Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-span vertrek na Antartika
Outeur: Corporate Communication/ Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 29/06/2017

Die opgewondenheid was tasbaar toe 'n navorsingsspan van Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Natuurwetenskappe en Fakulteit AgriWetenskappe vandeesweek aan boord van die SA Agulhas II vir 'n retoervaart na Antartika uit Kaapstad vertrek.

Die SA Agulhas se Wintervaart 2017 sal ongeveer twee weke lank duur.

Die vaartuig is Suid-Afrika se gesogte navorsingsskip van die Departement Omgewingsake en word gebruik vir ekspidisies vir poolnavorsing. Vir dié Wintervaart 2017 het die US-span by 'n span van die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingraad (WNNR) aangesluit vir hierdie navorsingsekspidisie.

Hulle sal watermonsters en atmosferiese stof van die Suidelike Yssee bestudeer. Deur hierdie studies kan hulle 'n beter begrip ontwikkel oor oseane se beskermingsvermoëns teen mens-aangedrewe klimaatsverandering.

 “Oseane het die vermoë om groot hoeveelhede CO2 te absorbeer. Fitoplankton, binne die oseane,  het weer die vermoë om die opgeloste CO2 te verwyder en CO2-konsentrasies in die atmosfeer te verlaag," verduidelik Ian Weir, MSc-student aan die Fakulteit Natuurwetenskappe se Departement vir Aardwetenskappe.

Ian is aan boord van die vaartuig saam met medestudente van die Departement Aardwetenskappe: - Andile Mkandla, Kaukurauee Izzy Kangueehi, Ryan Cloete, Jean Loock en Johan Viljoen. Ook deel van die span is Jodi Pieterse, (student aan die Fakulteit Agriwetenskappe), James Lloyd (navorser aan die Fakulteit Agriwetenskappe),Bjorn von der Heyden en Susanne Fietz (dosente aan die Fakulteit Natuurwetenskappe).

Volg die span se blog by https://southernoceanfe.wordpress.com/ om te sien hoe hul vaart verloop.