Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe Nadoktorale Vereniging bevorder navorsing op die Tygerberg-kampus
Outeur: Tygerberg Postdoctoral Society
Gepubliseer: 19/02/2016

Weggesteek binne die verskillende afdelings en navorsingsfasiliteite van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch (US), is ʼn groep individue wat baie van die Fakulteit se kenniskapitaal produseer – naamlik die na-doktorale genote.

Hierdie individue het onlangs hulle doktorale studies voltooi en werk onvermoeid om hulle kennis te verbreed en nuwe navorsing in hulle gekose akademiese velde te produseer.

Die Tygerberg Nadoktorale Vereniging (T-NDV) is in Augustus 2015 gestig onder leiding van prof Nico Gey van Pittius, Visedekaan: Navorsing aan die FGGW, om die nodige infrastruktuur en ondersteuningsdienste op die Tygerberg-kampus beskikbaar te stel aan hierdie groep jong navorsers.

Die US se Nadoktorale Vereniging (US-NDV) wat op die Stellenbosch-kampus geleë is, voorsien in sommige van die akademiese, sosiale, administratiewe en gemeenskapsbehoeftes van hierdie vroeë-loopbaan navorsers, maar die groot geografiese afstand tussen die twee kampusse het ʼn mate van verwydering tussen die FGGW se groep nadoktorale genote en die US-NDV laat ontstaan.

"Ons verwag dat die Tygerberg-tak die aanbod van die US-NDV sal bevorder en die Tygerberg-kampus se nadoktorale genote meer betrokke by dié vereniging en ook die universiteit sal maak," sê dr Warren Vieira, die Voorsitter van die T-NDV.

Buiten om beter samewerking met die US-PDS te bewerkstellig, sal die T-PDS ook kampus-spesifieke ondersteuning aan die FGGW se nadoktorale genote bied. "Die Uitvoerende Komitee van die T-PDS het ʼn elektroniese meningsopname gedoen om kernprobleme te identifiseer wat eerste aangepak sal word," het Vieira gesê. ʼn Stel doelwitte - wat gebaseer is op probleme en behoeftes wat deur die plaaslike genote geopper is– is saamgestel en sal in 2016 aangespreek word.

"Bo aan die agenda is inisiatiewe om loopbaanontwikkelingsprogramme te fasiliteer wat spesifiek op nadoktorale genote gerig is, om ʼn gemeenskapsgevoel tussen die lede van die groep en die US te ontwikkel, om ʼn nadoktorale kantoor op die Tygerberg-kampus te vestig en om ʼn webwerf te skep met inligting wat spesifiek op nadoktorale genote van toepassing is," sê Vieira.

Die T-NDS sal, in samewerking met die bestuur van die FGGW, die nadoktorale genote op die kampus voorsien van akademiese, administratiewe, sosiale en gemeenskapsondersteuning. Vieira dink hierdie onderneming sal help om aan hierdie groep navorsers die nodige waardering en erkenning te gee wat hulle verdien.

"Wees dus voorbereid op opwindende nuwe ontwikkelings in die toekoms," sê Vieira. "Nadoktorale genote wat ons wil kontak kan ʼn epos stuur aan tygerbergpds@sun.ac.za."

Besoek ook hulle webtuiste, www.sun.ac.za/TygerbergPDS.

Foto: Lede van die Tygerberg Nadoktorale Vereniging tydens ʼn onlangse werkswinkel wat op die Tygerberg-kampus aangebied is

 

Hierdie artikel het in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se digitale publikasie, VIVUS, verskyn. Besoek www.sun.ac.za/FGGWpublikasies om in te teken.