Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nagraadse Polimeerwetenskap-student skitter internasionaal
Outeur: Media and Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 17/07/2017

Me Nonkululeko Radebe, 'n MSc-student in polimeerwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US), het die gesaghebbende Borealis Plakkaattoekenning gekry by 'n internasionale konferensie oor polimeeranalise en -karakterisering (ISPAC 2017) wat onlangs in Linz, Oostenryk plaasgevind het.

Volgens prof. Peter Mallon, hoof van die Departement Chemie en Polimeerwetenskap by die US, is dit 'n uitstaande prestasie en toon dit dat die departement se nagraadse studente met die bestes ter wêreld kan meeding.

Die Internasionale Simposium oor Polimeeranalise en -karakterisering (ISPAC) is 'n internasionale forum vir die aanbieding van voorpunttegnologieë op die vakgebied van polimeeranalise en -karakterisering.

Vir haar MSc-projek het me Radebe twee hoogs gespesialiseerde tegnieke, naamlik termiese veld-vloeifraksionering (ook bekend as ThFFF); en Fourier-transformasie infrarooispektroskopie (FTIS) gebruik om die strukturele eienskappe van komplekse polimere vas te stel ten opsigte van hulle molekulêre gewigsverspreiding en chemiese samestellingverspreiding.

Sy verduidelik: “Polimeriese materiale word gebruik in baie industrieë. Dit is dus noodsaaklik om die strukturele eienskappe van hierdie materiale te verstaan ten einde produkte hieruit te kan ontwikkel en vervaardig. Boonop kan die data ook gebruik word vir kwaliteitskontroledoeleindes, die vergelyking van verskaffers se materiale, en in die ontwerp van produksielyne. Die bogenoemde tegnieke word ook gebruik om onbekende materiale en polimeermengsels te karakteriseer."

Die titel van haar plakkaat was: Multidimensional analysis of polymers using thermal field-flow fractionation and Fourier Transform infrared spectroscopy.

Sy sê die konferensie in Linz was 'n ongelooflike ervaring: “Deur die konferensie by te woon, het ek direkte toegang tot mense gehad wie se werk ek dikwels aanhaal. Dit was letterlik soos om die Beyoncé, Erykah Badu, Hugh Masekela en Kanye West van polimeerkarakterisering, almal in een vertrek by mekaar te hê vir vier dae!"

“Dit is ook 'n groot aansporing om te weet dat die navorsing wat by ons department gedoen word van die mees gevorderde en uniekste ter wêreld is," voeg sy by.

Me Radebe wat aan die Brescia House School in Johannesburg gematrikuleer het, sê dit was pure toeval dat sy in polimeerwetenskap beland het. “Toe ek in graad 9 was, het my Skeinat-onderwyser my aangeraai om nie met wetenskap voort te gaan nie. Maar ek het haar raad geïgnoreer en wél wetenskap geneem. Dit het geblyk dat ek 'n aanleg vir die berekening van bindingsenergieë het. Ek wou die periodieke tabel en sy elemente ken en verstaan en ek was geïnteresseerd in nerdy-goed, soos waarom die lug blou is en waarom sout ys laat smelt."

Nadat sy in 2011 gematrikuleer het, het sy by verskeie universiteite vir verskeie programme aansoek gedoen ‒ van regte tot rekeningkunde en ingenieurswese.  

“Ek het dit gedoen omdat ek slegs 17 jaar oud was en baie min mense op daardie tydstip van hulle lewe kan besluit wat hulle vir die res van hulle lewe wil doen. So dit was bietjie van 'n dobbelspel. Die enigste ding waarvan ek 100% seker was, is dat ek definitief 'n graad wou behaal!"

Toe sy vir 'n BSc in Chemie en Polimeerwetenskap aan die US toelating kry, het sy geen idee gehad waaroor polimeerwetenskap gaan nie, “maar ek het gedink dit klink cool om te sê dat ek dit swot!"

Teen die einde van haar derdejaar het sy 'n belangstelling in polimeerwetenskape begin ontwikkel.

“Ek het besef dat polimere 'n groot deel van ons alledaagse lewe uitmaak, maar dat baie min mense dit bestudeer. Daar is polimere in ons gesigrome, ons motors (bv. bande, kunsleersitplekke en instrumentepaneel), selfoonomhulsels, voedselverpakkings, skoensole en vele meer. Dit het my belangstelling geprikkel en daarna het ek dag en nag gewerk om plek te kry in die honneursklas".

In haar honneursjaar het sy haar huidige studieleier, prof. Harald Pasch genader oor die moontlikheid om 'n MSc in sy navorsinggroep te doen. “Gelukkig het hy 'n projek vir my gehad en ek het nie een oomblik gehuiwer om die geleentheid aan te gryp nie," gaan sy verder.  

Sy is van plan om haar MSc-tesis teen die einde van die jaar afgehandel te hê en dan 'n PhD in dieselfde veld te doen.

Maar sy wil ook jongmense inspireer om deur middel van wetenskap die hedendaagse uitdagings van die samelewing te ondersoek: “Ek wil eendag in die posisie wees waar ek 'n dryfveer kan wees  agter die belegging in vroue wat wetenskap wil studeer. Ek wil 'n daadwerklike, sistematiese verandering teweeg bring ten opsigte van ras- en geslagsdiversiteit in die wetenskap."