Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voltooiing van die opknappingswerk by die Biblioteek

Dit is vir ons aangenaam om bekend te maak dat die US Biblioteek se Opknappingsprojek voltooi is. Konstruksie het in Februarie 2021 begin en is aan die begin van Mei 2022 voltooi. Die amptelike oorhandiging aan die Biblioteek het op 13 Mei 2022 plaasgevind. Behalwe vir enkele haakplekke, is die projek nou afgehandel.

Die projek is in drie oorvleuelende fases aangepak:

Fase 1 het bestaan uit die opgradering van die kliëntedienstoonbank, kortleen- en verwante werkareas vir personeel, personeeltoilette en studentetoilette op die laer vlak.

Tydens Fase 2 is studieareas en nuwe vloerbedekking in die middelste gedeelte van die boonste vlak aangebring

Fase 3 het die opgradering van die ingangsportaal, toegangsbeheer en nuwe sekuriteitsarea behels, sowel as 'n nuwe ontspanningsleesarea en die installering van nuwe werktafels vir studente langs die dubbelvolume-ruimte

Ons bedank graag al ons kliënte vir hul geduld, begrip en verdraagsaamheid tydens die opknappingswerk. Die werk was baie ontwrigtend, maar ons glo dat hierdie opknappings gaan verseker dat kliënte toegang het tot gerieflike en doeltreffende ruimtes wat pas by 'n wêreldklasbiblioteek in 'n wêreldklas-navorsingsuniversiteit.

Kontak gerus vir Delene Pretorius vir meer besonderhede.