Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties Sport se hoofdirekteur tot USSA-president verkies
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 23/05/2017

Ilhaam Groenewald was teenwoordig by die historiese vergadering wat op 16 April 1994 by die Universiteit van Port Elizabeth gehou is toe die hoofrolspelers in tersiêre sport eenparig besluit het om kragte saam te span en 'n verenigde nierassige oorkoepelende struktuur op die been te bring wat die sportbelange van alle studente sou verteenwoordig.

Iets het op daardie dag in haar opgevlam toe 78 tersiêre instellings die Suid-Afrikaanse Studentesportvereniging, nou bekend as Universiteitesport Suid-Afrika (USSA), amptelik gekonstitueer het.

Sy het die vergadering verlaat met 'n gevoel van hoop en die oortuiging dat sy 'n bydrae het om te lewer, en baan sedertdien 'n weg in tersiêre en Suid-Afrikaanse sportkringe. In 1994 was Ilhaam die bestuurder van die UWK-vlugbalspan. In April 2017, 23 jaar ná daardie historiese vergadering, is sy tot die 9de president van USSA verkies.

Sy sal 'n oorsig-, leierskap- en netwerkrol vervul en sal hierdie pligte saam met haar pligte as hoofdirekteur: Maties Sport en lid van SARU se bestuur uitvoer.

Die feit dat sy 'n sterk ondersteuningspan by Maties Sport het, maak dit vir Ilhaam moontlik om verantwoordelikhede soos dié te aanvaar.

"Dit is noodsaaklik om 'n kultuur van kollektiewe verantwoordelikheid en spanwerk te kweek," glo sy. "Jy kan niks op jou eie bereik nie.

"My leuse in die lewe is dat daar krag in passie is. As ons passievol is oor dit wat ons doen en ons verstaan die doel waarom ons hier is, kan ons ons droom uitleef."

Ilhaam glo sport het die vermoë om alle grense te oorbrug en die krag om 'n bevorderende omgewing te skep wat, op sy beurt, geleenthede vir jong mense skep.

"Sport bied 'n gelyke platform, ten spyte van die uitdagings wat ons het met betrekking tot transformasie, ongelykhede ten opsigte van geriewe, bestuur van sportprogramme, ens."

Haar droom vir die organisasie is dat dit sal bydra tot verandering en sal voortgaan om gesprekke in Suid-Afrika te vorm.

"Ons kan dit net bereik as daar kollektiewe visionêre leierskap is," het sy bygevoeg.

Haar doelwitte vir haar ampstermyn is gekoppel aan die Nasionale Sport en Ontspanningplan. Hierdie plan het drie pilare: (1) aktiewe nasie (2) wennasie (3) bevorderende omgewing.

"Tersiêre inrigtings kan bydra om 'n aktiewe nasie te skep deur deelname in sport op alle vlakke – of dit vir ontspanning of kompeterend is – aan te moedig en te verbeter.

"Die jaarlikse USSA-toernooie verskaf 'n platform vir die identifisering van talent, nie net vir USSA-spanne nie, maar ook vir nasionale ouderdomsgroep- en senior spanne. Daar is geleentheid om kapasiteit te bou wat betref personeel en ons het die kundigheid en geriewe om tot 'n suksesvolle hoëprestasieprogram by te dra. Dit lei tot 'n wennasie."

"Tersiêre instellings verskaf ook toegang tot tersiêre opleiding deur byvoorbeeld beurse toe te ken en ons belê baie in opleiding- en ontwikkelingsgeleenthede. Dit skep 'n bevorderende omgewing."

Sy het die instellings wat USSA-lede is aangemoedig om by te dra en 'n rol te speel om rigting gee aan gesprekke oor tersiêre sport.

In haar aanvaardingstoespraak het sy Steve Jobs as volg aangehaal: Your time is limited, so don't waste it living someone else's life. Don't be trapped by dogma - which is living with the results of other people's thinking. Don't let the noise of other's opinions drown out your own inner voice. And most important, have the courage to follow your heart and intuition. You somehow already know what you truly want to become. Everything else is secondary.

"Laat ons dus ons droom uitleef om sport in Suid-Afrika te versterk," het sy afgesluit.