Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-inisiatiewe om water te bespaar
Outeur: Corporate Communication/ Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 10/11/2017

Die Universiteit Stellenbosch het verskeie intervensies om water te bespaar geïmplementeer - van die opvangs van gryswater vir hergebruik tot die grootskaalse uitrol van waterbesparende koppeling en toestelle.

Hierdie intervensies, wat deur Fasiliteitsbestuur gedryf word, is deel van 'n groter inisiatief om water in die Stellenbosch munisipale area te bespaar. Tans is die area onderhewig aan vlak 5-waterbeperkings wat persone tot 87 liter water per dag, en huishoudings tot 20kl per maand, beperk.

Van die US se intervensies is onlangs uitgelig tydends die tweemaandelikse Rektor/Burgemeestersforum waar die afgevaardigdes van die universiteit en munisipaliteit die waterkrisis bespreek het.

Oor die afgelope weke het Fasiliteitsbestuur loodgieterskoppelinge en toebehore met meer effektiewes vervang. Hierdie grootskaalse projek sluit in: die installasie van waterbesparende stortkoppe en -krane in koshuise, waterlose urinale, asook waterverplasende en -besparende eenhede en toestelle in toilette.  Die Universiteit het ook elektroniese watermeters in geboue geïnstalleer om waterverbruik en lekkasies te monitor. Hierdie inisiatiewe behoort 'n besparing van 30% mee te bring.  

Alternatiewe bronne van water is ook gevind en verskeie boorgate is oopgemaak, getoets en sal binnekort in werking gestel word. Water uit boorgate sal gebruik word vir die instandhouding van die botaniese tuin, sportterreine en vir diere op die proefplaas.   Gryswater van storte en handwasbakke sal ook gefilter en vir die spoel van toilette en besproeiing hergebruik word. Aanvullend tot al hierdie inisiatiewe is die Afdeling Fasiliteitsbestuur ook besig om 'n water optimiseringsplan vir die Universiteit op te stel.

Intussen is die Stellenbosch Munisipaliteit besig met voorbereidings om boorgate te boor om die dorp se beskikbare water aan te vul. Plekke word geïdentifiseer waar water waarskynlik gevind sal word en wat in die omgewing van bestaande reservoirs is, sodat die water maklik in die stelsel ingevoer kan word.

Volgens mnr Deon Louw, Direkteur van Ingenieursdienste by die munisipaliteit, sal die water tot drinkbare standaarde gesuiwer word. Louw het die hoop uitgespreek dat die water genoeg sal wees om watervoorsiening aan Stellenbosch-inwoners na vlakke soos tydens vlak 4B-waterbeperkings te herstel.