Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se droogte-reaksieplan werp vrugte af
Outeur: Corporate Communication/ Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 16/05/2018

​Die Universiteit Stellenbosch(US) doen sy deel om aan die ernstige waterbeperkings te voldoen en het sy waterverbruik suksesvol met 45% verminder.

Die US kon hierdie betekenisvolle besparing bewerkstellig deur 'n wye reeks innoverende waterbesparingsintervensies te implementeer en deur mense se gedrag en waterverbruikpatrone te verander met openbare inligtingsveldtogte. 

Die intervensies word uiteengesit in die US-droogte-reaksieplan – 'n omvattende dokument wat die US riglyne gee hoe om die watertekort die hoof te bied. Dit sal die US se volhoubaarheid verseker as die krane in die Wes-Kaap opdroog. Die plan is in 2017 opgestel onder leiding van die Hoofdirekteur van Fasiliteitsbestuur, Nicolette van den Eijkel, en die onderskeie intervensies is met die steun van die Droogte-reaksiegebeurlikheidswerkgroep bekend gestel.

John de Wet, Bestuurder van Omgewingsvolhoubaarheid by die US, sê hulle is tevrede met die intervensies se sukses en met die steun wat hulle van die kampusgemeenskap kry. De Wet sê hul aanvanklike strategie was ʼn reeks kitsoplossings waartydens die US die 'Oorlog teen Lekkasies'-projek van stapel gestuur het. Tydens die projek is 'n permanente span saamgestel wat lekkasies op al die US-kampusse identifiseer en herstel. Die vervanging van ou toiletspoelbakke met waterslimspoelbakke het deel van die projek uitgemaak. Die aanbring van Flush Buddy-sakke in spoelbakke het die hoeveelheid water wat per spoel gebruik word, drasties verminder.

Die implementering van grootmaatgryswaterstelsels by koshuise het in 'n groot mate tot die Universiteit se waterbesparings bygedra, terwyl die installering van doeltreffende toerusting in kombuise en koshuise gesorg het vir besparings van tot tussen 20 en 30% in die verbruik van drinkbare water. Die US het ses bestaande boorgate oopgemaak en vernuwe; elkeen is vir 'n spesifieke doel toegewys. Watermeters wat De Wet en sy span van akkurate waterlesings in 15-minuutintervalle voorsien, is by geboue op die Stellenbosch-kampus geïnstalleer.

Al is Dag Zero vir eers uitgestel, sê De Wet dat die Universiteit voortgaan om waterbesparingsinisiatiewe te implementeer en dat die US se vraag na drinkbare water na verwagting met 63% kan afneem. 

Drie groot projekte gaan hierdie jaar aangepak word. Dit sluit in die bou van 'n toiletgryswaterstelsel waar gryswater van koshuise deur 'n enkel sentrale suiweringskema op die Stellenbosch-kampus gaan beweeg en weer terug na die koshuise en administratiewe geboue herlei gaan word vir die spoel van toilette. 'n Splinternuwe suiweringsaanleg wat met omgekeerde osmose werk, gaan by die Bellville Park-kampus opgerig word en die Tygerberg-kampus sal 'n boorgatveld met vyf boorgate kry.

“Ons omgewingsvolhoubare visie vir die US is dat die Universiteit teen 2030 getransformeer moet wees en op die groenste volhoubare manier moet funksioneer met die verskaffing van infrastruktuur en stelsels, asook in daaglikse bedrywighede. Dit sal minimale impak op die omgewing en op die hulpbronne wat nodig is tot gevolg hê," sê De Wet.