan stemme uit Afrika, veral diegene wat tot die gesondheidswetenskappe bygedra het," sê Regan Fancensie, die US mediese student wat die naam vir die nuwe koshuis voorgestel het.

“Ek voel verootmoedig dat my voorstel gekies is, en is in ekstase dat Nkosi Johnson se naam sal voortleef by die Universiteit Stellenbosch. Dit is ʼn klein gebaar wat erkenning gee aan diegene wat deur MIV geraak is. Ek hoop Nkosi Johnson Huis sal ons herinner aan die stryd teen MIV en ons motiveer om te strewe na ʼn gesondheidstelsel, en gemeenskap, wat vry is van stigma, vooroordeel en ongelykheid," sê Fancensie.

Nkosi Johnson Huis bied behuising aan 200 senior studente en is die nuutste van drie nuwe koshuise wat in die laaste vier jaar by die Tygerberg-kampus opgerig is. Hierdie nuwe koshuise is ʼn deel van ʼn inisiatief van die FGGW om die landwye kwessie van die tekort aan studenteverblyf aan te spreek. Die Tygerberg-kampus grens aan die Tygerberg-hospitaal (ʼn provinsiale opleidingshospitaal in Kaapstad se noordelike voorstede) wat min opsies bied vir veilig en bekostigbare akkommodasie binne loopafstand van die kampus.

“Die bou van studentekoshuise is ʼn belangrike wyse waarop die FGGW inklusiwiteit bevorder. Deur behuising op kampus te verskaf, is die Universiteit meer toeganklik vir studente – veral diegene van peri-stedelike en landelike gebiede," sê Volmink.

Nkosi Johnson Huis spog met die titel “groenste koshuis in Afrika", en is die enigste studentekoshuis op die kontinent aan wie EDGE-sertifisering toegeken is. Dié “groen-status" is verwerf deur die aansienlike besparings in terme van energie (30%) en water (22%) wat die koshuis in sy daaglikse verbruik bewerkstellig, asook die omgewingsvriendelike metode waarop die gebou opgerig is.

Die konstruksie van Nkosi Johnson Huis het 45% minder boumateriaal en heelwat minder water vereis as konvensionele metodes, en het slegs 0.25% afval geproduseer, in vergelyke met die 25% afval wat met standaard-konstruksie geskep word.

Energie vir die gebou se beligting en verwarming word deur sonpanele gegenereer, en ʼn omvattende gryswaterstelsel vang stortwater op, wat dan behandel word en vir besproeiing gebruik word.


 

Onderskrif: Die Universiteit Stellenbosch se Rektor en Visie-kansellier, prof Wim de Villiers en mev Gail Johnson (middel) saam met senior studente en personeel by die amptelike opening van Nkosi Johnson Huis by die Universiteit se Tygerberg-kampus.

Inlas: Dr Alwyn Louw, prof Jimmy Volmink, mev Gail Johnson, prof Wim de Villiers, dr Birgit Schreiber en Regan Fancensie by die opening.