Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Formaat van PhD-proefskrif in die FGGW

In die verlede is slegs twee formate aanvaar vir PhD-proefskrifte in die FGGW, naamlik 1) die konvensionele formaat (ʼn Inleiding, gevolg deur ʼn aantal hoofstukke, gevolg deur ʼn samevatting van die navorsingsresultate wat die wetenskaplike bydrae van die studie aantoon) en 2) die publikasieformaat (bestaande uit vier of vyf gepubliseerde artikels in aanvaarbare, eweknie-beoordeelde joernale en waarvan die PhD-student eerste outeur is). 

Die publikasieformaat waarin die PhD-proefskrif ingedien kan word is egter intussen sentraal deur die Universiteit uitgebrei en sluit nou die volgende in (sien bladsy 179, 6.9.5 van die Algemene Jaarboek Deel 1 - 2017):

                ʼn Inleiding, gevolg deur óf:

 i) ʼn aantal gepubliseerde en / of ongepubliseerde artikels, óf

 ii) ʼn kombinasie van hoofstukke en gepubliseerde en / of ongepubliseerde artikels,

                gevolg deur ʼn samevatting van die navorsingsresultate wat die wetenskaplike bydrae van die studie aantoon, met dien verstande dat slegs artikels gebruik mag word wat ontstaan het nadat die student vir die doktorale studie geregistreer het (met die uitsondering van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe waar daar twee artikels gebruik kan word wat binne 5 jaar voor registrasie gepubliseer is) of, indien ʼn magisterstudie omgeskakel word na doktorale studie, artikels wat ontstaan het nadat die student vir daardie betrokke magisterstudie geregistreer het

Die nuwe publikasieformaat laat dus meer vryheid toe in terme van die gebruik van ongepubliseerde artikels en die posisie van die student in die outeurslys. Let asseblief daarop dat ongeag die formaat, die proefskrif steeds as geheel as ‘n enkele werk geëksamineer word en die hele studie steeds oor een sentrale en samehangende navorsingsvraagstuk moet handel. Die student moet uiteraard ook steeds die oorgewig van die werk in die artikels (of n hoeveelheid daarvan voldoende vir n PhD-studie) gedoen het.  

ns versoek dat, indien u van ongepubliseerde werke in u proefskrif gebruik maak, daar duidelik aan die eksamineerders aangedui word dat die betrokke artikel nog nie gepubliseer of aanvaar is vir publikasie nie.  Let ook op die vereiste in die Jaarboek (6.9.4.2) dat in alle gevalle die bydrae van die betrokke student tot elke artikel duidelik aangetoon moet word soos op die voorgeskrewe wyse (sien 6.9.15).