Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
100% Stellenbosch’ wys dorp as teaterstuk
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 21/02/2018

Almal weet waar die Eikestad met al sy teenstrydighede tussen die Bolandse berge lê, maar hoe dink, voel en hoop Stellenbosch?

As deel van die Universiteit Stellenbosch (US) se herdenking van sy Eeufees, word die interaktiewe teaterstuk 100% Stellenbosch deur die US Woordfees aangebied. In hierdie produksie word vele vrae oor Stellenbosch en sy inwoners beantwoord.

Die US Woordfees vorm deel van die Universiteit se Afdeling Sosiale Impak, en word jaarliks sedert 2000 in Stellenbosch gehou. Die fees skop op Vrydag 2 Maart af, maar 100% Stellenbosch word reeds hierdie naweek, 23 tot 25 Februarie, by die nuutopgeknapte HB Thom-teater op die planke gebring.

Die teaterstuk 100% Stellenbosch word deur die US Woordfees in ko-produksie met die Berlynse teatergroep Rimini Protokoll vervaardig, wat soortgelyke projekte al in 34 stede wêreldwyd aangebied het – onder meer Berlyn, São Paulo, Londen en Melbourne.

100% Stellenbosch werk só: Eenhonderd deelnemers word gekies, wat 1% van die Stellenbosse bevolking en demografie verteenwoordig. Volgens die 2011-sensus is 51% van Stellenbosch se inwoners vroulik en 49% manlik, en daarom is 51 van die deelnemers vroulik en 49 manlik.

Tydens die vertoning kom die 100 deelnemers op ʼn ronde verhoog byeen – dit stel ʼn sirkelgrafiek voor. Die verhoog word met beligting in segmente verdeel.

Vrae oor ʼn groot verskeidenheid kwessies word dan gestel en die deelnemers beweeg telkens na die deel van die verhoog wat by hul siening pas. ʼn Video van die verhoog word gedurende die vertoning van bo geneem en op ʼn muur geprojekteer sodat die gehoor kan sien hoe die “sirkelgrafiek" verander. Die resultaat is ʼn fassinerende blik in Stellenbosch se vele koppe en harte.

Elke persoon op die verhoog bring ʼn voorwerp saam wat hulle op die een of ander manier verteenwoordig – iets wat vir hulle belangrik is.

Deur die loop van die vertoning sal vrywillige sprekers ook stories oor hulself en hul blyplek met die gehoor deel.

Slegs drie vertonings van 100% Stellenbosch word in die HB Thom-teater aangebied: op Vrydag 23, Saterdag 24 en Sondag 25 Februarie, telkens om 19:30. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.