Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsing help verskerp stryd teen TB
Outeur: Alec Basson
Gepubliseer: 28/01/2016

​Die stryd teen tuberkulose (TB) kan ʼn hupstoot kry indien die bakterium wat die siekte veroorsaak verhoed kan word om sy eie vitamien te vervaardig. Dít is een van die bevindinge van ʼn studie wat by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) gedoen is.

Dr Carine Sao Emani van die FGGW se Departement Biomediese Wetenskappe het as deel van haar onlangse doktorsgraad in Molekulêre Biologie gevind dat dit moontlik is om die TB-bakterium te keer om die vitamien ergotioneïen te vervaardig. Haar studie het gewys die organisme benodig hierdie vitamien vir oorlewing. Mense het ook ergotioneïen nodig vir ʼn gesonde brein, oë en vel, en verkry dit deur onder andere sampioene, boontjies en hawermout te eet.

Sao Emani se navorsing het getoon dat die inhibering van die TB-bakterium se vermoë om die vitamien te vervaardig die weg kan baan vir die ontwikkeling van ʼn nuwe middel teen die siekte, veral aangesien middelweerstandige TB aan die toeneem is. 

Ten einde vas te stel wat sou gebeur indien die bakterium nie meer sy eie ergotioneïen kon vervaardig nie, het Sao Emani dit geneties gemanipuleer in ʼn laboratorium waar die toestande soortgelyk was aan dié van ʼn menslike sel met aktiewe TB.

"Die mikrobes het inderdaad verswak en selfs gesterf toe hulle nie meer ergotioneïen kon vervaardig nie. Ons het die eksperiment herhaal, maar hierdie keer die gewysigde bakterieë in toestande soortgelyk aan dié van menslike selle met latente TB geplaas," sê Sao Emani.

"Ons het gevind die mikrobes sukkel om te groei wanneer hul voedingsbronne uitgeput is. Met ander woorde, indien ʼn middel die TB-bakterium sou kon verhoed om ergotioneïen te vervaardig, sou dit teen beide aktiewe en latente TB effektief kon wees."

Sao Emani sê noudat die presiese vitamien-produserende ensieme in TB-bakterieë geïdentifiseer is en hul produksievermoë geïnhibeer kan word, hoop hulle hierdie inligting sal farmaseutiese maatskappye help om medisyne te ontwikkel wat spesifiek die vitamien-produserende ensieme teiken en só aktiewe en latente TB sal help genees.

"Ons bevinding is beduidend omdat ʼn derde van die wêreldbevolking latente TB het, wat dit moeilik maak om die siekte doeltreffend te bekamp," sê Sao Emani.

"In ʼn land waar 80% van die bevolking latente TB het  ̶  en waar MIV, diabetes, vetsug, swak voeding en alkoholisme die reaktivering van latente TB kan verhoog – sal ʼn behandeling soos hierdie werklik ʼn deurbraak wees."

Sao Emani sê die volgende stap sal wees om die gedrag van die gewysigde bakterieë in menslike selle en monsters van diereweefsel te toets.

"Sodra ons seker is dat die bakterieë in hierdie selle sukkel om sonder hul vitamien-produserende ensieme te oorleef, sal dit dalk vir chemici moontlik wees om middels te ontwikkel wat die spesifieke ensieme kan blokkeer."

"Aangesien ons kon aandui watter ensieme noodsaaklik is vir die vervaardiging van ergotioneïen, kan middels ontwikkel word om dit te teiken."

Vergeleke met huidige medikasie, sal hierdie middels moontlik effektief wees in laer dosisse en die periode van behandeling sal ook korter wees, sê Sao Emani. Sy meen dit sal probleme rondom swak nakoming van behandelingsprogramme verminder.

 

 

Dr Carine Sao Emani (links) by haar gradeplegtighed saam met prof Jimmy Volmink, die Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. 

 

Medianavrae:

 

Mandi Barnard
Bemarkingskoördineerder
+27 (0)21 938 9505
mandi@sun.ac.za
Afdeling Bemarking en Kommunikasie
Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
Universiteit Stellenbosch       

Martin Viljoen
Algemene navrae: Universiteit Stellenbosch
+27 21 808 4921
media@sun.ac.za

Webwerf:        www.sun.ac.za/health
Facebook:       www.facebook.com/SUhealthsci
Twitter: @SUhealthsci