Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Biodiversiteit trek swaar in warmer klimaat
Outeur: Wiida Fouriue-Basson
Gepubliseer: 18/05/2018

'n Vereenvoudigde ekologiese landskap – met merkwaardige biodiversiteitsverlies – mag dalk die uiteinde wees indien die globale temperatuurtoename nie tot 1,5°C beperk kan word nie.

Só waarsku professor Guy Midgley, 'n wêreldleier op die gebied van globale verandering en die impak daarvan op biodiversiteit, in 'n insigartikel ​wat vandeesweek in Science gepubliseer is.

 


“'n Toename van meer as 2°C sal die wêreld na toestande terugneem wat miljoene jare gelede geheers het," verduidelik hy vanaf sy kantoor in die Departement Plant- en Dierkunde by Stellenbosch Universiteit, Suid-Afrika. Dit is in reaksie op 'n verslag van die Tyndall Sentrum vir Navorsing oor Klimaatsverandering by die University of East Anglia in die Verenigde Koninkryk, wat ook in hierdie uitgawe van Science gepubliseer is. Hierin toon professor Rachel Warren en andere dat die risiko wat verwarming vir plante, diere en insekte inhou, ongeveer verdubbel wanneer die algemene temperatuurtoename nie tot 1,5°C beperk word nie, maar dit toegelaat word om te styg met tot 2°C.

Met huidige ondernemings in ag genome, voorspel wetenskaplikes 'n ooreenstemmende temperatuurstyging van ongeveer 3,2°C. Dit kan daartoe lei dat tot 47% van insekspesies, 26% van gewerweldes en 16% van plantspesies die kans staan om ten minste die helfte van hulle geografiese verspreidingsgebied te verloor.

Volgens professor Midgley sal hoër vlakke van verwarming lei tot sistemiese ekologiese vereenvoudiging, 'n proses waartydens baie “klimaatsverloorders" vervang word met heelwat minder “klimaatswenners". So 'n vereenvoudigde ekologiese landskap kan 'n negatiewe impak hê op ekosisteemdienste soos byvoorbeeld die waterkwaliteit, grondbewaring, die voorkoming van oorstromings, wat almal belangrik is vir die mens se welstand. Minder insekte beteken ook minder bestuiwers en dus daarmee gepaardgaande implikasies vir baie plantspesies, en verwante voedselproduksie.

Maar selfs al sou regerings en die industrie daarin slaag om verwarming tot 1,5°C te beperk, het onlangse navorsing getoon dat groot landstreke beskikbaar gestel sal moet word vir die opvang en stoor van koolstof. Sommige skattings dui daarop dat tot 18% van die grondoppervlak, of 24-36% van huidige bewerkbare landbougrond, teen die einde van hierdie eeu hiervoor benodig sal word.

“Ongeag wat gebeur, gaan biodiversiteit aan die kortste ent trek, aangesien die groeiende gebruik van grond op sigself oorblywende habitatte kan bedreig," sê Midgley.

“Ons moet so na as moontlik aan die ideaal van 1,5°C bly. Dit is die eintlike boodskap van die Warren-studie. Maar hierin lê die dilemma. Ten einde die teiken van 1,5°C te behaal, staan ons die gevaar om baie van die habitatte wat biodiversiteit ondersteun, te vernietig.

“Daar word werklik te veel gepraat oor of klimaatsverandering besig is om plaas te vind of nie. Ons het veel eerder gesprekke nodig oor hoe ons hierdie probleem gaan aanspreek. Die hoë koolstofkonsentrasies kan uiteindelik die wêreld se ekosisteme onomkeerbaar verander. Indien koolstofkonsentrasies oor die volgende vyftig tot sestig jaar toeneem tot meer as 'n duisend deeltjies per miljoen, wat baie moontlik is indien ons aanhou om van fossielbrandstof afhanklik te wees, dan verander ons die Aarde se klimaat na wat dit 30 miljoen jaar terug was, en dit binne 'n eeu. Dit is soos om ekosisteme teen die spoed van lig te laat verander!" 

“Ons moet die kombinasie van opsies vind wat die konflik tussen die kompeterende belange minimaliseer. Slegs indien ons daarin slaag om hierdie onderlinge verhouding tussen klimaatsekuriteit, grondgebruik en biodiversiteitsbewaring te balanseer, sal ons in staat wees om 'n volhoubare toekoms op die lang termyn te verseker," sluit hy af.

Professor Midgley is die hoofouteur van die Interregeringspaneel oor Biodiversiteit en Ekosisteemdienste (ook bekend as IPBES) se globale ondersoek na biodiversiteit en ekosisteemdienste wat in Mei 2019 voorgelê moet word.

Medianavrae

Professor Guy Midgley

Departement Plant- en Dierkunde, Universiteit Stellenbosch

Tel: +27 21 808 3223/3236

E-pos: gfmidgley@sun.ac.za