Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
“Jy kweek nie rose in beton nie" sê voorste kenner van maatskaplike werk
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 19/02/2018

Studente, personeel en maatskaplike werk-praktisyns het Donderdag by die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe saamgetrek om te luister na prof Eileen Munro, ʼn maatskaplike werker en akademikus gefokus op kinderbeskerming in die Verenigde Koninkryk. Sy het ʼn praatjie aangebied waarin sy haar gedagtes gedeel het oor die rol van maatskaplike werk in kinderbeskerming en hoe maatskaplike werkers hul vaardighede in hierdie veld kan ontwikkel. Tydens haar praatjie het Munro kindermishandeling en ‑verwaarlosing bespreek, hoe kinderbeskermingsdienste inpas in wyer kulturele verhoudings tussen kinders, ouers, die gemeenskap en die staat, en hoe om kundigheid in maatskaplike werk te ontwikkel.

Munro is bekend weens ʼn onafhanklike oorsig wat sy in 2010 uitgevoer het om kinderbeskerming in die Verenigde Koninkryk te verbeter. In Junie 2010 het die Britse Minister van Opvoeding, Michael Gove, Munro aangestel om die oorsig uit te voer en die finale verslag is in Mei 2011 voorgelê aan die Britse parlement. Dit het verskeie belangrike aanbevelings gemaak, die meeste waarvan daarna deur die Britse regering aanvaar is. Vandag word hierdie verslag en sy aanbevelings deur vele geleerdes en beleid-formuleerders wêreldwyd as verwysingsbasis gebruik

“Haar werk word benut en bestudeer deur ons maatskaplike werk-studente en word in ons navorsing aangewend. Maatskaplike werk word beïnvloed deur sosio-ekonomiese politieke kragte wat toewyding tot maatskaplike geregtigheid uitdaag," het prof Lambert Engelbrecht, voorsitter van die Departement Maatskaplike Werk, gesê. “ʼn Neoliberale diskoers het maatskaplike werk en die opleiding van maatskaplike werkers aan universiteite wêreldwyd geïnfiltreer, ook in Suid-Afrika. Die impak is dikwels nie ooglopend nie, maar blyk uit ʼn klem op bestuur, bemarking, verminderde professionaliteit en verbruikersgerigtheid. Kritiek op die impak van ʼn neoliberale diskoers op maatskaplike werk en opleiding was aanvanklik beperk tot akademiese kringe. Hierdie departementele colloquium dien as ʼn waarskuwing aan die maatskaplike werk-beroep om bewus te wees van neoliberale implikasies, en om sy man te staan in ʼn onbestendige wêreld. Die besoek van prof. Munro aan ons Departement en haar insiggewende lesing demonstreer verder die noodsaaklike en leidende rol wat maatskaplike werkers in die gemeenskap speel,"

Munro se praatjie vorm deel van die eeufeesvieringsprogram gereël deur die Departement Maatskaplike Werk vir 2018.

“My besoek aan Suid-Afrika het my die geleentheid gegee om meer te leer oor wat in Suid-Afrika plaasvind wat betref kinderbeskerming, so daar was heelwat bespreking, eerder as wat dit ʼn lesing was," sê Munro, wat professor van Maatskaplike Beleid is in dié departement aan die London School of Economics and Political Science.

Munro was voorheen oorgangsvoorsitter van die Kollege vir Maatskaplike Werk se Kinderfakulteit in Engeland. Sy is ʼn lid van ʼn projek oor 'Kennisbenutting' aan die Durham Universiteit, befonds deur die Europese Navorsingsraad (ERC). In 2001 is ʼn CBE aan haar toegeken deur die Britse Koningin, ʼn eer wat aan individue toegeken word wat ʼn leidende rol speel in die gemeenskap.

“Fisieke mishandeling was een van die eerste vorme van mishandeling wat in die Verenigde Koninkryk erken is en seksuele misbruik eers later. Verwaarlosing was egter moeiliker om te bewys, want jy kan die liefdevolste ouers hê, maar as hulle arm is en nie in staat is om vir hulle kinders te voorsien nie, hoe kan jy realisties van hulle verwag om dit te doen," het Munro tydens haar praatjie opgemerk.

Dit is ook waar van Suid-Afrika, waar die kindertoelae R420 per maand is en die fokus in maatskaplike werk is om die individuele kind te help, eerder as die gesin as ʼn eenheid. Dit, sê baie maatskaplike werkers, maak dit moeilik om ʼn impak te hê om die gesin te verander en die huislike lewe van die kind te verbeter.

Sielkundige mishandeling is nie erken tot sowat 30 jaar gelede nie en selfs vandag is dit moeiliker om te bewys, maar dit is beslis die verwoestendste.

“Dit is egter bemoedigend om te sien dat ons beskerming van kinders en die kwaliteit van lewe van kinders toeneem, maar dan wonder ʼn mens net wanneer kinderverwaarlosing en ‑mishandeling nie meer in die gemeenskap teenwoordig sal wees nie."

Munro het haar loopbaan op die grond begin as maatskaplike werker by ʼn psigiatriese hospitaal. Sy het ʼn agtergrond in filosofie en maatskaplike werk en het haar navorsing toegespits op redenasievaardighede by kinderbeskerming. Dit het gelei tot ʼn belangstelling in hoe organisasie-kultuur die kwaliteit van redenasie en praktyk bevorder of benadeel.

“Ek het dit baie geniet om direk met gesinne te werk, maar het my aanvanklike besluit geneem om terug te keer na akademiese studie toe ek my eerste kind verwag het. Dit het veroorsaak dat ek my loopbaanplanne hersien het, en besef het hoe gefassineerd ek was deur die uiteenlopende sienings oor hoe om kundigheid in maatskaplike werk te verbeter," sê Munro.

“Ek het in ʼn psigiatriese hospitaal gewerk waar ek kragtige argumente tussen dokters gehoor het, wat gemeen het dat geestessiekte te wyte is aan fisiese en neurologiese probleme, onbewuste prosesse of aangeleerde gedrag. Ek was natuurlik beïnvloed deur my eerste graad in filosofie en die verskillende oogpunte in die debat het my geïnteresseer.

“Dit was natuurlik makliker om my ouerlike verantwoordelikhede uit te voer tydens studie eerder as in die praktyk. Ek het die praktyk gemis en was hartseer daaroor, maar het besef dat my hart in akademiese studie lê," voeg sy by.

Terwyl Munro aanvanklike filosofie bestudeer het, was haar PhD studies in maatskaplike werk. Haar uitgebreide kennis het aanleiding gegee tot die publikasie van ʼn aantal boeke en verskeie artikels in vaktydskrifte oor kinderbeskerming. Deur die jare het haar navorsing gefokus op, onder andere, vermybare en onvermydelike foute in kinderbeskermingswerk, algemene redenasiefoute in kinderbeskermingswerk, die verdediging van professionele maatskaplike werk-praktyk, effektiewe kinderbeskerming, en die integrasie van intuïsie en analise in kinderbeskerming.

“Ek het ʼn belangstelling in hoe ons kennis opdoen en ontwikkel. As maatskaplike werker is ek besorg oor hoe akkuraat ek families se probleme verstaan en hoe goed ek hulle kan help. Aanvanklik het my werk gefokus op individue, maar, uit my ondervinding met kinderbeskermingsdienste in verskeie lande, het ek later besef hoeveel individuele werkers gehelp of belemmer kan word deur hul werkplek. ʼn Onlangse verslag wat ek geskryf het oor werksverbetering in Engeland is getitel 'You can't grow roses in concrete', om aan te dui hoeveel kere mense probeer om die vaardighede van maatskaplike werkers (rose) te verbeter, maar hulle laat in dieselfde omstandighede (beton) wat dit vir hulle moeilik maak om hul nuwe kundigheid toe te pas, sodat dit uiteindelik onderdruk word," sê Munro.

“Filosofie het my ook daartoe gelei om krities te wees van die bewys-gebaseerde praktykbeweging. Ek is nie seker hoe bekend dit in Suid-Afrika is nie, maar daar is ʼn toenemende aantal agentskappe (veral in die VSA) wat 'bewysgebaseerde intervensies' verkoop, maar, na my mening, besef hulle nie dat kulturele diversiteit beteken jy kan nie net ʼn diens van een kultuur na ʼn ander oordra op die manier wat jy redelikerwys sal verwag dat antibiotika op dieselfde wyse oor verskillende kulture sal werk nie."

Foto: Prof Eileen Munro, ʼn maatskaplike werker en akademikus wat fokus op redenasievaardighede by kinderbeskerming, het die Universiteit Stellenbosch Donderdag besoek om haar kundigheid oor dié veld te deel. By haar is prof Lambert Engelbrecht, voorsitter van die Departement Maatskaplike Werk, en dr Marianne Strydom, lektor in die departement, wat spesialiseer in kinderbeskerming. (Lynne Rippenaar-Moses)