Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Ingenieurstudente uitgedaag om wyer te dink
Outeur: Frieda le Roux
Gepubliseer: 08/12/2017

Dit is nie aldag dat studente in die ingenieurswese uitgedaag word met konsepte wat dalk meer in die Sosiale Wetenskappe tuishoort nie. Maar in die Ing.-kurrikulum van die US is dit wel die geval en is 'n module nl. Komplementêre Studies vir die doel ontwikkel.

Wat aanvanklik vreemd klink is so reg in die kraal van die Universiteit Stellenbosch (US) se doelwit om studente se opleiding en blootstelling so wyd as moontlik te maak – en relevant vir die uitdagings in die samelewing.

Wanneer dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur van Sosiale Impak en Transformasie, en Monica du Toit, Hoof van die Transformasiekantoor, hul plek voor in die klas inneem, is dit om die ingenieurstudente uit te daag om selfs wyer te dink as wat hul dosente van hulle verwag. Die kursus poog om die studente bewus te maak van hul rol in die breër samelewing – as betrokke burgers maar ook as opgeleide ingenieurs met unieke vaardighede wat 'n verskil kan maak.

“In ons klasgesprekke stoei ons met die werklikhede op kampus en op sosiale media en dis veral aan die begin moeilik, maar ons kom ook saam uit by nuwe moontlikhede," sê Monica. “Ek hou daarvan dat ingenieurs in wese 'doeners' is." Sy sê die studente het haar van nuuts af oortuig dat een van ons land se grootste bates, veral as dit kom by broodnodige verandering in ons samelewing, ons ingenieurstudente is. “Hulle het vaardighede om naby aan die ervaringe van mense te leef en kan terselfdertyd innoverend dink oor oplossings."

Vir hul finale werkstuk is die studente in groepe verdeel en gevra om verskillende sosiale uitdagings nuut te bekyk en vars aan te spreek. So het een groep besluit om 'groot data' ('big data') te gebruik om toegang tot inligting te kry wat universele toegang vir gebruikers van geboue en geriewe sal aanhelp. Met 'n toepassing ('app') genaamd Enable kan gebruikers laat weet waar hulle probleme met toegang ondervind. Die inligting op die toepassing, wat met GPS-koördinate werk, is in die openbare domein, waar almal – van gebou-eienaar tot argitek, ingenieur en ander met gestremdhede – dit kan sien en daaruit leer.

Nog 'n groep het besin oor die manier waarop ingenieurs kan help om beter geïntegreerde gemeenskappe te skep. En, het hulle bevind, ingenieurs dink nie altyd oor die breër saak nie, maar wil eerder 'n spesifieke probleem so effektiewe en kostedoeltreffend moontlik oplos. Tog het hul gesprekke tydens die Komplementêre Studies module hulle laat besef dat die fokus – ook vir ingenieurs – die menslike sosiale aspek moet insluit en nie alleen die tegniese vaardigheid nie.

Prof Anton Basson, visedekaan: Onderrig en Gehalte Versekering sê student in die Ingenieursfakulteit word in hul derde en vierde jare aan eietydse gemeenskapsuitdagings blootgestel. “Hierdie modules, wat deur alle ingenieurstudente voltooi moet word, stel ons studente bloot aan die komplekse kwessies wat hulle mee te doen sal kry sodra hulle in die praktyk staan. Ons studente vervul dikwels die rol van leiers en hierdie modules maak hulle meer bewus van die kompleksiteite rondom gender, ras, toegangklikheid en sosiale verantwoordelikheid waarmee leiers gekonfronteer word."

Leslie, wat die kursus al vir vier jaar aanbied, sê dit is deel van die Universiteit se doelstellings om studente volrond toe te rus. “Dit is vir die US belangrik om sy studente toe te rus met die vaardighede en die moontlikhede om 'n impak te maak op verskillende vlakke in ons samelewing. Hierdie spesiaal ontwikkelde kurrikulêre module bied aan alle ingenieurstudente die geleentheid om juis dit te kan doen." Die Fakulteit Ingenieurswese, in samewerking met die Ingenieursraad van SA, gee in hierdie verband die leiding. ​