Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer US akademici
Outeur: Korporatiewe Kommunikasie / Corporate Communication
Gepubliseer: 18/07/2017

Akademici verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US) is onlangs tydens ʼn glansryke geleentheid op Stellenbosch deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir hul bydraes tot die wetenskap en kunste vereer.

Die ontvangers verbonde aan die US is prof Hendrik Geyer van die Departement Fisika; prof Lambert Engelbrecht, Voorsitter van die Departement Maatskaplike Werk; prof Gerhard Geldenhuys, emeritus-professor in Toegepaste Wiskunde; asook me Anneke van Heerden, ʼn US-alumna wat vir haar Meestersgraad beloon is.

Die Havenga-prys vir Fisiese Wetenskappe is aan prof Geyer toegeken. Hy is sedert 1984 aan die US verbonde, en het in 1990 professor in Fisika geword. Sedert 2008 is prof Geyer die Direkteur van die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS).

Prof Geyer word vereer vir sy enorme bydrae tot aspekte van kwantum meganika. Hy word beskou as ʼn pionier in die breë veld van nie-hermitiese kwantumfisika, veral met betrekking tot PT-simmetriese kwantummeganika. Prof Geyer se leidende rol in hierdie veld word onderstreep deur 'n lang reeks verwante publikasies met beide lokale en oorsese medewerkers, en hy word met goeie rede internasionaal as een van die stigters van hierdie vakgebied gereken.

Die Stals-prys vir Maatskaplike Werk is aan prof Engelbrecht toegeken. Hy lewer ʼn beduidende bydrae in die professie van maatskaplike werk, en dit is veral sy werk oor die effek van neoliberalisme op maatskaplikewerk-dienslewering wat plaaslik en internasionaal hoog aangeskryf word.

Prof Engelbrecht fokus op navorsing in maatskaplike ontwikkeling, supervisie en bestuur van maatskaplike werkers, asook praktykonderrig van studente in maatskaplike werk. Meer as 90 wetenskaplike uitsette spruit uit hierdie navorsingsareas.

Prof Geldenhuys is vanjaar die ontvanger van die Hugenotevereniging- en DF du Toit-Malherbe-prys vir Genealogiese navorsing. Hy ontvang die prys vir die besondere rol wat sy genealogiese navorsing gespeel het op ʼn medies-wetenskaplike gebied in die ontrafeling van die molekulêre oorsake van oorerflike hartspier- en bewegingsiektes.

Kennis van siektedraers se mate van verwantskap het ʼn groot rol gespeel om oorsaaklike gene te vind en, waar die geen reeds bekend was, die wisselende grade van die erns van die siektes weens ander invloede te verklaar.

Die Protea-prys vir beste Geskiedenisverhandeling in Afrikaans en die Generaal Christiaan de Wet-beurs is aan me Van Heerden toegeken. Die prys word toegeken vir haar MA-verhandeling, wat sy aan die US voltooi het, met die titel “Die Suiderkruisfonds en die mobilisering van die Suid-Afrikaanse blanke burgerlike samelewing tydens die Grensoorlog 1968-1989".

Me Van Heerden het haar MA-graad in 2014 met onderskeiding geslaag, en tussen 2011 en 2015 ʼn Merietebeurs, ʼn NNS-navorsingsbeurs, asook Marlene Silbert-toekenning vir Holocaust en Menseregte-opvoeding ontvang. Daarby het sy vinnig gevorder tot Vakhoof vir Sosiale Wetenskappe en Geskiedenis sedert haar aanstelling as onderwyser aan die Hoërskool President in Goodwood, Kaapstad, in 2015.

ONDERSKRIF: Proff Wessel Pienaar (Voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns), Hendrik Geyer van die US, en Jannie Hofmeyr. Foto: ANTON JORDAAN