Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe poging om poeierkwaslelie van uitsterwing te red
Outeur: Issued by Wiida Fourie-Basson, Media: Faculty of Science, Stellenbosch University science@sun.ac.za 021 808 2684
Gepubliseer: 18/07/2017

​'n Reusepoging word tans aangewend om die laaste 60 oorblywende individuele poeierkwaslelies (Haemanthus pumilio) in die Duthie Natuurreservaat in Stellenbosch te bewaar, sowel as om die bevolking se getalle uit te brei deur middel van mikrokweking.

Volgens Martin Smit, kurator van die Universiteit Stellenbosch (US) se Botaniese Tuin, het meer as 'n duisend van hierdie lelies vroeër in die Duthie Natuurreservaat voorgekom. Maar die reservaat beslaan tans minder as 'n derde van sy oorspronklike grootte en die meeste van hierdie lelies het ook al uitgesterf in die plekke waar hulle voorheen voorgekom het, insluitend Wellington en Klapmuts.

“Die vernietiging van die oorspronklike habitat (renosterveld) en indringers soos die Port Jackson (Acacia saligna) is van die hoofoorsake vir hierdie afname in voorkoms. Hierdie spesie is egter ook afhanklik van brande om blomvorming aan te help en die saailinge vereis baie spesifieke toestande om te oorleef. Die Duthie Natuurreservaat is egter in 2004 laas gebrand. Vir hierdie tipe plantegroei moes 'n daaropvolgende beheerde brand reeds lankal plaasgevind het," sê hy. 

“Behalwe dat Haemanthus pumilio brand-afhanklik is, verkies dit ook grond wat in die somermaande droog is, maar in die winter met water deurdrenk en moerasagtig is. Dit is waarom die Duthie Reservaat tans steeds die mees geskikte habitat is om die oorlewing van hierdie rare en uiters bedreigde plant te verseker," voeg hy by.

Terwyl Smit intussen 'n bestuursplan vir die Duthie Reservaat ontwikkel het, het twee bioloë van die US finansiering bekom om deur middel van weefselkweking die bevolkingsgrootte eksponensieel te laat toeneem.

Plantbiotegnoloog dr. Paul Hills en plantkundige dr. Gary Stafford, het alreeds blaarmonsters en saad van die bestaande poeierkwasleliebevolking in die Duthie Reservaat bymekaar gemaak, sowel as van sewe individuele plante van 'n uitgestorwe bevolking oorspronklik afkomstig van Newton Commanage, Wellington, wat tans in die sorg van die Botaniese Tuin is.

“Eerstens volg ons 'n nie-destruktiewe strategie in die grootskaalse kweking van individue van 'n verskeidenheid van genotipes met die oog op die potensiële herbevolking van kwynende bevolkings in die Duthie Reservaat, sowel as elders," verduidelik dr. Hills.

Terselfdertyd maak HonsBSc-student Dominique West van fillogenetiese analise gebruik om die genetiese diversiteit binne, en tussen bevolkings vas te stel. Dit sal meebring dat ingeligte besluite geneem kan word met betrekking tot die gebruik van genetiese lyne afkomstig van mikrokweking, wanneer dit kom by die herbevolking en bewaring van die plante.

Alhoewel die weefselmonsters en verskeie sade alreeds in die weefselkwekingslaboratorium begin groei het, sal die eerste saailinge eers teen die einde van 2018 lewensvatbaar wees.

“Aangesien Haemanthus pumileo so skaars is, is hierdie plante baie gesog onder plaaslike, sowel as internasionale plantversamelaars. Indien ons 'n lewensvatbare bevolking aan die gang kan kry, sal dit versprei word na ander botaniese tuine en dan sal sommige van die plante ook verkoop kan word," voeg Smit by.

Meer oor Haemanthus

Al 22 Haemanthus-spesies is endemies in Suid- en Suider-Afrika, en ten minste 12 daarvan verskyn op die Suid-Afrikaanse Rooi Datalys.  Haemanthus pumilio se status moet egter dringend hersien word. Sedert 1990 word die Duthie Reservaat in Stellenbosch as die area met die enigste lewensvatbare bevolking beskou.

Meer oor die Duthie Reservaat

Die Duthie Reservaat in Banhoekweg, Stellenbosch, is vernoem na dr. Augusta Vera Duthie, stigter van die Departement Botanie by die US in 1902. In 1912 het sy 'n PhD getiteld The vegetation and flora of the Stellenbosch flats aan die Universiteit van Suid-Afrika verwerf. Sy word ook beskou as die stigter van die US Botaniese Tuin. Duthie het plante gekweek vir studentepraktika en -navorsing in glashuise by die vorige perseel van die US Botaniese Tuin, langs die Ou Hoofgebou.  


Foto: Teen slegs 10-15 cm hoog, is die Haemanthus pumilio een van die kleinste poeierkwaslelies. Die plant blom gewoonlik tussen Maart en April, alvorens die blare ontwikkel. Hierdie spesie verkies om te blom ná 'n brand, wanneer daar minder kompetisie van ander plantegroei is. Foto: Gary Stafford

Hooffoto: Die Universiteit Stellenbosch (US) se Botaniese Tuin wend 'n reusepoging aan om die Duthie Natuurreservaat se enigste oorblywende poeierkwaslelies (Haemanthus pumilio) te bewaar. Kurator Martin Smit (middel) werk ook saam met die US bioloë dr. Paul Hills (links) en dr. Gary Stafford (regs) om die bevolkingsgetalle uit te brei deur middel van weefselkwekingstegnieke. HonsBSc-student Dominique West is verantwoordelik vir die mikrokweking en sistemiese analise van die spesies. Foto: Stefan Els


Kontakbesonderhede

Mnr. Martin Smit

Kurator: US Botaniese Tuin

E-pos: mfsmit@sun.ac.za

Tel: +27 (0)21 808 9209

 

Dr. Paul Hills

Departement Bewaringsekologie en Entomologie, Universiteit Stellenbosch

E-mail: phills@sun.ac.za

Tel: +27 (0)21 808 3066

 

Dr. Gary Stafford

Departement Plant- en Dierkunde, Universiteit Stellenbosch

E-pos: gistafford@sun.ac.za

Tel: 27 _76 896 1987