Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
M-student trek te perd in Mongolië vir haar navorsing
Outeur: Corporate Marketing/ Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 15/03/2017

Soms neem die navorsing vir jou Meestersgraad 'n ongewone wending en lê jy honderde kilometer te perd af om genoeg inligting vir jou navorsing in te samel.

Dit was die geval vir Barbara Seele, M-student aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit AgriWetenskappe wat te perd in Mongolië gereis het om onderhoude met nomadiese veewagters te voer om meer van hul gebruik van medisinale plante te leer.

Mongolië, 'n land tussen China en Rusland, het 'n bevolking van sowat 2.8miljoen mense. Die land word veral gekenmerk deur riviere, strome, majestueuse berge, golwende graslande en uitgestrekte grasvlaktes. Byna 'n  derde van die inwoners van Mongolië is nomadiese veewagters.

Barbara het Maandag (14 Maart) haar M-graad tydens die Maart Gradeplegtigheid verwerf. Haar navorsing het gefokus op hoe die nomadiese Mongoolse stamme medisinale plante vir hul vee aanwend en hoe hierdie inheemse kennis behoue kan bly. Hierdie navorsing is ook relevant in  Suid-Afrika waar navorsers al meer op die gebruik van medisinale plante fokus.

Barbara vertel nadat sy aan 'n uithourit in 2013 in Mongolië deelgeneem het, en gesien het hoe die mense daar hul vee teen siektes met plante behandel, was sy baie geintereseerd om na die land terug te keer en meer te leer.

"Dit is 'n ongewone onderwerp om na te vors, maar my studieleiers het my voortdurend ondersteun en sonder hulle sou ek dit nie kon doen nie."

ONDERSKRIF: Barbara Seele het honderde kilometer te perd in Mongolië afgelê om die navorsing vir haar M-graad te voltooi. FOTO: Hannes Wiese