Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SciMathUS verander lewens ten goede
Outeur: Rozanne Engel / Corporate Communication
Gepubliseer: 20/02/2018

​​

Meer as duisend studente het sedert 2001 die SciMathUS-program (Wetenskap en Wiskunde aan Universiteit Stellenbosch) suksesvol afgelê.

Die program word jaarliks deur die Universiteit Stellenbosch (US) se Sentrum vir Pedagogiek (SUNSEP) vir honderde studente uit agtergestelde opvoedkundige agtergronde regoor die land aangebied.  Suksesvolle aflegging daarvan bied aan hulle toeganklikheid, asook 'n tweede geleentheid om vir hoër onderwys te kwalifiseer.  Sukses met dié program bring dan mee dat hulle 'n tweede geleentheid gebied word om vir hoër onderwys te kwalifiseer.

Talle van dié studente loop ander graadprogramme aan die Universiteit Stellenbosch (US) na voltooiing van die SciMathUS-program – sommige byt selfs vas en verwerf 'n doktorsgraad!

'n Oorkoepelende begeerte heers in die geledere van SciMathUS-studente om hulle lewens te verbeter en drome te verwesenlik, en die noodsaaklike vaardighede en kennis wat die US hul mee toegerus het, in hul plaaslike gemeenskappe terug te ploeg.

 

Elvin Hendricks

“Indien dit nie vir die SciMathUS-program was nie, sou ek nooit die geleentheid gehad het om my tersiêre opleiding te verbeter nie, of om waardevolle selfdissipline aan te leer en in staat te gewees het om sosiale invloed op my plaaslike gemeenskap uit te oefen, waar ek nog boonop ook die geleentheid het om Wiskunde aan ander voorheen benadeelde leerders te doseer," sê Elvin Hendricks, wat die SciMathUS-program in 2012 suksesvol afgelê het.

Elvin Hendricks (2).jpg

Hendricks, wat van Stellenbosch afkomstig is, het moeilike kinderjare beleef. Met geen ouerlike onderskraging nie, moes sy ouma en ander familielede help om hom groot te maak. Met sy ouma se afsterwe in 2006, toe hy nog maar 'n leerder in Graad 7 was, het sy omstandighede versleg en dit was so hittete of hy moes die skool verlaat. Hy is geen ander keuse gelaat as om by familielede in Gugulethu, buite Kaapstad, te gaan inwoon nie, vanwaar hy daagliks na sy hoër skool in Heideveld op die Kaapse Vlakte moes reis. Leerkragte aan dié skool het met verloop van tyd van sy benarde posisie bewus geword en hom toe gehelp om nader aan die skool verblyf te bekom, wat baie daartoe bygedra het dat hy beter op sy studies kon fokus.

Hendricks vertel: “Onderwyl ek opgegroei het, is ek genoodsaak om dikwels van skool te verwissel.  Ek het veral met my sekondêre opleiding swaar getrek aangesien ek twee keer van skool moes verwissel voordat ek oplaas in 2011 Matriek aan Heideveld Senior Sekondêr geslaag het. Ek was net te dankbaar om die vertroue en ondersteuning van een van my leerkragte daar, mev Whilma Witbooi, te geniet, wat my nie alleenlik met my studies bygestaan het nie, maar ook dikwels vir my toiletware en skoolklere gekoop het."

Hendricks het in 2012, toe hy op sy Matriekuitslae gewag het, van die SciMathUS-program te hore gekom. Na Matriek, het hy teruggetrek Stellenbosch toe waar 'n vrou in sy woonbuurt hom na 'n plaaslike pastoor verwys het wat hom met US-personeellede in verbinding gestel het.

Hendricks se Matriekuitslae was ongelukkig van so 'n aard dat hy nie universiteitstoelating kon bekom nie. Bovermelde pastoor het hom toe na prof Charl Cilliers verwys wat destyds direkteur van die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling was. Nadat Cilliers hom geassesseer het, het hy aanbeveel dat Hendricks aansoek doen om toelating tot die SciMathUS-program. Nadat hy dié program in 2012 suksesvol voltooi het, het hy in die volgende jaar as Matiestudent geregistreer en in 2016 die graad BEd (Opvoedkunde) ingepalm.

Hendricks is op die oomblik 'n leerkrag in Wiskunde, Natuurwetenskap en Fisiese Wetenskap aan die Hoërskool Scottsville in Kraaifontein. Hy sê hy geniet dit om aan leerders uit dieselfde agtergrond as hy terug te ploeg.

Hy voeg by: “Ek is gelukkig dat ek op een of ander wyse 'n verskil kan maak. Wanneer ek terugdink aan my tyd in die SciMathUS-program, besef ek dat ek nie net heelwat geleer het nie, maar dit ook deeglik geniet het. Daar het so vele deure vir my oopgegaan en ek het 'n positiewe en opbeurende ondervinding meegemaak wat my die res van my lewe sal bybly."

 

Fundeka Ndyoki

Soos Hendricks, het Fundeka Ndyoki ook moeilike tye beleef voordat sy die SciMathUS-program in 2009 suksesvol afgelê het.

Ndyoki is op 'n klein dorpie naby Mthatha in Oos-Kaapland gebore. Haar pa het 'n klein taxi-onderneming besit, maar die gesin is in 2002 genoop om Kaapstad toe te verhuis as gevolg van onderlinge onmin tussen taxi-eienaars in die gebied waar hulle gewoon het.  Hulle het daarin geslaag om 'n klein woonhuis in Khayelitsha, naby Kaapstad, te bekom waar sewe van hulle toe saamgewoon het.  Hulle het 'n karige bestaan gevoer en albei haar ouers was werkloos.  Ndyoki het eers by haar ouers in Kaapstad aangesluit nadat sy Graad ses in Mthatha voltooi het. Ondanks die moeilike omstandighede, het Ndyoki volhard en Matriek in 2008 aan die Glendale Sekondêre Skool in Mitchellsplein geslaag.

Fundeka (2).jpg

Ndyoki sê sy was baie benoud en bekommerd om Stellenbosch toe te gaan om by die SciMathUS-program aan te sluit. Sy stel dit so: “Ek het nie eers geweet waar Stellenbosch is nie. Aanvanklik het ek gevoel ek herhaal Matriek, maar toe besef ek hierdie is my kans om my Wiskunde en Natuurwetenskap-punte te verbeter. En uiteindelik blyk dit toe een van die beste jare van my lewe te wees."

Na haar sukses met die SciMathUS-program, is Ndyoki by die US vir BSc (Voedselwetenskap) aanvaar. In 2012 moes sy ongelukkig weens 'n gebrek aan fondse en omdat sy swanger was, tou opgooi. Sy het verkies om na haar baba, 'n dogtertjie wat in 2012 gebore is, om te sien en het in 2014 na die US teruggekeer om haar studies te voltooi. Die grad BSc in Voedselwetenskap is in Desember 2015 aan haar toegeken.

Ndyoki sê: “Dit was maar 'n stamperige reis en ek het so byna-byna tou opgegooi, maar met die liefde en ondersteuning van my ouers en my vasberadenheid om vir my kind 'n rooskleuriger toekoms te skep, het ek besef ek moet deurdruk. SciMathUS was die begin van alles.  Dit bied jou 'n tweede geleentheid vir alles."

Ndyoki behaal in Maart vanjaar 'n M-graad in Voedselwetenskap aan die US. Sy het onlangs na Mpumalanga verhuis waar sy tans die pos van Senior Toesighouer by die wild-slagpale van die Nasionale Krugerwildtuin beklee.


Avukile Khupiso

Avukile Khupiso het die eerste keer in 2014 van die SciMathUS-program verneem toe sy poging om toelating tot die graad BRek aan die US weens swak Matriekuitslae onsuksesvol was. Khupiso het dié verpletterende nuus ontvang pas nadat hy van sy tuisdorp, Plettenbergbaai, na Stellenbosch gereis het. Sy ouers het hom aangeraai om huis toe te kom, maar hy was so hartgebroke en teleurgesteld dat hy geen lus gehad het om huiswaarts te keer nie.

Avukile Khupiso B Acc.jpg

Nadat hy van die SciMathUS-program verneem het, het hy aansoek om toelating gedoen en is uit meer as 600 aansoekers gekeur. Hy het die program in 2014 suksesvol voltooi.

Khupiso sê: “SciMathUS het my die geleentheid gebied om my punte te verbeter en te studeer wat ek altyd wou. Deur middel van dié program het 'n klomp van ons die eerste keer ondervinding oor rekenaars en ander tegnologieë op kampus opgedoen. Die SciMathUS-program het ons ook toeganklikheid tot die lewe op universiteit gebied, waar ons oor verantwoordelikheid moes leer en om buite die boks te dink."

Khupiso sê sy gesin is uiters trots op wat hy reeds bereik het. En voeg hy by: “Hulle het nooit Matriek voltooi nie, dus is my onderwys- en loopbaansukses vir hulle 'n saak van enorme belang. Een van die redes waarom ek teruggetrek het huis toe was om hulle te help en te ondersteun."

Khupiso het deur middel van die SciMathUS-program daarin geslaag om sy punte vir Wiskunde van 44% tot 81% te verbeter. Hy is in 2015 tot die BRek-program toegelaat en het dit in 2017 suksesvol voltooi. Hy werk tans as rekenmeester vir VPM Survey op Knysna.​

Fotos: Verskaf van SciMathUS