Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontvanger van Schumann-medalje op pad na Oxford
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 04/09/2017

Die ontvanger van die 2017 CGW Schumann-medalje vir die beste nagraadse student in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe vertrek later in September na Engeland om sy studies aan Oxford Universiteit voort te sit.

Lewis McLean, wat die grade BComHons (Ekonomie) en MCom (Ekonomie) cum laude verwerf het, het hierdie medalje op Vrydag 1 September ontvang. Die medalje is vernoem na die fakulteit se eerste dekaan en word sedert 1986 jaarliks toegeken.

Lewis het oor die jare verskeie toekennings en eerbetone ontvang, waaronder die Cloete-medalje vir die beste nagraadse student (honneurs en meesters) in Ekonomie in 2014 sowel as 2016.

Volgens prof. Andrie Schoombee, voorsitter van die Departement Ekonomie, het Lewis se hoë vlak van ekonometriese vaardighede daartoe gelei dat hy vir drie jaar agtereenvolgens gekies is om die Universiteit Stellenbosch (US) te verteenwoordig by die toonaangewende Wêreldkampioenskap van Ekonometrie wat deur die Universiteit van Amsterdam aangebied word.

Die Ekonomiese Vereniging van Suid-Afrika het ook aan Lewis sy Stigtersmedalje toegeken vir die beste Honneurs-navorsingsopdrag wat in 2014 deur 'n ekonomie-student as deel van sy/haar graadprogram ingedien is. In 2016 het hy die soortgelyke toekenning ontvang vir die beste Magister-navorsingsopdrag van 'n ekonomie-student landwyd, waarskynlik die eerste keer in die geskiedenis dat een student albei toekennings verwerf het.

Lewis, wat hoop om 'n loopbaan in die akademie te volg, het toelating tot sowel Oxford Universiteit (met volle finansiering) as Cambridge Universiteit ontvang.

“Ek was baie in my skik om deur albei hierdie toonaangewende instellings aanvaar te word. Ek het besluit om Oxford se MPhil-graad in Ekonomie te volg, met die doel om daarna 'n DPhil in Ekonomie aan Oxford te voltooi. Finansiering was vir my die deurslaggewende faktor – ek het 'n beurs van die Clarendon Fonds-ontvang wat, tesame met 'n nagraadse beurs van Mary Somerville Kollege, my onderriggelde, kollegefooi en verblyfuitgawes vir die duur van die twee jaar lange program dek."

Ironies genoeg, het Lewis glad nie beplan om 'n loopbaan as 'n ekonoom te volg toe hy in 2011 sy studies aan die US begin het nie.

“Ek het eintlik aansoek gedoen om musiek te studeer, maar teen die tyd dat ek aanvaar is, was ek baie ontnugter met hoe geïsoleer ek as gevolg van my fokus op musiek alleen geraak het. Dit is waarom ek besluit het om vir 'n BA-graad in te skryf met die vakke Filosofie, Politieke Wetenskap en Ekonomie.

“Ek was oorspronklik hoofsaaklik in Filosofie en Geskiedenis geïnteresseerd, maar deur die loop van my voorgraadse studie was Ekonomie die vak wat my voortdurend op 'n unieke en opwindende manier uitgedaag het, en dus geblyk het die meeste potensiaal vir voortgesette persoonlike ontwikkeling te bied."

Hy het suksesvol van 'n voorgraadse program in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe beweeg na nagraadse studies in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

Lewis is nie spyt dat hy hierdie roete gevolg het nie: “Ek is van mening dat Ekonomie fundamenteel die bestudering van sosiale verskynsels behels, en dat dit enige beskikbare middele moet gebruik om dit te doen. My agtergrond in die sosiale wetenskappe help my om dit in gedagte te hou wanneer ek ekonomiese probleme benader."

Volgens hom staan twee dinge sentraal tot sy prestasie: 'n onversadigbare liefde om te leer, en die ondersteuning wat hy onder andere van familie, vriende en die universiteit ontvang het.

“Ek kon nie vir 'n meer ondersteunende leeromgewing gevra het as die een wat die Departement Ekonomie gebied het nie. Ek sou nie my MCom kon verwerf het as dit nie was vir die geleenthede wat lede van die departement aan my gebied het nie. Hulle het my toegelaat om lesings vir ons voorgraadse studente aan te bied, om 'n tutor vir ons nagraadse studente te wees en om by 'n wye reeks navorsingsprojekte betrokke te raak, wat saam my laaste paar jaar aan die US gefinansier het."

  • Hooffoto: Prof Andrie Schoombee, voorsitter van die Departement Ekonomie, en prof Johan Malan, waarnemende dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, wens Lewis McLean geluk met die CGW Schumann-medalje vir die beste nagraadse student in die Fakulteit.
  • 2de Foto: Prof Stan du Plessis, ekonomieprofessor en US se aangewese bedryfshoof, wens Lewis geluk.

 SchumannMedalWinner_withStan_web.jpg