Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Só verander gradeplegtighede in Desember

Daar is belangrike veranderinge met die komende gradeplegtighede waarvan personeel kennis moet neem. Eregrade word voortaan toegeken by die gradeplegtigheid waar die studente van die betrokke fakulteit gradueer, en nie meer almal tydens die laaste geleentheid nie.

Die volgorde waarin grade toegeken word, verander ook. Indien ʼn eregraad by ʼn plegtigheid toegeken word, kom dit eerste aan die beurt. Daarna word die doktorsgrade toegeken, gevolg deur die meestersgrade, honneursgrade en nagraadse diplomas, met voorgraadse graduandi wat laaste gradueer.

In plaas van die gebruiklike Kanseliersete ná die laaste gradeplegtigheid, word drie afsonderlike geleenthede gehou. Die Kanseliersete op 14 Desember 2018 (ná die oggend-gradeplegtigheid) word bygewoon deur die Kanselier, die Rektoraat, dekane en voorsitters van die US se statutêre liggame, asook die ontvanger van die Kanseliersmedalje en die eregradiati tesame met hulle gaste.

Dan is daar twee afsonderlike Visekanseliersdinees waarna doktorandi en hul metgeselle, hul promotors, dekane en lede van die Rektoraat en senior bestuur word genooi. Op Dinsdag 11 Desember (ná die aand-plegtigheid) is die Visekanseliersdinee vir die eerste vier gradeplegtighede. Dit sluit die volgende fakulteite in: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (Groep B), Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde, en Krygskunde. Vir die tweede Visekanseliersdinee, op Woensdag 12 Desember (ná die aand-plegtigheid), word die doktorandi van die fakulteite Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (Groep A), Lettere en Sosiale Wetenskappe, AgriWetenskappe en Regsgeleerdheid, Teologie, en Ingenieurswese (dus die laaste vier plegtighede) genooi.

Alle betrokkenes sal ná die bekendmaking van die gradelyste hul uitnodigings ontvang. Promotors is egter welkom om intussen hul doktorale kandidate oor die veranderinge in te lig. Die Kanseliersete en beide Visekanseliersdinees word by die Wallenberg-sentrum in Maraisstraat gehou.

Daar sal vir die Desember-plegtighede, soos in Maart vanjaar, weer sitplekkaartjies vir graduandi se gaste uitgereik word. Universiteitsgeleenthede is onderworpe aan ʼn aansoekproses wat deur wetgewing gereguleer word. ʼn Populasiesertifikaat bepaal die maksimum aantal individue wat op ʼn bepaalde tydstip in ʼn lokaal mag wees, onder meer vanweë veiligheidsoorwegings. Vir die Coetzenburg Sentrum, waar gradeplegtighede gehou word, mag die aantal individue nie 3 000 oorskry nie. Aangesien die aantal op ʼn koppetelling berus, word selfs ʼn kleuter wat op ʼn ouer se skoot sit by dié getal ingesluit. ʼn Eksterne veiligheidsbeampte verseker te alle tye nakoming van die riglyne. Daarom kan die Universiteit Stellenbosch nie anders as om die voorbeeld van ander Wes-Kaapse universiteite te volg wat reeds jare lank die aantal gastekaartjies beperk nie. Addisionele gaste kan gradeplegtighede aanlyn (live streaming) volg in die Sportwetenskap-gebou agter die Coetzenburg Sentrum, of van enige plek in die wêreld by www.sun.ac.za/streaming

Doktorale kandidate kry elkeen vier sitplekkaartjies en meestersgraadontvangers kry drie sitplek-kaartjies elk. Alle ander graduandi ontvang twee sitplekkaartjies vir die Coetzenburg Sentrum.

Vir meer inligting: www.sun.ac.za/gradeplegtigheid