Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Het ons Grondwet sy vervaldatum bereik?
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 21/05/2017

"Met die navorsing vir ons boek het ons in wese ondersoek wat die Grondwet vir verskillende belanghebbendes in Suid-Afrika beteken. Sodoende het ons op drie stringe betekenis afgekom: een wat verband hou met wat die Grondwet vir Suid-Afrikaners verteenwoordig as 'n stel reëls vir 'n demokrasie, of ook 'n tipe vredesverdrag; 'n ander wat verband hou met wat die Grondwet vergestalt – 'n konstitusionele kontrak, 'n maatskaplike kontrak, of 'n hulpmiddel om verdere mag vir die aanvanklike heersers te bekom, en 'n laaste een wat gaan oor waarvoor die Grondwet staan, met ander woorde of dit 'n stel reëls is om die wedersydse toegewings en verkrygings waaroor daar in 1996 ooreengekom is te handhaaf, 'n stel reëls om nasionale konsensus te bou, of reëls waardeur die regerende party algehele dominansie verkry," verduidelik prof Pierre du Toit van die Departement Politieke Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US), een van die drie skrywers van die boek South Africa and the Case for Renegotiating the Peace.

Die boek is deur SUN Press gepubliseer.                  

Onderhandelinge vir die Suid-Afrikaanse Grondwet het in 1991 met die Konferensie vir 'n Demokratiese Suid-Afrika (KODESA) begin. Twee jaar later is KODESA met die Veelpartyonderhandelingsforum vervang, wat die tussentydse Grondwet in 1993 aanvaar het. Ná Nelson Mandela se inhuldiging as president in 1994 het 'n Grondwetlike Vergadering – nou die Parlement – twee jaar daaraan bestee om die Grondwetsontwerp af te handel, wat uiteindelik op 11 Oktober 1996 deur 'n meerderheid van 85% aanvaar is. Dit is twee maande later uitgevaardig.

Tog, al word die Grondwet wêreldwyd geloof en as die wetlike grondslag van die Suid-Afrikaanse demokrasie beskou, is daar verskeie aanduidings dat die hoekstene daarvan wankelrig bly omdat die Grondwet vir verskillende mense verskillende dinge beteken, reken Du Toit en sy medeskrywers, dr Charl Swart van die Sentrum vir Navorsing oor Wetenskap, Evaluasie en Tegnologie (SENWET) en dr Salomé Teuteberg van die uitgewery Taylor & Francis.

Daar is sedert 1994 etlike voorbeelde van "voortdurende onenigheid oor waaroor die oorgang wat destyds beding is, gegaan het" en "waarvoor die uitkoms van die onderhandelinge, synde die demokratiese Grondwet, regtig staan", skryf die drie akademici. Dít sluit in uitlatings wat in 1998 in die Sunday Times verskyn het en aan Kgalema Motlanthe, die destydse sekretaris-generaal van die ANC, toegeskryf is. Motlanthe sou gesê het dat indien die regerende party in die verkiesing van 1999 'n tweederdemeerderheid sou verkry, die ANC "die grondwetlike beperkinge wat onafhanklike waghonde soos die Ouditeur-Generaal, die Openbare Beskermer en die Prokureur-Generaal oplê" sou hersien sodat die party "onbelemmerd" kon regeer. Hoewel hierdie uitlatings later teruggetrek is, het toenemende druk om die oogmerke van die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) te verwesenlik teen 2009 tot al hoe meer openbare gesprekke oor die doel van die Grondwet gelei. Die NDR is 'n na-apartheidsplan vir Suid-Afrika waarmee die SAKP vorendag gekom het en wat uit twee fases bestaan – die oorgang van politieke mag na die bevrydingsbeweging, gevolg deur maatreëls om volle beheer oor die ekonomie te verkry en verkieslik van 'n kapitalistiese tot 'n meer sosialistiese stelsel te beweeg.

Voormalige president FW de Klerk het in 2011 tot die debat toegetree en die NDR daarvan beskuldig dat dit "die grondwetlike balans probeer versteur".

"Dit het duidelik geword, en is steeds duidelik, dat daar groot meningsverskil oor die betekenis van die Grondwet bestaan," sê Du Toit. "Die debat handel nou meer direk oor die aard van die grondwetlike kompromieë waaroor daar ooreengekom is, die status daarvan, en of dit kernboustene van die Grondwet was en dus min of meer onaantasbaar is, of blote toevoegsels waarmee daar maklik weggedoen kan word. Die mees voor die hand liggende voorbeeld op die oomblik is die grondkwessie, wat met die eiendomsklousule (artikel 25 van die Handves van Regte) verband hou."

Presies dieselfde gedagtes is in 2011 verwoord in 'n artikel deur advokaat Ngoako Ramathlodi, 'n voormalige lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NEK), wat die toegewings wat die party gedoen het as "noodlottig" beskryf het, en die Grondwet as "een groot kompromie" wat grotendeels wit oorheersing bevoordeel.

Die voormalige ANC-beleidshoof, Jeff Radebe, het hom 'n jaar later by Ramathlodi aangesluit deur te sê: "Ons eerste oorgang vergestalt 'n raamwerk en nasionale konsensus wat moontlik gepas was vir politieke bevryding, 'n politieke oorgang, maar onvoldoende en onvanpas blyk te wees vir ons maatskaplike en ekonomiese transformasie."

Sedertdien was daar al 'n hele paar oproepe om 'n nuwe KODESA, veral ook in verskeie krisistye met betrekking tot grondhervorming, die onderwys en mynbou. Hoewel hierdie uitlatings normaal is vir stabiele, gekonsolideerde demokrasieë, meen Du Toit, Swart en Teuteberg dit is problematies vir "onlangs gedemokratiseerde, ongekonsolideerde samelewings wat nog van konflik herstel".

"In Suid-Afrika is daar baie op die spel, en teenstrydige vertolkings van grondwetlike reëls het implikasies vir beleidvorming, wat op sy beurt gevolge inhou vir hoe die samelewing en die ekonomie gereël word. Die toepassing van 'n beleidsopsie na aanleiding van een bepaalde vertolking van 'n grondwetlike reël bo 'n ander hou ook 'n groter gevaar in dat beleid kan misluk, met ernstige koste-implikasies waarvoor burgers uiteindelik sal moet instaan.

"Daarom voer ons in die boek aan dat die huidige ontevredenheid met beleidskwessies in Suid-Afrika inderwaarheid teruggevoer kan word tot wat uit die staanspoor 'n gebrekkige onderhandelingsproses was, en dat die meerderheidstem van 85% in 1996 ons verblind het vir die uiteenlopende vertolkings van waarvoor die dokument staan, wat dit verteenwoordig, en wat dit vir die verskillende partye in die onderhandelinge vergestalt het. Gevolglik het Suid-Afrika reeds vanaf die aanvang van sy demokrasie nasionale konsensus kortgekom oor hoe om demokrasie te konsolideer en die samelewing en die ekonomie te ontwikkel."

Op grond van navorsing deur die akademici Zachary Elkins, Tom Ginsberg en James Melton vir hulle boek The Endurance of National Constitutions van 2009 is die gemiddelde lewensduur van grondwette op 19 jaar vasgestel. Daarom is die ontnugtering oor die land se Grondwet wat baie Suid-Afrikaners tans beleef geen verrassing nie. Dié driestuks het die lewensduur van grondwette bepaal deur elke demokratiese grondwet in die wêreld buiten dié van Groot-Brittanje van 1789 tot 2005 te vergelyk en 935 individuele grondwetlike stelsels wat in meer as 200 nasiestate in werking gestel is te ondersoek. Hulle het bevind dat 746 van die 935 grondwette mettertyd vervang is, terwyl 189 nog teen 2005 van krag was.

Volgens Du Toit, Swart en Teuteberg kan ons ook uit 'n paar merkwaardige voorbeelde van heronderhandeling leer, veral dié in Maleisië en Libanon. Hierdie voorbeelde, sê Du Toit, toon hoe langdurige onenigheid oor hoe verskillende rolspelers hulle grondwet verstaan, tot chroniese beleidsmislukking en uiteindelik 'n nasionale krisis kan lei.

"Ons sien reeds tekens van 'n ontluikende krisis op eie bodem, en ook hoe meningsleiers daarop reageer. Teen die einde van 2016, toe die staatskapingskrisis op sy hoogtepunt was, het die Nelson Mandela-stigting byvoorbeeld 'n persverklaring uitgereik met 'n pleidooi vir ''n nasionale konvensie van belanghebbendes om die toekoms van Suid-Afrika verder as die onvolhoubare kwessies van die oomblik te herbedink'."

Die skrywers hoop dat teen die tyd wat krisisomstandighede onhoudbaar word vir die heersende elite en ander rolspelers, die weg reeds berei sal wees vir die herbedinging van die betekenis van die Grondwet eerder as om die Grondwet in die geheel te vervang. "Dít is nie 'n oproep om 'n nuwe KODESA nie; dit is eerder 'n oproep om 'n proses om juis daardie demokrasie waaroor ons aanvanklik in 1996 ooreengekom het te red." 

"Die herbedinging van grondwette het al in lande soos Libanon, Zimbabwe en Maleisië plaasgevind, maar slegs in uiterste krisisomstandighede. Ons kan dalk nog wegredeneer dat wat tans in Suid-Afrika gebeur 'n krisis is. Dít is omdat die elite byvoorbeeld nog van ontoereikende skoolstelsels en onderwys in die land kan ontsnap deur hulle kinders na privaat skole te stuur," verduidelik Du Toit.

"Maar wanneer ons werklike krisisomstandighede bereik, sal ons huidige politieke en sosiale rolspelers dalk daaraan moet dink om na die onderhandelingstafel terug te keer om die krisis te hanteer. Ons glo nie dit sal ideaal wees om die Grondwet in die geheel op die agenda te plaas nie, maar dat ons eerder daardie geleentheid moet benut om ons vredesonderhandelinge opnuut in oënskou te neem en weer te dink oor waarvoor ons Grondwet staan."

Hiervoor, sê Du Toit, is dit egter belangrik om openbare gesprekke oor 'n herbedinging van die Grondwet aan die gang te sit en dit nóú reeds deel van die openbare dialoog te maak. Hy reken dit verskil geensins van die klimaat wat ons aanvanklik in staat gestel het om die huidige Grondwet te beding nie.

"Dis soortgelyk aan toe David Welsh en Frederik Van Zyl Slabbert in 1978 'n boek getiteld South Africa's Options: Strategies for Sharing Power geskryf het. Hulle was die eerstes wat uit 'n akademiese hoek die saak vir die bedinging van 'n grondwet uit die apartheidstaat in die openbare domein geplaas het. Niks het in daardie stadium gebeur nie, maar in 1990 het die politieke konteks drasties verander en kon die onderhandelingspolitiek begin. Hulle het die konsep van politieke onderhandelinge aan Suid-Afrika bekend gestel sodat toe 1990 aanbreek, daar op verskeie vlakke reeds 'n bewustheid was dat dit gedoen kon word en dat ons kon herskik en opnuut aanpas by wat in daardie stadium nodig was. Binnekort kan dit wéér tyd wees daarvoor."

Diegene wat belangstel om die boek, South Africa and the Case for Renegotiating the Peace, te koop kan orders@africansunmedia.co.za kontak of die SUN Press aanlynplatform by www.sun-e-shop.co.za besoek om 'n kopie te bestel.