Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Woordfees gaan van krag tot krag
Outeur: Elsabé Retief
Gepubliseer: 17/03/2017

Met beter kaartjieverkoping en bywoning as in vorige jare, gaan die Universiteit Stellenbosch (US) Woordfees steeds van krag tot krag. Die fees, wat Sondag (12 Maart) ten einde geloop het, het ook 'n besonder goeie teaterjaar beleef, aldus die feesdirekteur, Saartjie Botha.

Die totale kaartjieverkope het met 12% gestyg teenoor dié van 2016. Die verkoop van boeke en visuele kuns is ook meer as in vorige jare.

"Vanjaar se fees was vir my 'n baie positiewe ervaring; dit was lekker!" sê Botha. "Ek is baie trots op wat ons vermag het en dankbaar vir die mense wat so ongelooflik hard gewerk het om dit te laat gebeur."

Volgens Botha is veral die teater goed ontvang. "Veelbesproke stukke, soos Wild, Sing jy van Bomme, Piekniek by Dingaan en Martelsang, se verkope het gedurende die fees heelwat groei in kaartjieverkope getoon. Ooms, So ry Miss Daisy, Laurika Rauch met Loki Rothman: Blou en Ballades was die topverkopers en het voor uitverkoopte sale gespeel."

Die film- en skrywersprogram en diskoersreeks het ook ʼn besondere groei in bywoning getoon. Die opkoms by die diskoerse was verblydend – mense wil tog weet wat met ons ekonomie en selfs met Amerika onder president Donald Trump gaan gebeur. Die Vriende van Afrikaanse se gesprek tussen afgetrede regter Albie Sachs en Saartjie Botha oor Afrikaans se toekoms, was 'n besondere hoogtepunt.

Ook Stellenbosch360 se debat, "Is Stellenbossers dwarstrekkers?", was positief omdat dit aangedui het dat die burgemeester, adv Gesie van Deventer, dit haar taak maak om gemeenskappe te konsulteer en dat die US gretig is om met die munisipaliteit saam te werk.

Akademici, studente en alumni van die US was goed verteenwoordig in al die genres aangebied by die fees – diskoerse, boekbesprekings, in toneelstukke en ook in musiekuitvoerings. Die US Simfonieorkes is altyd gewild, US Camerata het opgetree met die befaamde Tim Kliphuis-trio (foto), die Universiteitskoor het mense van heinde en verre bekoor, die Stellenbosch Libertaskoor het sy gewilde bydrae gelewer, om net 'n paar hoogtepunte te noem.

Die WOW-projek wat ten doel het om leerders se perspektiewe te verruim is vanjaar deur omtrent 2 500 leerders en 600 opvoeders vanuit gebiede so ver as Piketberg en Bredasdorp, sowel as uit die Oos-Kaap bygewoon.

Die WOW-dag vir graad 12-leerders het na 'n praatjie deur die plaaslike rolmodel Sherlin Barends van GoodhopeFM- en MFM-faam geluister en ook na haar inspirerende gesprek met die akteur Dann-Jacques Mouton, wat in Noem my skollie gespeel het.

By die WOW Onderwysersforum het 300 onderwysers en finalejaar-onderwysstudente kom luister na Marita van der Vyver se gesprek oor haar jeugboek, Al wat ek weet. Later in die week het die leerders wat deel was van die WOW-leeskringe, aan ʼn skrywersfees deelgeneem in samewerking met Lapa-uitgewers, en altesame 40 spanne het aan die jaarlikse WOW-debatfees deelgeneem.

Die Verf- en Vers-werksessies is deur 250 leerders en 60 opvoeders van laerskole in die Wes-Kaap bygewoon, waar hulle touwys gemaak is in die kuns van letterkunde en visuele geletterdheid. Sowat 200 graad 2- en 3-leerders het ook spesiale toneelvertonings van Heidi en die Sneeukoningin bygewoon.

Die kontantlose stelsel, wat vanjaar vir die derde keer toegepas is, vind ook al meer byval. "Feesgangers aanvaar die stelsel en die redes waarom ons dit gebruik," sê Botha. "Die gerief en veiligheid vind ook al hoe meer byval."

Twee nuwe feesplekke – Jan Marais Natuurreservaat en Hoërskool Cloetesville– het volgens Botha baie goed gewerk en sal in die toekoms beslis weer ingespan word, tesame het Amazink in Kayamandi, asook die hoërskole Lückhoff en Stellenbosch, wat die fees op die wyse 'n ware dorpsfees maak.

Klagtes van die publiek wat weens spitsverkeer, veral Vrydagmiddag, laat was vir produksies, sal volgende jaar in die skedulering aangespreek word, het Botha verseker.

Die wenners van die US Woordfees se WoordTROfees word op 25 April aangewys. Die datums vir die US Woordfees 2018 is 2 tot 11 Maart (onderhewig aan goedkeuring deur die US Bestuur).