Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Internasionaal versterk sy rol in hoër onderwys in Afrika
Outeur: Corporate Communications Division
Gepubliseer: 17/11/2017

Universiteit Stellenbosch Internasionaal (US Internasionaal) staan op die punt om sy gevestigde rol in die Afrikahoëronderwyssektor verder te versterk met die amptelike bekendstelling van die Afrikasentrum vir Akademieskap volgende week.

Die US sal ook die bekendstelling van die Afrikasentrum vir Akademieskap op 24 November benut om Afrika-universiteitsdag te vier, wat op 12 November plaasgevind het. Hoëronderwysinstellings vier reeds sedert 2005 jaarliks Afrika-universiteitsdag. Die dag werp die soeklig op die hoër onderwys op die vasteland en dien as platform om oor die vordering, uitdagings en geleenthede van die sektor na te dink. Vanjaar se vieringe sluit 'n Afrika-universiteitsdagdialoog in met prof Jonathan Jansen, uitgelese professor in die US se Fakulteit Opvoedkunde, as hoofspreker. Jansen is ook die voormalige visekanselier en rektor van die Universiteit van die Vrystaat. Hy sal by dié geleentheid gesprekke oor hoër onderwys en akademieskap op die vasteland lei.

Die US beskou hoër onderwys in Afrika as 'n belangrike sektor en werk reeds geruime tyd saam met die Vereniging van Afrika-universiteite (AAU) én universiteite self om die hoër onderwys in Afrika te ontwikkel.

Volgens prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisasie, is 'n belangrike strategiese fokuspunt van die Universiteit om 'n raamwerk vir die US se Afrikavoetspoor buite Suid-Afrikaanse grense te ontwikkel. Hiervoor wil die Universiteit onder meer inisiatiewe vir die ontwikkeling van akademieskap op die vasteland uitbrei deur bestaande vennootskappe te benut óf nuwes te vorm.

Die US se betrokkenheid by inisiatiewe om hoër onderwys in Afrika te bevorder, sluit die volgende in:

• Die Afrikasentrum vir Akademieskap, wat volgende week amptelik bekend gestel word, is op die been gebring om die US se akademiese voetspoor in Afrika te vergroot. Prof Sarah Howie is op 1 Julie 2017 as direkteur van die Sentrum aangestel. Die Sentrum dien as die tuiste van die Afrika Doktorale Akademie (ADA), bestuur die ontwikkeling van 'n kurrikulum intervensies vir die uitbouing van akademieskap, en hou toesig oor die uitvoering daarvan deur middel van die ADA en gesamentlike doktorale skole. Nuwe inisiatiewe sluit in die vestiging van 'n navorsingseenheid wat op die internasionalisasie van die hoër onderwys konsentreer, en meganismes vir die bevordering van Afrika-akademieskap. Verdere IKT-gebaseerde intervensies sal ook ontwikkel word om vermoëbouprogramme vir jong studente buite Suid-Afrika aan te bied.

  • US Internasionaal se Sentrum vir Samewerking in Afrika is in 2016 geskep om die US se Afrikabelange op institusionele vlak te hanteer. Die Sentrum hou toesig oor meer as 400 geregistreerde, aktiewe samewerkingsprojekte met meer as 600 Afrikamedewerkers in meer as 42 Afrikalande. Medewerkers sluit universiteite, departemente, navorsingsentrums en individue op die vasteland in. Die vyf lande met die meeste projekte is Kenia, Botswana, Uganda, Namibië en Nigerië, saam met wie die US tans aan altesaam 300 projekte werk.

Die US het 18 institusionele bilaterale vennootskappe en ses departementele ooreenkomste met 24 hoëronderwysinstellings in Afrika. Mobiliteitstoelaes bied studente en personeel toegang tot uitruilprogramme met hierdie instellings.

•            Afrika Doktorale Akademie (ADA)

Sedert sy totstandkoming in 2009 het die ADA beduidend gegroei, en 2 143 afgevaardigdes – 32% van ander Afrikalande – het sedert 2012 altesaam 141 werksessies by die ADA se somer- en winterskole bygewoon.

In die verslagtydperk het die ADA twee doktorale skole aangebied. Die 406 deelnemers was van uiteenlopende dissiplinêre agtergronde, waaronder heelwat van die agriwetenskappe (19%), ekonomiese en bestuurswetenskappe (16%) en lettere en sosiale wetenskappe (29%).

ADA-somerskool (Januarie 2017): 218 deelnemers met 16 aanbieders (waaronder vier aanbieders van KU Leuven as 'n voortsetting van die voorkeurvennootskap tussen die US en KU Leuven)

ADA-winterskool (Julie 2017): 188 deelnemers met 18 aanbieders (onder meer agt aanbieders van België, Duitsland, Switserland en die Verenigde State)

•            Afrikasamewerkingstoelaag

Die Afrikasamewerkingstoelaag voorsien aanvangsfinansiering vir voltydse US-personeel om akademiese samewerking met een of meer vennote van instellings elders op die vasteland tot stand te bring of te versterk. Meer as 100 sulke toelaes is reeds sedert 2010 toegeken.

•            US-studente van Afrikalande

Altesaam 58% van alle internasionale studente aan die US kom van elders in Afrika. Van die meer as 2 500 studente van 42 Afrikalande kom die meeste van Namibië, Zimbabwe, Nigerië, Zambië en Lesotho. Die US is duidelik 'n gewilde bestemming vir studente van die res van die vasteland, veral vir nagraadse studie.

•            Alliansie vir Afrikanavorsingsuniversiteite (ARUA)

ARUA is in 2015 van stapel gestuur om navorsingsvermoë op die vasteland te bou en hoër onderwys van gehalte te ontwikkel sodat nagraadse opleiding komplekse ekonomiese, maatskaplike en ontwikkelingsprobleme die hoof kan bied. Sestien vennootuniversiteite op die vasteland behoort tot die alliansie. Hulle is soos volg:

1. Universiteit van Lagos, Nigerië

2. Universiteit van Ibadan, Nigerië

3. Obafemi Awolowo-universiteit, lle-Ife, Nigerië

4. Universiteit van Ghana, Ghana

5. Universiteit van Dar es Salaam, Tanzanië

6. Universiteit van Nairobi, Kenia

7. Universiteit van Kaapstad, Suid-Afrika

8. Universiteit van die Witwatersrand, Suid-Afrika

9. Universiteit van Rwanda

10. Universiteit Cheikh Anta Diop, Senegal

11. Makerere-universiteit, Uganda

12. Universiteit Stellenbosch, Suid-Afrika

13. Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika

14. Rhodes-universiteit, Suid-Afrika

15. Universiteit van KwaZulu-Natal, Suid-Afrika

16. Universiteit van Addis Abeba, Ethiopië

​ 

            Bilaterale en multilaterale Afrikavennootskappe

Huidige multilaterale Afrikavennootskappe/-netwerke en hulle fokusgebiede is soos volg:

1.       TRECCAfrica I en II

(Europese Unie-projek vir die Afrika-, Karibiese en Pasifiese streek (“EU Intra-ACP"))             Klimaatsverandering, landbou, natuurwetenskap, voedselwetenskap, ingenieurswese en staatsbestuur. TRECCA 1 bied 65 mobiliteitsgeleenthede. Die US koördineer die konsortium.

2.       SHARE

(“EU Intra-ACP") Vissery, akwakultuur, agro-meteorologie, risikobestuur, landbou- en landelike innovasie, en plantkweking

3.       PAFROID

(“EU Intra-ACP") Ingenieurswese, agriwetenskappe

'n Oorwegend Franssprekende netwerk

4.       AFIMEGQ

(“EU Intra-ACP") Voedselsekerheid, openbare gesondheid, ingenieurswese, omgewingswetenskap en biotegnologie

5.       P4HPT

(“EU Intra-ACP") Gesondheidswetenskappe, openbare gesondheid, verpleegkunde, mediese mikrobiologie, patologie en tandheelkunde

6.       PANGeA

(Funksioneer vanuit Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe)   Die PANGeA-netwerk beoog om navorsingsvermoë te bou. Lede neem deel aan uitruilskemas, werksessies en opleidingseminare wat om die beurt op die sewe vennootkampusse aangebied word, sowel as gesamentlike projekte en PhD-studieleiding in die lettere, geestes- en sosiale wetenskappe.

7.       PERIPERI-U

(Sekretariaat in RADAR) Periperi-U is 'n vennootskap van Afrika-universiteite van oor die hele vasteland en is verbind tot die bou van plaaslike ramprisikoverminderingsvermoë. Hierdie netwerk van 11 Afrikahoëronderwysinstellings bied kortkursusse en graadprogramme in sewe tale aan om sodoende 'n wye verskeidenheid studente en praktisyns op die terrein van ramprisikovermindering te bereik.

8.       RUFORUM

(Sekretariaat in Uganda) Hierdie konsortium met sy klem op landbouwetenskappe bestaan uit 66 Afrikavennootuniversiteite in 26 lande. Die konsortium hou toesig oor nagraadse opleiding en spesialisnetwerke in COMESA (die gemeenskaplike mark vir Oos- en Suider-Afrika) en ondersteun ook die bydrae en welstand van kleinboere, sowel as ekonomiese ontwikkeling van lande in die hele streek suid van die Sahara.

9.       AU/NEPAD SANWATCE

(Sekretariaat in die Sentrum vir Samewerking in Afrika, US Internasionaal) Die AU/NEPAD SANWATCE, 'n netwerk van 11 vennootinstellings in Suider-Afrika en vyf in Wes-Afrika, bring instellings van die vasteland byeen wat gevorderde wetenskaplike navorsing oor water en verbandhoudende aangeleenthede onderneem om sodoende 'n impak te hê. Die netwerk kry sy mandaat van AMCOW (organisasie vir Afrikaministers van water) en AMCOST (organisasie vir Afrikaministers van wetenskap en tegnologie), en behoort tot die Internasionale Waternetwerk, waarvan die sekretariaat by die Universiteit van Brits-Columbië, Kanada, geleë is.

 

​