Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'US-instituut bemagtig jongmense' – Breyten
Outeur: Korporatiewe Kommunikasie / Corporate Communication
Gepubliseer: 30/06/2017

BreytenLeslieGroep.jpg

Vriende en kollegas van wyle dr Frederik Van Zyl Slabbert het besoek afgelê by die Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat na dié voormalige Kanselier van die US heet.

Die besoek het Maandag, 26 Junie 2017 plaasgevind. Dit volg nadat hulle die voorafgaande naweek by Spier ʼn reünie bygewoon het van die Dakar-beraad wat 30 jaar gelede in Senegal plaasgevind het. Slabbert het destyds ʼn kernrol gespeel in die Dakar-byeenkoms, wat die weg gebaan het vir die onderhandelings wat in 1994 tot Suid-Afrika se vreedsame oorgang na demokrasie sou lei. Ná sy dood in 2010 het die US aan hom hulde gebring deur ʼn struktuur te skep wat jongmense toerus om as kritiese en aktiewe burgers ʼn positiewe bydrae te lewer.

“Ons wil hê dat studente wat afstudeer, moet verstaan wat hulle rol in die samelewing is. Om universiteit toe te kom behels meer as om net ʼn graad te verwerf," het die uittredende hoof van die FVZS Instituut, dr Leslie van Rooi, aan die besoekers verduidelik.

Sowat 3 500 jongmense neem jaarliks aan die aktiwiteite van die Instituut deel. Dít sluit kortkursusse, leierskapsopleiding en gesprekke oor aktuele sake in. Die kursusse is US-geakkrediteer, wat deelnemers die geleentheid bied om ʼn erkende kwalifikasie van ʼn gerekende hoëronderwysinstelling te verwerf, het Folkers Williams, programkoördineerder van die FVZS Instituut, gesê.

Die digter, skrywer en kunstenaar Breyten Breytenbach, wat die Dakar-beraad in 1987 help reël het, het die inisiatief lof toegeswaai.

“Julle bemagtig ʼn nuwe geslag om los te breek van ideologie. As wat julle doen, slaag, sal die burgerlike samelewing in staat gestel word om bewindhebbers se magslus te temper," het hy in ʼn inligtingsessie oor die werksaamhede van die FVZS Instituut gesê.

Die Instituut het verlede jaar sy werksaamhede na die res van die vasteland uitgebrei met die Afrika-leierskapsontwikkelingsprogram, wat nou reeds by sewe hoëronderwysinstellings in Suider- en Oos-Afrika aangebied word. Die kursusinhoud word nou ook aanlyn beskikbaar gestel sodat nog méér jongmense bereik kan word.

“Van Zyl was nie net ʼn akademikus nie, maar ook ʼn man van die mense wat hom met samelewingsvraagstukke bemoei het," het mnr Doudou Dia, uitvoerende direkteur van die Gorée-instituut, gesê. Dié instituut in Senegal is ʼn uitvloeisel van die Dakar-gesprek destyds. “Dit is goed dat die Instituut wat sy naam dra studente in staat stel om die samelewing van diens te wees."

Onderskrif: Van links, mnr Doudou Dia, dr Leslie van Rooi, mnr Breyten Breytenbach, me Ayo Obe, prof Michael Savage, me Sindy Mathebula, mnr Folkers Williams en prof Heribert Adam. Dia, Breytenbach, Obe, Savage en Adam is vriende en kollegas van wyle dr Frederik Van Zyl Slabbert, en Van Rooi, Mathebula en Williams is aan die US se FVZS Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling verbonde. Foto: STEFAN ELS