Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Baba-Protea Stephanie Brandt gereed vir Wêreldjeugtoernooi
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 17/07/2017

'n Matie, 'n Southern Sting en nou 'n baba-Protea. 

Dit is die paadjie wat die netbalspeler Stephanie Brandt (21) gevolg het om dié naweek saam met haar Proteas-spanmaats vir die Wêreldjeugtoernooi in Botswana aan te tree. Dié toernooi vind elke vier jaar plaas.

Suid-Afrika is saam met Australië, Barbados, Singapoer en Zimbabwe in groep B en speel Saterdag (8 Julie) hul eerste wedstryd teen Barbados.

Stephanie, 'n voormalige leerder van Hoër Meisieskool Paarl en tans 'n onderwysstudent (BEd) aan die Universiteit Stellenbosch, is baie opgewonde oor hierdie geleentheid.

“Dit is vir my 'n groot eer om Suid Afrika te kan verteenwoordig.  Ek het baie hard gewerk hiervoor en my droom het waar geword."

Drie ander Maties – Charmaine Baard, Jo Prins en Sasha-Lee Petersen – was verlede jaar saam met Stephanie deel van die span wat Suid-Afrika gehelp het om vir die toernooi te kwalifiseer.

Stephanie glo die Suid-Afrikaanse span het baie talent en potensiaal.

“Ons mikpunt is om onder die topdrie-spanne te eindig. Ons gaan teen van die sterkste spanne in die wêreld speel, soos Australië en Nieu-Seeland, maar ek glo 'n top3-posisie is haalbaar."

Naas haar insluiting by die Suid-Afrikaanse o.21-span, is nog een van haar groot hoogtepunte toe Maties in 2015 die finaal van die Varsity Netbal-toernooi gehaal het. Stephanie was toe in haar eerste jaar.

“Hoewel ons daardie finaal verloor het, het ons ongelooflik as span gegroei," onthou sy.

Sy sal enige jong netbalspeler aanmoedig om by die sport betrokke te bly wanneer hulle universiteit toe kom.

“Netbal skep soveel geleenthede. Jy leer om te prioritiseer, om 'n balans in jou lewe te vind en om druk te hanteer, nie net op die netbalbaan nie, maar ook in jou persoonlike lewe. Jy maak nuwe vriende en leer soveel mense ken. Ek geniet ook die spangees en die geleentheid om nuwe plekke te sien en te beleef."

Die sport hou hierdie voornemende onderwyseres baie besig. Netbaloefening en -voorbereiding kan tot drie uur per dag in beslag neem, aangesien sy op sekere tye van die jaar ook die Southern Stings, die provinsiale span wat aan die Brutal Fruit-netballiga deelneem, sowel as die Wes-Kaap-span, verteenwoordig.

“'n Netbalspeler moet leer hoe om te prioritiseer en net met die nodige slaap oor die weg te kom. Ek maak ook baie staat op die hulp en ondersteuning van vriende en familie."

Naas haar droom om vir die senior Protea-netbalspan uit te draf, hoop Stephanie ook om eendag op die sportveld en in die klaskamer 'n verskil in die lewe van jong leerders te maak.