Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dekaan se Raadgewende Komitee oor Transformasie – ‘n kort oorsig
Outeur: Prof Jimmy Volmink
Gepubliseer: 15/11/2017

Dekaan se Raadgewende Komitee oor Transformasie – 'n kort oorsig oor vordering


Soos u bewus sal wees, is die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe verbind daartoe om 'n inklusiewe en verwelkomende omgewing te skep waar alle studente en personeel in staat gestel word om hulle volle potensiaal te ontwikkel. Een van die inisiatiewe om ons pogings in dié verband te ondersteun, was die skep van die Dekaan se Raadgewende Komitee oor Transformasie (RKT) in die tweede helfte van 2016.

Die RKT bestaan uit 'n breë verteenwoordigende groep van voorgraadse en nagraadse studente, sowel as personeel van verskeie omgewings, insluitend die fakulteitsbestuur, akademiese omgewings, studente-administrasie, studente-ondersteuning, koshuisbestuur en die bestuur van die Tygerberg-hospitaal.

Die Komitee het nà insette van al die lede 'n verstandhouding bereik oor die werksopdrag en werkswyse, en in die afgelope 18 maande kwartaalliks vergader. Daar is kragtige en insiggewende gesprekke gevoer oor onderwerpe soos “Fees must Fall", “Men are Trash", die sogenaamde "Anglo-Afrikaner-beweging", “Tygermaties Confessions", boelie-gedrag, 'n verkragtingskultuur en die behoefte aan beter ondersteuningsdienste om studente en personeel se welwees te bevorder.

Een van die RKT se eerste besprekingspunte was die fakulteit se sleutelwaardes. Dit het gelei tot 'n aanbeveling dat 'toewyding' vervang word met 'deernis'. Nà afloop van verdere konsultasie is die waardes gewysig na: uitnemendheid, integriteit, deernis, verantwoordbaarheid, inklusiwiteit en vernuwing. Die RKT het sedertdien gesprekke begin voer oor hoe ons kan verseker dat hierdie sleutelwaardes toenemend weerspieël word in ons daaglikse besluite en optrede.

Saam met die viering van Menseregtedag vanjaar het ons drie gedenkplate met die Aanhef tot die Grondwet van Suid-Afrika in Engels, Afrikaans en Xhosa in die portaal tussen die Kliniese- en Onderwysgebou onthul. Die doel hiervan is dat dit ons vootdurend moet herinner aan die sentrale belang van die Grondwet, insluitend die Handves van Menseregte, in ons handelinge met mekaar as Suid-Afrikaanse burgers. Daar is onlangs voorgestel dat ons 'n Handves vir Transformasie vir die fakulteit ontwikkel en 'n werkgroep is aangewys om hieraan aandag te gee.

Ek hoop dat u hierdie inligting behulpsaam sal vind. Indien daar enige sake is wat u onder die komitee se aandag wil bring, of indien u 'n lid wil word, kontak ons gerus by die e-posadres deanfhs@sun.ac.za.
 

Vriendelike groete


Prof Jimmy Volmink
Dekaan