Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Personeel en studente van die Universiteit Stellenbosch vier Mandela Dag
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 18/07/2017

​Universiteit Stellenbosch (US) personeel en studente het vandag (Dinsdag, 18 Julie) 67 minute van hul tyd aangebied ter viering van voormalige president Nelson Mandela se lewe en nalatenskap.

Lede van die US se Golden Key-vereniging en verskeie akademiese departemente het aan die werk gespring om soveel as moontlik toebroodjies te maak tydens die 'Toasties for Tummies'-inisiatief. Hierdie broodjies sal aan skole en organisasies in en rondom Stellenbosch uitgedeel word.

 “Ons groot doelwit is om 10 000 toebroodjies te maak, want daar word ook 1000 toebroodjies gemaak in Tygerberg wat aan die pasiënte van Tygerberg geskenk gaan word. Ons wil regtig groot gaan met die projek," sê Ricardo Smart, visepresident van die Golden Key-vereniging in Stellenbosch. “Ons skenk ook 'n duisend toebroodjies aan die Khayelitsha-projek wat ook op Mandela Dag plaasvind. Ons wil graag al ons donateurs bedank. Die Universiteit Stellenbosch wil graag 'n verskil maak. Alhoewel hierdie slegs 'n klein projek is, is ons visie dat ander mense dieselfde in hul eie gemeenskappe sal doen. Ons kan iemand se wêreld verander."

Troospakkies en nie-bederfbare voedselprodukte en toiletware was ook ingesamel vir studente wat dit dringend benodig.

Die Universiteit Stellenbosch se Fasiliteitsbestuur-span het ook hul tyd en kennis aangebied om by die Kuyasa Horizon Development-program in Kayamandi buite Stellenbosch aan te sluit, tesame met spanne van diensverskaffers. Kuyasa (wat 'dagbreek' beteken) beoog om die plaaslike gemeenskap se jeug te bemagtig deur voedingskemas, leersentrums, sport, opvoerende kuns en leierskapsontwikkeling.

Meer as 'n honderd vrywilligers het saamgewerk om stukkende dakteëls te herstel, elektriese herstelwerk te doen, die hoofgebou en biblioteekruimte te verf, rommel te verwyder en in die tuin te werk. 'n Suksesvolle klere-insamelingsinisiatief is ook georganiseer.

“Ek is geweldig trots op die bydrae wat die span van Fasiliteitsbestuur aan Kuyasa gemaak het. Ons is passievol tot die opheffing van die plaaslike gemeenskap verbind, en die pogings van ons personeellede – op Mandeladag en ter voorbereiding van hul besoek – sal die lewensnoodsaaklike opheffing en opvoedkundige programme wat Kuyasa aan die jeug in die area bied, versterk.  Ek is oorweldig deur die groot bydrae wat ons diensverskaffers gelewer het. Dankie aan hulle. 'n Totaal van 120 mense het vandag op die terrein gewerk en sal die res van die week daar wees om die werk af te handel," sê Nicolette van den Eijkel, hoofdirekteur van Fasiliteitsbestuur. ​

“Dit is oorweldigend hoe baie mense opgedaag het om te help, ons is sprakeloos. Ons wil altyd hierdie goed aanpak, maar het nie die mense met die vaardighede om dit te doen nie. Die hoeveelheid hulpbronne wat daarin gegaan het om hierdie moontlik te maak, is so 'n seëning. Dit is wonderlik," sê Nkosinathi Sixabayi, 'n pastoor by die Khanya Community Ministry in Kayamandi en die direkteur van Kuyasa Horizon Empowerment.