Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Neurologie-opleiding nóú makliker danksy nuwe video-fasiliteit
Outeur: Carine Visagie
Gepubliseer: 30/04/2018

Met behulp van befondsing wat deur die Universiteit Stellenbosch (US) se Fonds vir Innovasie en Navorsing in Leer en Onderrig (FINLO) beskikbaar gestel is, word video-fasiliteite vir afstandsonderrig in neurologie by drie kliniese leersentrums in die Wes-Kaap geïmplementeer.

Die doel van die projek is om aanlyn-tutoriale, navorsing en beter samewerking tussen die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) en die kliniese platform te bewerkstellig, met die uiteindelike doel om pasiënte beter te versorg.

Dis SUNStream-geïntegreerde platform – wat van 'n slim-TV, die Adobe Connect-toepassing, 'n webkamera asook 'n koordlose sleutelbord en muis gebruik maak – sal by Khayelitsha-hospitaal, Worcester-hospitaal en Ceres-hospitaal gebruik word. Studente aan die US ontvang tans onderrig by hierdie drie hospitale. Die navorsingsarm van die projek poog om vas te stel hoe die studente die leerervarings beleef en of hulle die video-fasiliteit nuttig vind, al dan nie.

“Die projek spruit uit die feit dat ons vir finale-jaar mediese studente tutoriale aanbied en dat studente van Khayelitsha-hospitaal na Tygerberg-hospitaal moet terugkeer om die sessies by te woon," sê prof Jonathan Carr, hoof van die Afdeling Neurologie by FGGW en hoof-navorser op die projek. Die videokonferensie-fasiliteit sal beteken dat die studente ook aan die tutoriale kan deelneem wanneer hulle by ander hospitale onderrig ontvang.

Die hospitale wat by die projek betrokke is, is weens historiese redes gekies. “Die Afdeling Neurologie en Worcester-hospitaal loop reeds 'n lang pad saam, en ek wil al vir 'n geruime tyd video-fasiliteite híér implementeer," sê Carr. “As deel van ons onderrig-platform, bied ons tutoriale in basiese neurologiese assesserings vir mediese studente in hulle finale jaar aan. Hierdie tutoriale vind by die pasiënte in die hospitaal plaas. Dit voel dus baie toepaslik om dieselfde tutoriale vir studente wat nie by Tygerberg-hospitaal kan uitkom nie, aan te bied."

Die studente word na Khayelitsha en ander gemeenskapshospitale en -klinieke gestuur as deel van die FGGW se gemeenskapsgebaseerde opleidingsinisiatief wat studente in staat stel om opleiding te ontvang in dieselfde omgewings as waar hulle eendag sal werk. “Hulle vorm steeds deel van die finale-jaar intern-groep," voeg Carr by. “Net soos baie ander studente, is hulle soms angstig oor neurologie en dus gretig om soveel as moontlik onderrig te ontvang."

Die projek sal uiteindelik baie geld en tyd spaar. “Ons behoort vervoerkostes te sny en die studente sal ook tyd spaar deur nie heen en weer tussen Tygerberg en Khayelitsha te reis nie. Ons behoort ook te kan demonstreer dat dit moontlik is om tutoriale by pasiënte se beddens in Worcester te kan aanbied," sê Carr.

Dr Francois Coetzee, programkoördineerder by die US se Landelike Kliniese Skool in Worcester, het onlangs by die program aangesluit en aanbeveel dat die fasiliteit ook by Ceres-hospitaal geïmplementeer word.

“Die SUNStream-platform het die voordeel dat video-stroming met 'n baie lae bandwydte gedoen kan word. Die tegnologie kan ook met verskillende toestelle, byvoorbeeld rekenaars, selfone en slim-TV's gebruik word," sê Coetzee. “Die hoop is dat die neurologie-opleiding uiteindelik tot minder en meer toepaslike verwysings na sekondêre en tersiêre fasiliteite sal aanleiding gee."

Onderskrif: Prof Jonathan Carr, hoof van die Afdeling Neurologie by Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe by die Universiteit Stellenbosch.

Foto: Damien Schumann