Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsers benut masjienleer-tegnieke om Chenin blanc–wyne beter te verstaan
Outeur: Jorisna Bonthuys
Gepubliseer: 14/05/2018

Die kollig val op Suid-Afrikaanse Chenin blanc-wyne in 'n nuwe studie waarin die sensoriese ruimte van wyn met datamyn- en masjienleer-tegnieke uitgebeeld word.

In dié studie span navorsers tegnieke in wat normaalweg gebruik word om “groot data" te ontleed en onder meer kubermisdadigers vas te trek.

Die navorsers het beskrywings van 7 000 stuks plaaslike wyne gebruik om die sensoriese spasie van Chenin blanc-wyne te visualiseer. Die resultate van hierdie studie getiteld Modelling the sensory space of varietal wines: Mining of large, unstructured text data and visualisation of style patterns is onlangs in Nature Scientific Reports gepubliseer.

Navorsers van die Universiteit Stellenbosch se Instituut vir Wynbiotegnologie (IWBT), die Fakulteit AgriWetenskappe en die Departement van Inligtingswetenskap, het hieraan meegewerk.

Die navorsingspan het ongestruktureerde teksdata ontleed wat sensoriese wynbeskrywings bevat. Die span het bestaan uit Carlo Valente (meestersgraad-student aan die IWBT), sy studieleiers, prof. Florian Bauer en dr. Hélène Nieuwoudt, asook medewerkers Fritz Venter ('n doktorale student in die Departement Inligtingswetenskap) en sy studieleier, prof. Bruce Watson.

In hul navorsing bekyk hulle een van die omvattendste databronne oor Suid-Afrikaanse wyne wat vir die algemene publiek beskikbaar is, naamlik die John Platter Wyngids van Suid-Afrikaanse Wyne wat jaarliks gepubliseer word. Die Platter-wyngids bevat inskrywings van sowat 1 300 Suid-Afrikaanse wynkelders en meer as 15 000 individuele wyne. Etlike honderde nuwe wyne word jaarliks by hierdie gids ingesluit. 'n Paneel van wynkenners met uitgebreide kennis word jaarliks aangewys wat wyne op grond van hul sensoriese kenmerke en gehalte hiervoor beoordeel.

Die navorsers het onder meer 'n tegniek wat bekend staan as “formal concept lattices" asook tradisionele statistiese metodes ingespan om die sensoriese kenmerke van Chenin blanc- en Sauvignon blanc-wyne te bepaal. Hierdie visualiseringstegniek word normaalweg gebruik in inligtingswetenskap en in masjienleer ('n metode om data-ontledings met outomaties analitiese modellering toe te pas).

Die studie is so ver bekend die eerste in sy soort om wynstyle met behulp van hierdie metodes te bepaal, sê Dr. Hélène Nieuwoudt, 'n senior navorsers in US se Departement Wingerd- en Wynkunde. Dr. Nieuwoudt verduidelik dit soos volg: “Hoewel hierdie metode al gebruik is in berekenings in rekenaarlinguistiek en kuberveiligheid, is dit die eerste keer dat gepoog word om die sensoriese ruimte van 'n wynvariëteit só te modelleer." Samewerking tussen inligting- en wynwetenskaplikes bied volgens haar nuwe moontlikhede wat betref navorsers se vermoë om die studieveld van sensoriese wetenskap te ontsluit.

Die navorsers het ongestruktureerde sensoriese data van 4 352 Sauvignon blanc-wyne bekyk wat vanaf 2008 tot 2014  in die Platter-wyngids ingesluit is. Die sensoriese eienskappe van Sauvignon blanc is reeds goed beskryf en op bestaande sensoriese en statistiese metodes gegrond. Die navorsers het gevolglik hierdie data gebruik om hul bevindings oor Chenin blanc te staaf.

Die Platter-wyngids se paneellede het altesame 38 403 woorde gebruik om 2 746 Chenin blanch-wyne te beskryf wat in hierdie studie ingesluit is, asook  71 892 woorde wat Sauvignon blanc-wyne beskryf. Aangesien die navorsers net belanggestel het in aromakenmerke het hulle alle nie-sensoriese woorde asook herhalings daarvan weggelaat. Die navorsers het 266 sensoriese woorde wat met aroma verband hou vir Chenin blanc-wyne geïdentifiseer en 250 woorde vir Sauvignon blanc-wyne.

“Kompleksiteit is 'n belangrike dryfveer van Suid-Afrikaanse Chenin blanc-wyne wat deur uiteenlopende style gekenmerk word," verduidelik Dr. Nieuwoudt. “Hoewel sommige Chenin blanc-wyne soortgelyke sensoriese beskrywings met Sauvignon blanc-wyne deel, toon ons studie twee kenmerkende wynstyle kan onderskei word wanneer hierdie data gevisualiseer word. Dit verteenwoordig hul sensoriese ruimte," verduidelik Dr. Nieuwoudt. “Unieke sensoriese aromakenmerke, wat sterk met elke groep verbind word, is ook bepaal. Ons het aansienlike oorvleueling bespeur in die sensoriese beskrywings tussen die variëteitswyne."

Die bevindings hou belangrike gevolge in wat betref die etikettering van Suid-Afrikaanse Chenin blanc-wynstyle, sê sy. “Die vernaamste sensoriese dimensie van ons Chenin blanc-wyne hou verband met kompleksiteit en sluit 'n spektrum in wat wissel van vars en ligte wynstyle tot meer komplekse wyne met 'n kenmerkende houtagtige karakter," sê dr. Nieuwoudt. “Die studie toon ook hoe interaktiewe datavisualisering en datamyntegnieke gebruik kan word om nuttige insigte te ontwikkel in studievelde soos sensoriese wetenskap."

Suid-Afrikaanse Chenin blanc-wyne het reeds sodanig ontwikkel dat dit as maatstaf dien in terme van gehalte en style, aldus dr. Nieuwoudt. “Chenin blanc bied iets uniek aan verbruikers. Danksy ons navorsing kan ons ook nou die uiteenlopende sensoriese kenmerke daarvan visueel uitbeeld."

Die sensoriese aanwysings is ook gebruik om 'n kleurgekodeerde aromawiel en unieke leksikon te ontwikkel waarmee Suid-Afrika se uiteenlopende Chenin blanc-wyne beskryf kan word.​

Meer oor Chenin blanc

Chenin blanc het 'n lang geskiedenis in Suid-Afrika en is in die 17de eeu deur Nederlandse setlaars hier bekendgestel wat 'n handelspos aan die Kaap de Goede Hoop gevestig het.

Die verband tussen Chenin blanc en die Universiteit Stellenbosch dateer terug tot 1963, toe prof. Chris Orffer, destyds hoof van die Department van Wynkunde, onsekerhede oor die druifvariëteit “Steen" uit die weg geruim het met sy bevindings dat Steen en Chenin blanc dieselfde variëteit is.

Die laaste ruk is daar hernude belangstelling in die sensoriese kenmerke van Chenin blanc in die konteks van witwynvariëteite. Dit spruit uit die ekonomiese belang van Chenin blanc vir die plaaslike wynbedryf en uitvoermark.

Die wynvariëteite Chenin blanc, Sauvignon blanc en Chardonnay maak saam die grootste gedeelte uit van die plaaslike witwynkategorie (van volumes geproduseer). Chenin blanc word verbou in uiteenlopende gebiede in Suid-Afrika vanweë die hoë opbrengste daarvan, asook die druif se vermoë om warm en droë toestande te gedy. Dit maak tans 18% van alle plaaslike wingerde uit. In onlangse tye geniet Chenin blanc-wyne ook meer aandag danksy 'n skuif van massaproduksie tot die maak van topgehalte wyne wat internasionale toekennings verwerf. Sedert 2002 is die plaaslike verbruik van Chenin blanc-wyne asook die uitvoere daarvan aan die toeneem.