Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Projek Zero-beurs 'beste verjaarsdaggeskenk ooit'
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 19/05/2017

Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) het vanjaar sy tweede kohort Projek Zero-beurshouers verwelkom.

Toe William April verlede jaar op 27 Junie – sy 17de verjaarsdag – uitvind dat 'n Projek Zero-beurs aan hom toegeken is, was dit die "beste verjaarsdaggeskenk ooit".

Die vakansie het pas begin en dié voormalige leerder van New Orleans Sekondêr in die Paarl was by die HOPE@Maties-winterskool, 'n universiteitvoorbereidingsprogram wat aangebied word deur SUNSEP (die US se Sentrum vir Pedagogie), op Genadendal toe hy die nuus ontvang.

"Ek was oorstelp van vreugde en dankbaarheid oor hierdie geleentheid. Ek wil my graad en nagraadse studies suksesvol voltooi om sodoende my droom om 'n geoktrooieerde rekenmeester te word, te bewaarheid.

"Hierdie beurs het 'n finansiële las van my en my ouers se skouers afgehaal. Nou kan ek al my aandag aan my akademie skenk."

Die Projek Zero-inisiatief se doelwit is om die koste om aan die US te studeer vir talentvolle studente tot nul te verminder. Projek Zero-beurse, tesame met die Universiteit se werwing- en merietebeurse, dek dan die student se hele universiteitsrekening. Die beursaanbieding word op grond van akademiese meriete aan BSI-studente (bruin, swart en Indiër) gemaak, waarvan die helfte uit gemeenskappe met die swakste sosioekonomiese status kom.

Die volhoubaarheid van die inisiatief lê in die feit dat die fakulteit nie 'n groot blootstelling per student het nie – hulle betaal net die deel van die rekening wat nog nie deur ander beurse gedek is nie, hetsy dit R10 000 of R40 000 is – asook die feit dat die beurs oordeelkundig toegeken word. Slegs top– akademiese studente kwalifiseer daarvoor. Die Fakulteit werk onder meer nou saam met die Rachel's Angels-projek – 'n mentorskapprogram in 25 vennootskole – om potensiële beursontvangers te identifiseer.

Prof Stan du Plessis, voormalige dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het verlede jaar in 'n onderhoud verduidelik: "Die Projek Zero-beurs skuif die finansiële risiko van die student na die fakulteit en gee gemoedsrus sodat die student op sy/haar studies kan fokus.

"Hierdie inisiatief vorm deel van die fakulteit se visie vir sosiale impak. Dit is 'n buitengewoon kragtige intervensie, want dit is 'n unieke geleentheid wat studente weens hulpbrontekorte op geen ander manier sou kon ontsluit nie."

Die eerste kohort Projek Zero-beursontvangers het hul voorgraadse reis aan die US in 2016 begin. Die meeste van die studente wat die beurs aanvaar het, het vir 'n graad in aktuariële wetenskap of rekeningkunde geregistreer. Altesame 16 van die 18 studente wat deel is van die 2016-kohort het verlede jaar al hul modules geslaag en vier van hulle handhaaf 'n gemiddelde van bo 75%.

Die 2017-kohort bestaan tans uit 20 lede, waarvan tien vir 'n graad in rekeningkunde ingeskryf het en agt vir 'n graad in aktuariële wetenskap.

Volgens prof Du Plessis is geen skenking of bydrae te klein nie.

"Tot dusver is die belangstelling in hierdie projek baie bemoedigend," sê hy. "Skenkers identifiseer met die visie van die beurs, naamlik om toegang tot hoër onderwys te gee vir belowende studente wat nie andersins daardie geleentheid sou kry nie. Sodanige toegang verander nie net die student se lewe dramaties en positief nie, maar gewoonlik ook die vooruitsigte van sy of haar familie."

Die beursfonds het aan die begin van die jaar 'n finansiële hupstoot gekry toe die Banksektor Onderwys- en Opleidingsowerheid (BANKSETA) R2,3 miljoen daarvoor geskenk het.

Dit is moontlik om geld vir die Projek Zero-projek te oormerk. Kontak die fakulteitsbestuurder, MJ Brooks, by 021 808 2078 of mjbrooks@sun.ac.za as jy 'n bydrae wil maak.