Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hoe #US99 lewens verander het
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 21/02/2018

“Lewensveranderend", “dankbaar" en “nog onwerklik". Dit is hoe 'n paar gegradueerdes van die Universiteit Stellenbosch (US) onlangs hulle gevoel beskryf het toe hulle gehoor het die volle uitstaande bedrag van hulle studieskuld gaan vereffen word deur die ruimhartige skenkers wat tot die Universiteit se #US99-fondsinsamelingsveldtog op die vooraand van die Eeufeesviering bygedra het.

Die veldtog wat daarop gemik is om studenteskuld te verlig, is vroeër vanjaar van stapel gestuur met 'n teiken van slegs R99 999, maar hierdie teiken is daarna tot R999 999 opgestoot ná ruimskootse steun van personeel, alumni, skenkers en vriende van die Universiteit.

“Ek het dit nie verwag nie. Om een van die ontvangers te wees, is 'n absolute voorreg en eer. Daar is so baie mense wat dit nodig het, maar ek het dit gekry, en ek dank die Here vir hierdie geleentheid," sê Lebo Komane, wat in die US se Desember 2017-gradeplegtigheidsweek 'n BCom-graad ontvang het.

“Dit beteken oneindig baie vir my gesin. My ouers moet vir my en my twee jonger broers voorsien – een is nog op skool en die ander een is ook op universiteit. Om die waarheid te sê, ek weet nie hoe hulle my vir vier jaar onderhou het nie. Hulle het al soveel opgeoffer."

Lebo sien nou veral uit na haar nuwe werk in Johannesburg terwyl sy deeltyds gaan studeer. Sy voeg by dat haar doenlys 'n besoek aan die Verenigde Koninkryk insluit, waar sy hoop om meer ervaring van die handelswêreld op te doen. Sy is egter vasbeslote om op haar beurt in haar gemeenskap terug te ploeg en 'n verskil in ander se lewe te maak.

Vir die ontvanger Chantal Lemmetjies voel dit steeds soos 'n ongelooflike droom. “My ma kon dit ook nie glo nie. Nadat hulle soveel jare die geweldige studieskuldlas moes dra, was die vrygewigheid van vreemdelinge vir hulle ondenkbaar."

Chantal sê haar gesin het werklik finansieel gesukkel en was gedurig bekommerd oor waar die geld vandaan sou kom. “So, aan die skenkers – namens my en my gesin – dankie, dit beteken ontsettend baie om skuldvry te kan wees. Dalk besef julle nie hoe groot die verskil is wat julle maak nie, maar glo my, julle verander lewens ten goede."

Chantal het in Desember haar BSc-graad in Voedselwetenskap behaal en sê sy beplan om 'n gehaltebestuurder te word en hand by te sit met die Wes-Kaapse waterkrisis. “Ek wil terugploeg en 'n verskil maak in die samelewing, en ek wil ander mense help om hulle drome te verwesenlik."

Vincent Witbooi, wat nou 'n gesogte graad in ingenieurswese het, onthou dat hy by sy gradeplegtigheid gehoor het hoe die Rektor oor die #US99-veldtog praat en gewonder het of die opgerolde stuk papier wat hy ontvang 'n graadsertifikaat of 'n faktuur vir die finale uitstaande saldo sou wees. “Ek het die faktuur gekry. Die NSFAS het nie die oorblywende saldo op my studenterekening betaal nie, maar ek moes kalm bly – my ouers het van ver af gekom om vir my gradeplegtigheid op kampus te wees en ek wou nie die oomblik vir hulle bederf nie. Ek het oor die situasie gebid en die Here het die #US99-skenkers op my pad geplaas, nie net om my studenterekeningskuld uit te wis nie, maar ook om gemoedsrus en 'n gelukkige, spanningsvrye feesseisoen te verseker."

En wat beteken dit vir Vincent en sy gesin om skuldvry te wees? “Dit beteken dat ek vroeg in my loopbaan kan help om my ouers en ouma se lewe te verbeter noudat ek nie heeltyd skuld in my agterkop het nie," voeg hy by.

Vincent werk tans by Eskom en beplan om die beste te maak van die geleenthede in die maatskappy en later vir 'n MBA-graad in te skryf. Sy langtermyndoelwit is om in sy gemeenskap terug te ploeg en ander hulpbehoewendes by te staan deur die goedheid wat aan hom betoon is, met goedheid te beantwoord.

Davina Mac Donald sê sy kon die goeie nuus nie dadelik verwerk nie en moes haarself 'n paar keer knyp. “Vir my was dit net te goed om waar te wees." Toe die nuus eers ingesink het, kon sy haar egter behoorlik aan dié “wonderwerk" verlustig.

“Dit is ongelooflik. My gesin het heelwat finansiële probleme ervaar in die drie jaar wat ek op universiteit was en ek kon sien hoe die nuus wat ons ontvang het die las van hulle skouers laat verdwyn. Ons kry die kans om 'n behoorlike Kersfees te vier en dit help my ouers om my kleinboet se skoolgeld vir 2018 met minder moeite te betaal."

Davina sê sy gaan eers 'n blaaskans vat om haar in die wêreld van werk te vestig voor sy verder gaan studeer. Sy wil uiteindelik graag 'n PhD-graad in Biochemie behaal en meer effektiewe maniere probeer vind om kanker en outo-immuunsiektes by kinders te behandel, met die fokus op lupus en leukemie.