Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Doktorale kandidaat in Departement Engels wen 2018 Ingrid Jonker Prys
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 17/05/2018

Mev Sindiswa Busuku-Mathese het die 2018 Ingrid Jonker Prys gewen vir haar debuut-digbundel, Loud and Yellow Laughter. Die prys word in alternatiewe jare toegeken vir die beste debuut-digbundel in Engels of Afrikaans.

“Om die Ingrid Jonker Prys te wen is 'n eer. Dit is 'n betekenisvolle literêre erkenning en 'n wonderlike viering van die bundel. Daar is soveel groot digters wat die Ingrid Jonker Prys al voorheen gewen het, digters wat ek bewonder – dit is ʼn eer om deel van daardie digterlike stamboom te wees. Ek is dank verskuldig aan die wonderlike prof Kobus Moolman wat my studieleier was virLoud and Yellow Laughter. Ek is ook dankbaar vir die ongelooflike ondersteuning van prof. Sally-Ann Murray en die Departement Engels," sê Busuku-Mathese, wat 'n PhD voltooi in die departement met 'n voltydse beurs van drie jaar aangebied deur die Nagraadse Skool.

Loud and Yellow Laughter, wat deur Botsotso gepubliseer is in 2016, is Busuku-Mathese se eerste digbundel. Voor publikasie het verskeie individuele gedigte uit die versameling verskyn in plaaslike en internasionale poësietydskrifte soos New CoinNew Contrast, Prufrock, Ons Klyntji, Aerodrome, Illuminations en Unearthed Anthology. Sy het ook die tweede plek behaal in die 2015 Sol Plaatje Europese Unie Poësie-toekennings en haar bundel was op die kortlys vir die 2016 Universiteit van Johannesburg Prys in die debuut-kategorie.

“Die bundel is 'n persoonlike oordenking oor kind wees," het Busuku-Mathese gesê ten tyde van die loodsing van die boek. 

Volgens haar is die gedigte in die bundel saamgeweef met argiefmateriaal soos briewe, foto's, gesprekbrokkies verbatim opgeteken en gevinde notas. Sy gebruik ook dramatiese tegnieke soos karakterlyste en verhoogaanwysings, wat die teks se heropvoering van voorafgebeure tussen die hoofkarakters (die Moeder, die Vader en die Dogter) belig.

As die aangenome dogter van ʼn man van Yorkshire, Brittanje en die biologiese dogter van ʼn vrou van Mount Fletcher in die Oos-Kaap sê Busuku-Methese dat haar kinderdae allesbehalwe konvensioneel was, gemeet aan tradisionele standaarde. Haar digbundel is ook ʼn kreatiewe huldeblyk aan haar aanneem-pa wat oorlede is toe sy net 13 jaar oud was.

“Die digbundel kyk na familie en intergenerasie-gesprekke oor ouerskap en kind wees in Suid-Afrika, sowel as onderwerpe van aanneming en (on)tuis wees, asook die generasie-glipse binne families," verduidelik sy.

“Dit hou verband met my eie agtergrond en is baie persoonlik."

Deur te delf in haar ma en pa se verledes en die groei van hul verhouding – ʼn ouerskap-ooreenkoms tussen twee vriende – verken Busuku-Mathese in haar skryfwerk haar eie identiteit as ʼn Suid-Afrikaner deur ʼn mengsel van (outo)biografie, elegie en dokumentêre collage om die raakpunte tussen geskiedenis en fiksie uit te lig.

Sy hoop dat die bundel sal bydra tot die gesprek rondom verskillende identiteitsvorms in Suid-Afrika en sal help om alternatiewe narratiewe en stemme in daardie ruimte meer sigbaar te maak.

“Kwessies van identiteit is sowel sosiaal as persoonlik. Ek dink dit is ʼn belangrike gesprek om in hierdie land te hê, veral in die lig van hoe divers ons land is en hoe gevarieerd ons ondervinding is van wat dit beteken om Suid-Afrikaans te wees. Dit is ʼn gesprek wat ek glo ons steeds mee worstel en wat ons as Suid-Afrikaners sien ontvou soos ons in verskillende rigtings getrek word. My gedigte verken wat dit beteken om groot te word in ʼn huis wat nie stereotiep is nie en om jonk te wees en te worstel met die oorgangsruimte tussen twee ouers wat radikaal verskillende wêrelde verteenwoordig."

Die versameling hanteer die alternatief vir tradisionele gesinstruktuur nie as abnormaal of ʼn skouspel nie.

“Dit was altyd my doel om ʼn alternatief vir die tradisionele aan te bied; ʼn siening van verskillende soorte ouerskap, hoewel ek dit nie vreemd wil laat lyk nie. Die versameling bevestig dat die normale nie altyd tradisioneel is nie en dat daar verskillende weergawes bestaan. Uiteindelik hoop ek dat my bundel sal bydra tot gesprekke oor die komplekse vorms van Suid-Afrikaner wees."

“Sindiswa het buitengewone skeppende gawes en ʼn wonderlike aptyt vir idees. Ek glo dat inherente talent, harde werk en voortdurende mentorskip sal verseker dat sy vooruitgaan as skrywer. Sy het reeds briljant begin, en ons is geïnspireer deur haar prestasies," sê prof Sally-Ann Murray, Voorsitter van die Departement Engels. 

Loud and Yellow Laughter is verkrygbaar teen R80 van Botsotso. Kontak botsotso@artslink.co.zaof stuur 'n e-pos direk na Sindiswa Busuku-Mathese by sindi.busuku@gmail.comom jou eksemplaar te verkry.

Foto: Mev Sindiswa Busuku-Mathese het onlangs die 2018 Ingrid Jonker Poësieprys ontvang vir haar digbundel, Loud and Yellow Laughter. (Anton Jordaan, SSFD)