Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Historiese Agtergrond van Universiteit Stellenbosch

​​

​Die geskiedenis van die Universiteit Stellenbosch (US) strek sover terug as die 17de eeu toe gereelde skoolonderwys in 1685 op die dorp Stellenbosch begin het. Met die stigting van die Teologiese Seminarium van die Nederduits Gereformeerde Kerk in 1859 het hoër onderwys op die dorp wortel geskiet. In Desember 1863 is die grondslag gelê vir die oprigting van die Stellenbosch Gimnasium wat in 1866 gestalte gekry het.

In minder as ʼn dekade na die stigting van die Gimnasium het die sogenaamde Arts Department in 1874 tot stand gekom. Daar was aanvanklik 120 leerlinge en twee professore in onderskeidelik Wiskunde en Natuurkundige Wetenskappe, en Klassieke en Engelse Letterkunde. In 1879 is daar besluit om ʼn behoorlike kollege-gebou op te rig om meer ruimte vir onderrig te skep. Die nuwe gebou is op 6 November 1886 ingewy en in 1887 herdoop na die Victoria Kollege as deel van  Koningin Victoria se goue jubileum – vyftig jaar nadat sy die Britse troon bestyg het.

In die tydperk 1897-1900 het die Victoria Kollege ʼn gedaanteverwisseling ondergaan met die oprigting van verskillende fasiliteite soos die Fisika-laboratorium, die Christian-Marais-biblioteek en geboue vir Opvoedkunde en Natuurwetenskappe. ʼn Kollege-uitbreidingskema wat in 1904 in die lewe geroep is, het gelei tot die stigting van Leerstoele in Dierkunde, Plantkunde, Geskiedenis en Toegepaste Wiskunde. In 1911 is die eerste professor in Opvoedkunde aangestel.

Nadat die Universiteitswet in 1916 deur die destydse Unie-parlement van Suid-Afrika aanvaar is, was die weg oop om ʼn universiteit te stig. Op 2 April 1918 het die Victoria Kollege die Universiteit (van) Stellenbosch geword danksy ʼn skenking van £100 000 deur ʼn plaaslike weldoener, mnr Jan Marais van Coetzenburg. Sy standbeeld staan vandag op die Rooiplein op die kampuskern, en sy Victoriaanse huis op Coetzenburg is die tuiste van Maties Sport.

Teen 1917 was daar 503 studente en 40 doserende personeellede by die Victoria Kollege. In die daaropvolgende dekades het die getal studente en personeel aan die Universiteit Stellenbosch drasties toegeneem, en sy akademiese aanbod uitgebrei tot die huidige 10 fakulteite – Agriwetenskappe, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Ingenieurswese, Krygskunde, Lettere en Sosiale Wetenskappe, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde, Regsgeleerdheid en Teologie – op vyf kampusse.

Teen 2013 het die instelling byna 28 000 studente (meer as 3 000 buitelandse studente), 939 dosente en sowat 50 navorsings-en diensafdelings.

Politieke beroeringe

Die Universiteit Stellenbosch het nie politieke beroeringe van die apartheidsjare vrygespring nie. Dele van die kernkampus is gebou op die Die Vlakte, die gebied tussen die hedendaagse Victoria-, Bird- en Joubertstraat en Banhoekweg. Bruin Stellenbossers het op Die Vlakte gewoon, maar was deel van die gedwonge verskuiwings onder die Groepsgebiedewet (Wet no 41 van 1950). Dié wet is op 27 April gepromulgeer – die dag wat vandag as Vryheidsdag in Suid-Afrika gevier word. Die doel van die wet was om verskillende rassegroepe in verskillende woongebiede te segregeer.

Die ou Lückhoff Skool in Banhoekweg was die kern van Die Vlakte en die eerste Afrikaanse hoër skool vir bruin kinders in die Boland. Die skoolgebou is in 1938 opgerig nadat die skool in losstaande huise en geboue begin het. Leerders van tot so ver as Namibië het daar skoolgegaan en teen 1969 het die skool meer as 1 000 leerders gehad. Op 30 Oktober 1969 moes die leerders weens die Groepsgebiedewet met hul skoolbanke van die ou skool na die nuwe skoolgebou in Idasvallei stap.

Die feit dat die ou skoolgebou aan die Universiteit Stellenbosch oorgedra is, het vir bykans 40 jaar skeiding tussen die universiteit en die Stellenbosse bruin gemeenskap meegebring. In 2007 het die Universiteit as 'n simbool van versoening en transformasie die skoolgebou simbolies aan die gemeenskap opgedra nadat die US ook die samestelling van In ons bloed, 'n boek oor die mense van die Die Vlakte in 2006 ondersteun het. Sedertdien is daar in 2008 en 2009 'n permanente foto-uitstalling in die gebou aangebring om erkenning te gee aan oudleerlinge van die skool wat prominente persone in die Suid-Afrikaanse samelewing geword het.

Die US se afdeling vir Maatskaplike Impak en Matie-gemeenskapsdiens word tans in die ou skoolgebou gehuisves, asook 'n aantal nie-winsgewende en gemeenskapsorganisasies. Die Fakulteit Regsgeleerdheid se opgeknapte Regshulpkliniek en die moderne gebou van die Afrikasentrum vir MIV en Vigsbestuur wat in 2012 geopen is, grens aan die ou Lückhoff-gebou. Daardie hoek van die destydse Vlakte is vandag 'n baken van hoop en versoening, en simbolies van hoe die Universiteit Stellenbosch se kundigheid in diens van die samelewing aangewend word om 'n tasbare verskil in mense se lewens te maak.