Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Legendariese Matie-akademikus professor Sampie Terreblanche oorlede
Outeur: Ronel Beukes
Gepubliseer: 18/02/2018

​Die legendariese Matie-dosent en politieke ekononoom prof Sampie Terreblanche (84) is Saterdag aan breinkanker dood.

Prof Sampie Terreblanche se naam is sinoniem met die geskiedenis van die Departement Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch. Met sy uittrede aan die einde van 2011 het prof Sampie 'n ononderbroke loopbaan van 54 jaar as ekonomiedosent afgesluit.

Hierbenewens het hy bekendheid verwerf vir sy betrokkenheid by partypolitiek. Nadat hy in 1987 uit die voormalige Nasionale Party bedank het, het hy een van dié party se felste kritici geword. Hy was stigterslid van die toenmalige Demokratiese Party en dié party se eerste ekonomiese adviseur. Talryke boeke, waaronder History of Inequality in South Africa, 1652 – 2002, en hoofstukke in boeke, artikels en koerantartikels het uit sy pen gevloei. Hy het deurentyd in kommissies en rade gedien en is só by Suid-Afrikaanse beleidmaking betrek.

Prof Terreblanche het ook verskeie eerbewyse ontvang vir sy lewenslange bydrae tot ekonomie as studieveld en die leidende rol wat hy gespeel het om ons begrip van die politieke ekonomie en ekonomiese geskiedenis van Suid-Afrika te verdiep. Dit sluit 'n eregraad van US in.

In sy huldeblyk aan prof Terreblanche het die waarnemende dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, prof Johan Malan, gesê: "Die Fakulteit wil graag prof Sampie se bydrae as eerbiedwaardige modelfiguur en denkleier uit ons eie geledere erken, en ons dankbaarheid betuig vir die wyse waarop hy bygedra het tot ons gemeenskaplike sosio-politieke kentering."

Op 'n webtuiste wat aan prof Sampie opgedra is, skryf sy dogter, Christelle Terreblanche: “Sy progressie van Afrikaner-nasionalis tot voorstander van dié party se ontbinding, tot 'n ANC-ondersteuner, tot 'n heftige kritikus van die heersende party, was beslis skouspelagtig en dikwels dramaties.

"Maar elke stap in sy vyftig jaar as openbare intellektueel en politieke ekonoom is voorafgegaan deur ernstige gewetensondersoek en intense besprekings met sy nabye vriende en familie oor hoe om die algemene belang die beste te dien.

"Sampie kan uiteindelik onthou word dat hy vreesloos die waarheid verkondig het aan diegene wat mag het, en dat hy 'n openbare intellektueel was wat Suid-Afrika gedurende apartheid en daarná voortdurend herinner het aan die onregverdigheid wat eie is aan ekonomiese ongelykheid."