Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US vier Wêrelddag vir Intellektuele Eiendom
Outeur: Corporate Communications / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 11/05/2018

Wêrelddag vir Intellektuele Eiendom (IE) word jaarliks in April oor die hele wêreld heen gevier. Die jaarlikse Wêrelddag vir IE beklemtoon die rol wat intellektuele-eiendomsregte speel in die bevordering van innovasie en kreatiwiteit, en verseker dat die samelewing baat vind by die vindingryke gevolge.

Ter viering van die dag het die Universiteit Stellenbosch Museum 'n spesiale seminaar getiteld Aangedryf vir verandering: Stellenbosse vroue in innovasie en kreatiwiteit (Powering change: Stellenbosch womxn in innovation and creativity), in samewerking met die Anton Mostert Leerstoel in Intellektuele-eiendomsreg aan die Fakulteit Regsgeleerdheid en met die medewerking van Innovus, aangebied.

Die fokus van die seminaar was op die mense agter die innovasie, kreatiwiteit en maatskaplike impak wat IE-regte in Suid-Afrika ten grondslag lê. Vyf vrouesprekers het hulle persoonlike reis en ervarings gedeel, en daardeur vroue se werk op die gebied van die wetenskap, tegnologie, regte, media, die sake- en regeringsektor, die mediese bedryf, joernalistiek, en ondernemings – enige gebied moontlik – op die voorgrond geplaas.

Die Universiteit Stellenbosch (US) is deur vier sprekers verteenwoordig, Thuli Madonsela, Suid-Afrika se voormalige Openbare Beskermer en onlangs aangestel as professor in die Departement Publiekreg en in die Fakulteit Trust se Leerstoel in Maatskaplike Geregtigheid; Madelein Kleyn, Navorsingsgenoot van die Anton Mostert Leerstoel in Intellektuele-eiendomsreg; Anna-Mart Engelbrecht, Professor in die Departement Fisiologiese Wetenskappe; en Anita Nel, Hoof Uitvoerende Beampte van Innovus, terwyl Jetane Charsley in haar hoedanigheid as Direkteur: Regulatories en Voldoening, in die Kantoor vir Nasionale Intellektuele-eiendomsbestuur (NIPMO), die nasionale Departement van Wetenskap en Tegnologie verteenwoordig het.

Elke spreker het van die uitdagings uitgesonder wat Suid-Afrikaners, en veral SA vroue, in die gesig staar en die gehoor geïnspireer om kreatiewe, vernuwende en maatskaplik voordelige werk te onderneem en daarmee te volhard, afgesien van die unieke uitdagings waarmee hulle in die werksplek en die samelewing te doen kry.

Volgens Thuli Madonsela vorm terugslae 'n integrerende deel van ons groei en sukses in die lewe. “Ek aanvaar terugslae as deel van die lewe. Om te val beteken nie jy is 'n mislukking nie, en mislukking beteken ook nie die einde nie. Niemand wat al buitengewone hoogtes in die lewe bereik het, kan sê hulle het nog nooit mislukking gesmaak nie. Die verskil is om terugslae as 'n deel van die pad na sukses te aanvaar."

Madonsela het die gehoor aangemoedig deur besielende gedagtes oor haar werk as voormalige Openbare Beskermer te deel. Sy het die belang daarvan onderstreep om die steun van ander te werf wanneer nuwe ondernemings aangepak word of wanneer daar struikelblokke op die pad verskyn, veral in die werksplek. “In hierdie lewe moet jy net volhou om te doen wat jy glo reg is. Jy moet doen waarvan jy hou. Jy moet glo in jou vermoë om te bereik wat reg is, en jy moet jou geloof in die menslike natuur behou."

Madelein Kleyn het vroue aangespoor om meer betrokke te raak by tegnologie of instansies wat daardie geleenthede bied. Jare gelede, toe sy by Sasol werksaam was, het Kleyn die eerste departement vir intellektuele eiendom by die chemiese maatskappy ingestel en aangevoer, iets wat volgens haar nooit sou gebeur het as sy nie op die uitkyk was vir nuwe geleenthede en innovasie nie.

“Innovasie gaan nie alleen oor die skep van buitengewone, wonderlike tegnologieë nie, maar ook om 'n interessante omgewing in te rig waar jy leef, en om geleenthede te skep vir diegene wat dit nie het nie. My motto in die lewe is dat jy nooit te belangrik is om enigiets te doen of enigiets te waag nie. As jy selfgenoegsaam raak oor wie jy is, wat jy kan doen of wat jy kan bereik, sal jy nooit iets groters kan vermag nie," sê Kleyn.

Anna-Mart Engelbrecht het Innovus se rol by die US beklemtoon en gesê dit help die Fakulteit Natuurwetenskappe met idees om kreatiwiteit aan te wakker. Sy het bygevoeg dat Fisiologiese Wetenskappe werk aan 'n toestel waarmee kanker vroeër by pasiënte opgespoor kan word. “Ons hoop dat ons hierdie toestel ook na die verre plattelandse gebiede sal kan neem."

In haar aanbieding het Jetane Charsley van NIPMO verwys na die belang van Innovator Africa. Volgens haar is Innovator Africa 'n belangrike vrouekragspan wat tegnologie gebruik om vroue en jong meisies te bemagtig en te verseker dat vroulike persone in Afrika op die voorpunt van tegnologie staan. ​

  • Fotograaf: Anton Jordaan