Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Chemie-studente spaar 3000 liter water per week in lab
Outeur: Media and Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 14/09/2017

Drie Chemie-studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) het die waterverbruik van hulle laboratorium met ten minste 3 000 liter per week laat afneem. En dit omdat hulle met innoverende en relatief goedkoop maniere vorendag gekom het om water te bespaar.

Vier maande gelede het prof Peter Mallon, hoof van die departement Chemie en Polimeerwetenskap sy nagraadse studente uitgedaag om met waterbesparingsmoontlikhede in die laboratorium vorendag te kom.  Daar en dan het Monica Clements, Jonathan Hay and Anton Hamann (almal PhD-studente) begin om te eksperimenteer met metodes waarop water in die sintese lvaboratoriums, wat in die De Beers Gebou gehuisves word, bespaar kan word.

“Met die waterskaarste waaronder die Wes-Kaap gebuk gaan, het ons begin gesels oor hoe ons waterverbruik in ons laboratorium kon verminder. Dit het uiteindelik gelei tot 'n hele aantal veranderinge in die wyse waarop ons instrumente gebruik wat water verbruik," verduidelik hulle.

Eerstens het hulle grootste sondebokke geïdentifiseer ten opsigte van waterverbruik en toe 'n stelsel ontwikkel ‒ 'n sogenaamde Geslote Koue Water Hersirkuleringstelsel (GKWHS) (in Engels 'n Closed Cold-Water Recycling System) genoem – vir gebruik saam met verskeie “dorstige" laboratoriumtoerusting.

Hierdie geslote sisteem bestaan uit 'n koelhouer met ys,'n tuinslang, silikonpyp wat in laboratoriums gebruik word, sowel as 'n pomp, soortgelyk as wat in tuinfonteintjies gebruik word en wat 80 liter per uur kan pomp. Die basiese beginsel waarop dit berus is dat die water met behulp van ys verkoel word en dit dan hersirkuleer in 'n geslote stelsel. Dit is in teenstelling met vorige praktyke waar drinkbare kraanwater in die drein sou afloop.  

Die laboratorium se roterende verdampers was die eerste groot waterverbruikers wat hulle geïdentifiseer het. Laasgenoemde het meer as 100 liter water per dag verbruik wanneer dit direk aan kraanwater gekoppel is.  

Nou is die verdamper se verkoeler gekoppel aan die geslote sisteem en nie aan die kraan nie en gebruik dit slegs sowat vyf liter ys per dag.

“Al drie ons roterende verdampers werk al vir die afgelope drie maande volgens hierdie sisteem sonder enige defek, alhoewel dit ag uur per dag, Maandag tot Vrydag gebruik word," verduidelik Jonathan.

Hulle het ook gevind dat hierdie metode waar yskoue water gebruik word, die oplosmiddel baie vinniger laat kondenseer en dit ook meer effektief is vir die verdamping van oplosmiddels met lae kookpunte.  

'n Ander dorstige waterverbruiker is die vakuumfiltrasieproses wat baie water in 'n kort periode verbruik. In plaas daarvan dat elke student nou sy of haar eie opstelling vir die vakuumfiltrasieproses in sy of haar dampkas gebruik, gebruik die laboratorium nou een opstelling met 'n Buchi-pomp wat geen water gebruik nie.  “Hierdie metode van filtrasie is onlangs ook aangewend in die voorgraadse laboratoriums wat 'n enorme positiewe invloed gehad het op die hoeveelheid water wat tot dusver gespaar is. Behalwe vir die waterbesparing is hierdie metode ook meer effektief. Die filtrasie vind dus vinniger plaas wat tot gevolg het dat studente vinniger met die volgende stap kan voortgaan," verduidelik die groep.

Hulle volgende doelwit is om die geslote koue water hersirkuleringstelsel te implementeer in die refluksopstellings: “In 'n sintese laboratorium is refluksopstellings 'n algemene praktyk wat tans munisipale kraanwater gebruik om die verkoelers mee af te koel. Na beraming gebruik 'n 24 uur- refluksopstelling tussen 180 en 200 liter drinkbare water.  Ons is tans besig met toetse om te bepaal hoe die KWHS ten beste gebruik kan word in bogenoemde proses."

Nie alle inisiatiewe was egter tegnies van aard nie. Deur slegs kleiner plastiekemmertjies in die groot wasbakke te plaas, is die hoeveelheid water wat gebruik word vir die was van die glasware aansienlik verminder. Een emmer warm water is tans gewoonlik genoeg om twee studente se glasware mee te was.

Prof Willem van Otterlo en dr. Margaret Blackie, die navorsingsgroepleiers van die laboratorium, sê hulle hoop dat hierdie inisiatief ook ander navorsingslaboratoriums sal aanspoor om innoverende maniere te soek waarmee water bespaar kan word. Monica Clements.jpg

Prof Peter Mallon sê dit is 'n uitstaande inisiatief van die nagraadse studente: “Hulle toon 'n hoë vlak van sosiale betrokkenheid en goed ontwikkelde verantwoordelikheidsin. Ons het onlangs hierdie waterbesparingsmeganismes ook in ons eerstejaarslaboratoriums ingestel waar byna 900 eerstejaars dit nou toepas," voeg prof. Mallon by.  

Op die foto bo: Jonathan Hay (links) en Anton Hamann by die Geslote Koue Water Hersirkuleringstelsel (GKWHS) wat yswater voorsien aan die verkoelingsbuis wat aan die roterende verdamper gekoppel is. Monica Clements (regs) is tans in die VSA. Foto: Wiida Fourie