Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Volhoubaarheidsfokus vir Julie: Volhoubaarheid-praktyke – Fedics

Die Fedics-eenheid op die Tygerberg-kampus was in 2015 deel van die omgewingsvolhoubaarheidswerkswinkel wat op kampus gehou is en is verbind daartoe om toenemend meer volhoubaarheidspraktyke in te stel in hul kombuis.

Om elektrisiteit te spaar is die toestelle geoutomatiseer om temperatuurverskille tot 'n minimum te beperk, LED-ligte in die yskaste gaan slegs aan as die deure oopgaan, en sommige toestelle het tydskakelaars wat aangaan slegs tydens werksure, om net 'n paar voorbeelde te noem.

Nie net word waterlose handseep gebruik om water te bespaar nie, maar ook word die vloere skoongemaak met emmers en moppe in plaas van met 'n tuinslang soos vroeër.

Om die omgewingsimpak as gevolg van vervoer te verminder, word slegs seisonale groente en vrugte aangekoop, sowel as plaaslik vervaardigde produkte.

Die afval vanuit die kombuis word verminder deur onder meer alle kosafval te verwerk na kompos; verskaffers word gevra om eerder opvoubare kratte te gebruik as kartonhouers of plastiek; komposbare bamboeseetgerei word gebruik vir vingeretes; en wasbare eetgerei word gebruik vir bespreekte etes.

Video: In hierdie video verduidelik Mornè Rhode, spysenieringsbestuurder en sjef van die Fedics-eenheid op die Tygerberg-kampus, die maatreëls wat hulle in werking gestel het om meer omgewingsvriendelik te wees.