Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Help ons om R99 999 in 99 dae in te samel
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 14/09/2017

Die Universiteit Stellenbosch (US) is gereed vir sy 100ste verjaarsdag in 2018! En watter beter manier om almal opgewonde te maak oor die komende eeufeesvieringe én ons beurskoffers aan te vul, as met 'n veldtog wat alles vier wat die moeite werd is aan die US.

Met die oog hierop, het die Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge, in samewerking met die Studenteraad (SR), die #US99-veldtog op Woensdag 20 September bekendgestel. En selfs SA sanger, Garth Taylor, was byderhand om hierdie veldtog te loods toe hy 'n paar van sy liedjies gesing het. 

Hierdie veldtog sal vir 99 dae tot 27 Desember duur en bied geleentheid vir personeellede en huidige studente om hul kleingeld te gee om 'n verskil op kampus te maak en gee aan alumni en vriende van die Universiteit die geleentheid om die US op hul Kersgeskenklys te sit.

Marvin Koopman, Alumni-betrekkinge koördineerder, sê: "Ons sal gemerkte kollekte-bokse op die Stellenbosch-, Tygerberg- en USB-kampusse plaas vir personeel en studente om hul 99 sent (of meer) te skenk met die doel om R99 999 in 99 dae in te samel."

"#US99 is ook 'n manier om jou te wys hoe maklik dit werklik is om terug te gee en 'n positiewe verskil te maak. Van beurse tot kapasiteitsbouprogramme, met jou ondersteuning kan hierdie universiteit opgeleide studente die wêreld in te stuur, gereed om 'n bydrae tot 'n beter toekoms te lewer."

Volgens Cheryl Benadie, Donateurs-betrekkinge bestuurder, is die doelwit van hierdie veldtog om klem te plaas op ons komende eeufeesvieringe in 2018 asook die nuwe Universiteit Stellenbosch Jaarfonds. Geld in hierdie Jaarfonds word gewoonlik aan waardige inisiatiewe toegeken - in hierdie geval, beurse aan verdienstelike studente - na goeddunke van die Rektor, prof Wim de Villiers.

Benadie sê daar is 'n persepsie dat die Universiteit Stellenbosch 'n 'ryk' instelling is en dus nie geld nodig het nie. "Die aanname dat alle Stellenbosse studente uit welvarende agtergronde kom, is ook verkeerd. 'n Onlangse peiling het getoon dat 41% van ons studente verlede jaar uit die sogenaamde “missing middle" groep gekom het, dit wil sê huishoudings met 'n gesamentlike inkomste van R600 000 of minder per jaar.

"Ons moet dus talle fondsinsamelingsinisiatiewe implementeer om geld in te samel wat nodig is om ons visie en missie te vervul. Deur aan die Universiteit Stellenbosch te gee, belê u in 'n inklusiewe, innoverende en toekomsgerigte instelling, 'n plek van ontdekking en uitnemendheid waar personeel en studente denkleiers is om kennis te bevorder in diens van alle belanghebbendes," voeg sy by.

"Ek wil alle personeel en studente aanmoedig om hul beursies oop te maak en waar jy ookal die kollekte-bokse sien, 'n muntstuk of twee in te gooi! En moenie vergeet om #US99 op sosiale media-platforms soos Twitter, Facebook en Instragram te gebruik nie," sê Koopman.

Foto: By die bekendstelling was Hazel Seseko (SR-verteenwoordiger), Cheryl Benadie (Skenker-betrekkinge bestuurder), die sanger Garth Taylor, Kieran Maharaj (Maties Sport) en Shaun Stuart (Alumni-betrekkinge bestuurder).