Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Naspers borg twee Mandaryns-dosente by US, kondig Chinese ambassadeur aan
Outeur: Martin Viljoen
Gepubliseer: 10/11/2017

Die Chinese ambassadeur in Suid-Afrika, sy eksellensie Lin Songtian, het vanmiddag (Vrydag 10 November) aangekondig dat Naspers twee addisionele Mandaryns-dosente uit China vir 5 jaar by die Universiteit Stellenbosch (US) gaan borg. Die aankondiging is vanmiddag by die US Museum op die Stellenbosch-kampus gedoen.   

Benewens die borgskap, om kulturele uitruiling te ondersteun, sal studente van Wuhan Kollege in China jaarliks Suid-Afrika besoek en ʼn Suid-Afrikaanse student word ten volle geborg om in China te studeer.

Lees die amptelike verklaring hieronder:

Sy Eksellensie, ambassadeur Lin Songtian, Universiteit Stellenbosch, Wuhan Kollege en Naspers kondig opvoedkundige en kulturele uitruilprogram aan

Kaapstad, Suid-Afrika, 10 November 2017 - Die Chinese ambassadeur, Sy Eksellensie Lin Songtian, het aangekondig dat Naspers twee addisionele Mandaryns-dosente uit China vir 5 jaar by die Universiteit Stellenbosch (US) gaan borg. Daarbenewens, om kulturele uitruiling te ondersteun, sal studente van Wuhan Kollege jaarliks Suid-Afrika besoek en ʼn Suid-Afrikaanse student word ten volle geborg om in China te studeer.

Mandarynse Chinees is in 2000 aan die US in die Departement Moderne Vreemde Tale bekendgestel. Dit was destyds die eerste voorgraadse program in Mandaryns by ʼn residensiële universiteit in Suid-Afrika. In 2012 was die Mandarynsafdeling die eerste eenheid in Suid-Afrika om ʼn Honneursgraad in Mandaryns bekend te stel. Studente in Mandaryns aan die US onderskei hulself by die jaarlikse Chinese Brug-kompetisie en ontvang gereeld merietestudiebeurse van die Chinese regering vir verdere studie in China.

Dit bied ook een van twee nagraadse programme in Suid-Afrika aan vir Chinese taalstudie. Die Confucius-instituut, wat in 2009 gestig is, bied ondersteuning aan die Chinese program binne die US se Departement Moderne Vreemde Tale, asook die onderrig van Chinese taal- en kultuurprogramme in 14 skole in en om Stellenbosch, Franschhoek, Worcester en Knysna.

Wuhan Kollege bied voltydse universiteit en diploma-opleiding aan 11,000 studente. Die universiteit bestaan uit twee skole en vyf departemente. Mees onlangs het Charles Chen, een van die oorspronklike mede-stigters van Tencent, ʼn transformerende skenking gemaak wat Wuhan Kollege in staat stel om een van die eerste nie-winsgewende internasionaal aansoek-georiënteerde universiteite in China te word. Studente van Wuhan Kollege sal Suid-Afrika vir 2 weke besoek en kulturele uitruilprogramme bywoon wat ʼn wye verskeidenheid onderwerpe dek.

--------------

By die geleentheid het prof Hester Klopper, US-Viserektor: Strategie en Internasionalisasie gesê dat dit ʼn spesiale geleentheid is omdat mense van verskillende dele van die wêreld en sektore van die samelewing saamkom vir ʼn gemeenskaplike doel.

“Dit is wat ons vandag in aksie sien – ‘n ontmoeting van gedagtes en harte in die strewe na kennis en wedersydse begrip. En wat beter medium daarvoor as taal – daardie wonderlike instrument waarmee mense hul diepste gevoelens, hoogste aspirasies, mees gevorderde gedagtes en opregte wense kan uitdruk. Vandag se aankondiging bring ons nader mekaar – as vennote deur taal en onderrig.”

Die US het meer as 4000 internasionale studente van meer as ‘n 100 lande; meer as 300 ooreenkomste met universiteite regoor die wereld (8 met Chinese universiteite) en 46 studente van China (Hong Kong ingesluit).

Foto:

Die Chinese Ambassadeur in Suid-Afrika, Sy Eksellensie Lin Songtian; Prof Hester Klopper, US-Viserektor: Strategie en Internasionalisasie; en mnr Koos Bekker, Voorsitter van Naspers. (Foto: Stefan Els)