Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​Van 29 September tot 3 Oktober vier die Universiteit Stellenbosch (US) weer diversiteit en inklusiwiteit, en soos verlede jaar wag daar ʼn week vol opwinding op studente en personeellede.

Hoogtepunte sluit in musiekkonserte deur Vicky Sampson, Desmond and the Tutus, Dans Dans Lisa en Crazy White Boy, en skreeusnaakse optredes deur die maatskaplike kommentators en komediante Chester Missing, Anne Hirsch en Deep Fried Man. ʼn Verskeidenheid plaaslike kunstenaars sal die verhoog met hulle deel.

Die aktiwiteite vind weer meestal op die Rooiplein plaas, en vanjaar word daar gepoog om samehorigheid te skep met ʼn "dorpie" tente en stalletjies wat vir die duur van die week opgerig gaan word.

Dít sluit aan by vanjaar se tema, "Glocal is lekker", asook die feit dat die logo van Diversiteitsweek vir 2014 aangepas is om die Afrika-vasteland uit te beeld – alles in konteks van die viering van 20 jaar van demokrasie in Suid-Afrika.

"Die betekenis van die tema word doelbewus oopgelaat vir interpretasie, maar ons het probeer om die Universiteit se standpunt dat ʼn verskeidenheid mense en idees ʼn bate vir ʼn 21ste-eeuse hoëronderwysinstelling is, te verwoord," sê Monica du Toit van die Sentrum vir Inklusiwiteit, wat die geleentheid vanjaar reël.

Inklusiwiteit is een van die hoekstene van die US se Visie 2030, wat verlede jaar deur die Universiteitsraad goedgekeur is. Hiervolgens streef die US daarna om toegang tot Maties te verbreed en ʼn verwelkomende institusionele kultuur te bevorder.

"Diversiteitsweek is verlede jaar verwelkom as ʼn stap in die regte rigting. Dit het uitgewys hoe belangrik inklusiewe sosiale ervarings in die ontwikkeling van bekwame denkleiers, innoveerders en gegradueerdes is," sê Du Toit.

"Ons bou voort op 2013 se suksesse, maar daar is ook ʼn klomp vars, skeppende idees wat voortgevloei het uit intensiewe oorlegpleging met ʼn verskeidenheid studenteleiers en -strukture."

Logo AFR.png


comp_tshirt.jpg
facebook.jpg twitter.jpg

Twitter

Youtube


​​
​​