Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voorbehoedmiddels moet ’n keuse wees
Outeur: Liezel Engelbrecht
Gepubliseer: 25/05/2017

​Sowat 50% van alle swangerskappe in Suid-Afrika is onbepland.

Volgens die Guttmacher-instituut, 'n Amerikaanse navorsing- en beleidsorganisasie wat op die bevordering van seksuele en voortplantingsgesondheid en -regte fokus, vind 81% van onbeplande swangerskappe in ontwikkelende lande weens 'n gebrek aan moderne voorbehoeding plaas. En in Suid-Afrika gebruik net sowat 60% van vroue van 'n vrugbare ouderdom moderne voorbehoeding, sê dr Judy Kluge.

Dr Kluge is 'n verloskundige en ginekologiese konsultant by die Tygerberg-hospitaal, asook Hoof van die Eenheid vir Gesinsbeplanning aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Sy onderrig ook voor- en nagraadse studente.

"Onbeplande of onwelkome kinders hou 'n koste vir die gemeenskap in," sê sy. "Mense moet besef voorbehoeding is nie ten volle doeltreffend nie. Talle vroue ondergaan aborsies omdat voorbehoedmiddels misluk het, hulle newe-effekte ervaar het of hulle nie oor al die opsies ingelig is nie." Volgens die Guttmacher-instituut word ʼn geskatte 34 uit elke 1 000 swangerskappe in Afrika geaborteer.

Dr Kluge was by die voorbehoedingsinplanting Implanon NXT betrokke sedert dit in Junie 2013 in Suid-Afrika bekend gestel is. Sy is een van 'n handjievol plaaslike spesialiste wat gekies is as meester-opleier om gesondheidsberoepslui in die inplanting en verwydering van die toestel touwys te maak.

Implanon NXT is in Februarie 2014 amptelik in openbare gesondheidsorggeriewe beskikbaar gestel. Volgens dr Kluge was die aanvanklike aanvraag so groot dat voorrade van ander lande herlei moes word om aan die vraag te voldoen. Ongelukkig het die vraag sedertdien afgeneem en sy meen die probleem lê dalk by 'n gebrek aan voorligting aan vroue oor hul opsies.

Sy wil dít graag sien verander. "Die inplanting is die doeltreffendste beskikbare voorbehoedmiddel. Dit is selfs doeltreffender om swangerskap te verhinder as die sterilisasie van 'n man of 'n vrou," verduidelik sy.

Dr Kluge beantwoord vrae wat dikwels oor die toestel gevra word:

Wat is Implanon NXT?

Dit is 'n stafie van sowat 4 cm lank en 2 mm wyd wat 'n sintetiese hormoon bekend as progestogeen bevat. Dit word net onder die vel in die arm van die nie-dominante hand ingeplant. Die hormoon word dan stadig oor 'n paar jaar vrygestel. Die geregistreerde gebruikstydperk is 3 jaar.

Wat is die aksie-meganisme?

Dit onderdruk ovulasie. In leketerme laat dit jou eierstokke slaap en stel jy derhalwe nie elke maand 'n eiersel vry nie.

Hoe vergelyk dit met ander voorbehoedingsmetodes wat die voorkoming van swangerskappe betref?

Dit is die doeltreffendste beskikbare voorbehoedmiddel. Die mislukkingskoers is 0,05 % vir beide tipiese en perfekte gebruik, wat beteken net 1 uit elke 2 000 vroue sal gedurende die eerste jaar van gebruik swanger raak.  

Vroulike sterilisering het 'n mislukkingskoers van 0,5% en manlike sterilisering 0,15%.

Intra-uterustoestelle (IUT's) is ook doeltreffend. Die koper IUT het 'n mislukkingskoers van 0,8% en die Mirena een van 0,2%.

Vergeleke hiermee het inspuitings, die gewildste voorbehoedmiddel in Suid-Afrika, 'n tipiese mislukkingskoers van 6%.

Met gekombineerde hormoonmetodes soos die hormonale pil, 'n pleister of 'n vaginale ring is die tipiese mislukkingskoers 9%, met ander woorde 9 uit elke100 vroue sal binne die eerste jaar van gebruik swanger raak. Die tipiese mislukkingskoers van kondome is 18%.

Wat is van die ander voordele van hierdie metode?

Dit is nuttig omdat die pasiënt ná die inplanting daarvan kan vergeet.

Nog 'n voordeel is dat dit 100% omkeerbaar is. Sodra die inplanting verwyder is, verdwyn die hormone binne enkele dae uit jou liggaam en raak vroue feitlik onmiddellik weer vrugbaar.

Omdat dit 'n slegs progesteroon-metode is en die eierstokke laat "slaap", kan dit ook pynlike maandstondes met tot 70% verminder.

Laastens is dit kostedoeltreffend. Al kan die aanvanklike koste hoër as dié van sommige ander metodes wees, verteenwoordig dit steeds 'n reusebesparing uit ʼn openbaregesondheidsorg-perspektief vergeleke met die koste van 'n onbeplande swangerskap. Die koste van 'n normale bevalling in 'n staatshospitaal is min of meer R2 000 per dag en aborsies is selfs duurder as voorbehoeding.

Wat is sommige van die bekommernisse oor en nadele van hierdie metode?

Soos in die geval van enige hormonale metode kan vroue hormonale newe-effekte ervaar, maar dit is minder vergeleke met inspuitings weens die relatiewe klein hoeveelheid hormone wat afgeskei word.

Dit veroorsaak ook verdunning van die endometrium, derhalwe kan bloedingspatrone onvoorspelbaar wees. Dit is die algemeenste rede vir verwydering.

Vroue wil dikwels weet of dit hul gewig sal beïnvloed, maar Implanon word nie met gewigstoename verbind nie. Enige hormonale metode kan jou aptyt beïnvloed, maar die uitwerking is hoogs individueel.

Ander newe-effekte met progestogeen sluit moontlike buierigheid en irriteerbaarheid in, maar dit behoort nie kliniese depressie te veroorsaak nie.

Nog 'n komplikasie vir sommige vroue was die verwydering van die toestel in gevalle waar dit te diep ingeplant is. Opleiding vind plaas om verwyderingstegnieke te verbeter, maar enige vrou wat sukkel kan deur haar dokter of kliniek na 'n spesialis-gesinsbeplanningsentrum verwys word, waar die inplanting verwyder kan word.

Ofskoon sommige vroue newe-effekte kan ervaar, kan enige metode dit veroorsaak. Die voortgesette gebruikskoers van Implanon NXT is hoog. Dit beteken die voordele weeg vir die meeste vroue swaarder as die nadele.

*Dr Kluge is ook die kliniese hoof van die Leading Safe Choices (LSC)-projek, 'n skenker-gefinansierde inisiatief onder leiding van die Brits-gebaseerde Royal College of Obstetricians and Gynaecologists (RCOG), wat op gesinsbeplanning fokus. Die LSC-program lei gesondheids-beroepslui onder meer op om vroue oor swangerskapopsies en voorbehoeding voor te lig.

 Bykomende bronne: Guttmacher Institute (https://www.guttmacher.org/fact-sheet/induced-abortion-worldwide)

Caption: Dr Judy Kluge, Hoof van die Eenheid vir Gesinsbeplanning, en prof Stefan Gebhardt, Hoof van Algemene Spesialisdienste by die FGGW se Deaprtement Verloskunde en Ginekologie, is betrokke by die Leading Safe Choices-inisiatief.

Foto: Damien Schumann