Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#US99-veldtog samel R1 miljoen in om studieskuld te verlig
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 15/02/2018

Die Universiteit Stellenbosch (US) se voor-eeufeesfondsinsamelingsveldtog, #US99, wat daarop gemik was om studieskuld te verlig, het sy aanvanklike teiken van R99 999 en sy daaropvolgende teiken van R999 999 oortref. Hierdie nuus het die feesgety sommer ekstra aangenaam gemaak vir ʼn paar studente wie se studieskuld afbetaal is danksy vrygewige skenkers.

"Ná 99 dae het die #US99-veldtog alle verwagtinge oortref," het me Karen Bruns, Senior Direkteur van Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge, aan die US gesê. "Danksy vrygewige bydraes het ons toe ons teiken oortref en R1 miljoen ingesamel."

Hierdie inisiatief, gedryf deur Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge, is op 20 September 2017 bekendgestel om die aandag op die US se 2018 Eeufeesjaar te vestig en om studieskuld te help verlig. Die aanvanklike teiken was R99 999, maar soos wat die veldtog momentum gekry het, is die teiken na R999 999 verhoog.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het in sy persoonlike hoedanigheid meer as R9 000 tot die veldtog bygedra. "Die #US99-veldtog is 'n pragtige voorbeeld van die krag van ons skenkers wat saamspan om 'n waardige saak te ondersteun," het prof de Villiers gesê. "Van die personeel en studente wat geld in die bokse op kampus gegooi het, alumni wat bydraes aanlyn gemaak het, tot groot skenkers wat hul steun verder uitgebrei het – so word die missie van die Universiteit Stellenbosch versterk deur ons vriende en vennote."

Cheryl Benadie, Bestuurder: Skenker-betrekkinge by DAR, het die rasionaal agter die fokus om studieskuld te verlig verduidelik. "Ons eerstegenerasie studente studeer om eerstegenerasie beroepslui te word. Die las van skuld op hierdie individue wat reeds beperkte maatskaplike en ekonomiese ondersteuning het, kan oorweldigend wees.

"Dink wat dit jou gekos het om jou professionele lewe te begin. Jy moes 'n motor en 'n blyplek kry en gewoond raak aan nuwe uitgawes wat met volwassenheid kom. Voeg daarby die realiteit van studieskuld, en daar is 'n skaduwee oor 'n gegradueerde se blink toekoms," het sy gesê.

Me Bruns het bygevoeg: "Alhoewel die Universiteit alles in sy vermoeë doen om "missing middle" en eerstegenerasiestudente te ondersteun, is elke student uiteindelik self verantwoordelik vir enige uitstaande studieskuld. In sommige gevalle sal 'n student verskeie beurse gedurende hul akademiese loopbaan ontvang het, maar nie alle befondsingsondersteuning dek die volle koste van 'n tersiêre program nie. En dit is waar hierdie veldtog inkom, om ons graduandi te help om die volgende fase van hul lewe met selfvertroue aan te pak."

  • Chantal Lemmetjies, Vincent Witbooi en Lebo Komane was onder die eerste gegradueerdes wat gehoor het hul studieskuld is afbetaal. Hier is hulle reaksies: https://goo.gl/ZCJv48https://goo.gl/rmxY9b
  • Foto Onderskrif: Chantal Lemmetjies (middel) vier die goeie nuus saam met Anneke Müller (links) en Cheryl Benadie (regs).