Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
"(By)derwetse" inkopiesakke finansier navorsing oor by-ekologie
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 28/03/2017

Met elke "Bee friendly, Bee aware" inkopiesak wat jy by Woolworths koop, gaan R10 aan Kayla Lawson, 'n MSc-student van die Universiteit Stellenbosch (US) se navorsing oor die mikrobiale ekologie van heuningbye.

Kayla ondersoek die effek van alledaagse stresfaktore op die immuunsisteem van heuningbye, sowel as die impak wat dit het op die mikrobiese gemeenskap wat in die spysverteringskanaal van die heuningby voorkom.

"Ons gaan fokus op spesifieke stresfaktore soos die blootstelling aan landbouchemikalieë en patogene infeksies soos Amerikaanse jongbysiekte, sowel as wat gebeur wanneer bye se diëte beperk word tot 'n monokultuurgewas, wat dus hul toegang tot 'n verskeidenheid van voedingstowwe beperk," verduidelik sy.

Tans word algemeen in wetenskaplike literatuur aanvaar dat heuningbye se mikrobioom 'n belangrike rol speel om hul immuunsisteme gesond te hou, maar tot nog toe kon navorsers nie bewyse vind van 'n direkte verband tussen hierdie twee faktore nie.

Prof. Karin Jacobs, 'n mikrobiese ekoloog in die US se Departement Mikrobiologie en haar studieleier, sê terwyl die mikrobioom van soogdiere goed verstaan word, is navorsers nog nie eers "by die oortjies van die seekoei" wanneer dit kom by die verstaan van die mikrobiese ekologie van insekte soos heuningbye nie.  

Kayla se navorsing sal een van die belangrike vrae beantwoord oor die mikrobiese gesondheid van heuningbykolonies en die weg baan vir meer gefokusde navorsing en intervensies.

Skarefinansiering vir heuningbynavorsing

Die verkryging van finansiële steun vir Kayla se navorsing deur middel van Woolworths se Good Business Journey inisiatief, in samewerking met Bags4Good, was die inisiatief van mnr. Mike Allsopp. Hy is een van Suid-Afrika se voorste kundiges op die gebied van heuningbye en werksaam by die Landbounavorsingsraad (LNR) se Vredenburg Navorsingsentrum buite Stellenbosch.

Kayla het as derdejaarstudent met mnr. Allsopp kennis gemaak toe sy as lid van 'n Mikrobiologie-klasgroep, 'n projeknavorsingsvoorstel moes formuleer.

"Prof. Jacobs het ons toegelaat om op eie inisiatief ons projekte te kies. Ons het toe besluit om iets te doen oor bye wat uitsterf en het mnr. Allsop gekontak vir 'n onderhoud," verduidelik sy.

Met hul aankoms by die LNR moes die groep egter eers na 'n uurlange lesing luister oor waarom heuningbye nié besig is om uit te sterf nie, en waarom hulle meer krities moes wees met die lees van internetartikels! Vir haar nagraadse studies het Kayla toe besluit om die heuningbynavorsing voort te sit.

"Ek was nie geïnteresseerd daarin om 'sommer net' 'n projek te doen nie. Ek wou iets doen wat 'n verskil sou maak," beklemtoon sy.

Maar die "Bee friendly, Bee aware" veldtog gaan nie net oor fondswerwing nie. Dit is ook 'n manier om bewustheid te kweek oor die moeilike posisie waarin heuningbye hulle bevind.

Het jy byvoorbeeld geweet dat heuningbye bykans vyf miljoen blomme moet besoek en ongeveer 100 000 kilometer moet aflê om een pot heuning te produseer? Of dat 68 van die 92 hoofgewasse wat in winkels verkoop word, direk deur heuningbye bestuif word?

Wat is besig om met heuningbye te gebeur?

Volgens mnr. Allsop is daar 'n algemene wanpersepsie dat heuningbye aan die uitsterf is.

Alhoewel daar in die Verenigde State en die Europese Unie 'n groot afname in bestuurde heuningbykolonies waargeneem is, het 'n 2009 studie bevind dat die aantal bestuurde heuningbykorwe wêreldwyd toegeneem het met ongeveer 45% sedert die 1950s. Terselfdertyd het die vraag na dierebestuiwingsdienste egter met 300% toegeneem.

"Suid-Afrika se heuningbye is nié kwesbaar nie en is nié op die rand van uitsterwing nie. Hulle is egter onder groot druk as gevolg van mense se doen en late, soos die gebruik van plaagdoders, die verandering ten opsigte van landbougrondgebruik en 'n groeiende bevolking."

Verbruikers kan egter 'n verskil maak deur byvoorbeeld inheemse blomplante en bome te plant, nie plaagdoders in die tuin te gebruik nie en natuurlike habitat te beskerm.

Volg Kayla se navorsing by www.instagram.com/bee_friendly_bee_aware/

Op die foto, MSc student Kayla Lawson met die"Bee friendly, Bee aware" inkopiesakke van Woolworths waarvan die verkope haar navorsing by die Universiteit Stellenbosch oor die ekologie van bye sal ondersteun. Foto: Wiida Basson

Kontakbesonderhede

Prof. Karin Jacobs

Tel: (021) 808 5689

E-pos: kj@sun.ac.za

Media navrae

Wiida Fourie-Basson

Media: US Fakulteit Natuurwetenskappe

Tel: +27 _21 808 2684

E-pos: science@sun.ac.za

Facebook: https://www.facebook.com/StellenboschUniversityScience/

Twitter: @scienceSUN @StellenboschUni