Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Parasport-atlete kry erkenning op nasionale vlak
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 15/11/2017

Twee Maties Parasport-staatmakers, Ilse Hayes en Dyan Buis, is Sondagaand by die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings as Suid-Afrika se sportvrou en sportman van die jaar met 'n gestremdheid aangewys.

Vir Ilse, wat haar loopbaan van 16 jaar in Julie met 'n silwermedalje in die 200m (T13) by die Wêreld Para-atletiekkampioenskap afgesluit het, is hierdie toekenning die kersie op die koek van 'n fantastiese loopbaan.

“Ek het nooit deelgeneem om trofeë of toekennings te wen nie, maar dit is baie spesiaal om weer hierdie toekenning te ontvang," het sy gesê. Sy het dit al twee keer vantevore ontvang.

“Ek is dankbaar dat ek my loopbaan op 'n hoogtepunt kon afsluit. Ek sou dit egter nie alleen kon doen nie."

Sy het haar man, ouers en uitgebreide familie, afrigter dr. Suzanne Ferreira, spanmaats, Maties Sport, borge en almal wat haar deur die jare ondersteun het, bedank.

Ilse was 11 toe sy in 1996 met Stargardt se siekte gediagnoseer is, 'n toestand wat die sentrale visie en die vermoë om detail te sien, beïnvloed. Sy het in 2001 aan haar eerste internasionale atletiekkompetisie deelgeneem en het onder meer sewe medaljes by vier verskillende Paralimpiese Spele gewen: brons in die 400m in Athene (2004), goud in die verspring en silwer in die 100m in Beijing (2008) en Londen (2012), en silwer in die 100m en 400m in Rio.

Dyan, 'n honneurstudent in die Fakulteit Opvoedkunde wat in Oktober as Maties Sport se Parasport Sportman van die Jaar aangewys is, het gesê dit was 'n lewenslange droom om hierdie toekenning te ontvang.

Hy neem in die klas T38 (serebraal gestremd) deel, en het twee goue medaljes by die Wêreld Para-atletiekkampioenskap gewen – in die 200m en 400m. By die Paralimpiese Spele in Rio verlede jaar het hy goud verower in die 400m en brons in die verspring.

Hy het gesê dit is wonderlik om te weet dat sy harde werk op nasionale vlak erkenning geniet, maar het sy toespraak op die aand as die hoogtepunt beskryf.

In dié toespraak het hy gepleit dat Olimpiese en Paralimpiese atlete gelyke status geniet.

“Ek het ook gevra dat die Suid-Afrikaanse publiek gestremde atlete moet eer vir die sterre en die helde wat hulle is."