Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorser ontvang beste referaat toekenning
Outeur: Nadia Mans-Kemp
Gepubliseer: 22/09/2017

'n Span navorsers van die Department Ondernemingsbestuur het onlangs die Suider-Afrikaanse Instituut vir Bestuurswetenskaplikes (SAIMS) se 29ste konferensie te Bloemfontein bygewoon van 10-12 September 2017. Sestien referate en werk-in-proses aanbiedings is gelewer deur personeel en nagraadse studente.

Die gasspreker, Prof Adré Schreuder, het akademici aangemoedig om meer praktyk-gerigte navorsing te doen. Hy het voorts aangedui dat pogings aangewend moet word om “brûe te bou" tussen die akademie en praktyk. Navorsingsbevindinge behoort volgens hom nie net in vakjoernale te verskyn nie, maar moet ook die breër publiek bereik.

'n Groot eer het die departement te beurt geval: Stellenbosch navorsers het vir twee opeenvolgende jare die beste referaat toekenning ontvang. Prof Suzette Viviers het in 2016 die toekenning ontvang vir haar referaat getiteld: “Should South African companies be concerned about the rising tide of public shareholder activism?" In 2017 het Dr Rousseau Lötter die toekenning verkry vir sy referaat getiteld: “Comparing the best and worst indexed risk models for asset pricing: An unexpected result".