Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Is ons regtig slimmer as voëls?
Outeur: Alec Basson
Gepubliseer: 23/03/2017

Is mense en ander soogdiere regtig slimmer as voëls? Wel nie regtig nie.

Só meen prof Onur Güntürkün, Professor vir Biosielkunde aan die Ruhr Universiteit in Bochum Duitsland en ook 'n genoot van die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS). Hy het op Woensdag (22 Maart) die tweede STIAS-lesing van 2017 gelewer.

Güntürkün het gesê die manier waarop voëls kognitiewe probleme oplos is feitlik identies aan die wyse waarop ons dit doen. Hy het bygevoeg dat daar 'n hoë vlak van kognitiewe ooreenkomste tussen voëls en soogdiere is.

"In teenstelling met die klassieke beskouing van neurowetenskap dat soogdiere die enigste groep diere is wat komplekse kognitiewe vermoëns het , kan voëls ook slim goed doen."

"Toets het getoon dat eksters (magpies) met 'n brein grootte van 10 gram dieselfde vlak van voorwerp-permanensie ('n voorwerp is weggesteek, maar jy weet dat dit steeds bestaan) as mense bereik. Hulle bereik dit vroeër en vinniger as ons."

"Die mees interessante aspek is dat hulle tydens hierdie toetse dieselfde foute as kinders maak."

"Ons kon ook wys dat eksters hulself in die spieël kan herken. Hierdie voëls was nie gekondisioneer om dit te doen nie."

Volgens Güntürkün is dit merkwaardig omdat sover vasgestel kon word net drie soogdierspesies – sjimpansees, mense, oerangoetangs – hulself in die spieël herken.IMG_9698-smoothed.jpg

Güntürkün het ook verwys na New Caledonion-kraaie wat natuurlike materiaal soos stokkies gebruik om hakies te maak wat dan geslyp word om hul kos mee te vang.

" ʼn Kraai genaamd Betty kon gedurende ʼn eksperiment 'n stukkie draad wat reguit was buig om kos uit 'n buis te haal."

Güntürkün het gesê ʼn sekere groep voëls (corvids) en papegaaie het beter gevaar as ape en sjimpansees in 'n eksperiment soortgelyk aan die malvalekker-eksperiment wat met klein kinders in die laat 1960's en vroeë 1970's gedoen is. Hulle kon etlike minute langer as ape en sjimpansees wag om later ʼn beter lekkerny te kry as die een wat onmiddellik aan hulle gebied is.

"Navorsing het ook bewys dat duiwe selfs in staat is om Engelse woorde te leer."

Güntürkün het gesê voëls doen hierdie dinge ten spyte van hul klein breine en die afwesigheid van 'n korteks. Die korteks is die struktuur rondom die brein van mense en ander soogdiere en speel 'n belangrike rol in, onder andere, geheue, aandag, denke en taal.

Volgens Güntürkün het voëls ʼn area in hul breine wat, hoewel nie presies dieselfde soos soogdiere se prefrontale korteks nie, byna identiese konneksiepatrone het en in bykans alle aspekte soortgelyk is aan die prefrontale korteks. Die prefrontale korteks is die gedeelte van die brein wat betrokke is by probleemoplossing, prosessering van komplekse gedagtes en emosies.

"Die neurale konneksies in duiwe se breine (oftewel die connectome) is bykans soortgelyk aan die van mense, ape en katte."

Güntürkün meen die feit dat voëls ook 'n hoër digtheid van neurone het verminder die gaping tussen die breine van voëls en soogdiere.

"Wanneer ons voëls en soogdiere met mekaar vergelyk moet ons nie die groote van die brein of die aantal neurone gebruik om kognitiewe vermoëns te voorspel nie," het hy gesê.

  • Hooffoto: Pixabay
  • Foto 1: Prof Onur Güntürkün aan die woord by die STIAS-lesing. Fotograaf: Justin Alberts