Vier jong wetenskaplikes en alumni van die Universiteit Stellenbosch is deel van die groep van nege jong Suid-Afrikaanse wetenskaplikes wat gekies is om van 25 tot 30 Junie in Lindau, Duitsland deel te neem aan die 72ste Lindau Nobelpryswennersvergadering wat vanjaar gewei word aan Fisiologie en Geneeskunde.
Hulle bevind hul in die geledere van 635 uitgesoekte jong wetenskaplikes van meer as 90 nasionaliteite, gekies deur die Raad vir die Lindau Nobelpryswennersvergaderings. Meer as 40 Nobelpryswenners sal ook die vergadering bywoon.
Die deelnemers van die Universiteit Stellenbosch is Dr Nabila Ismail, 'n navorsingswetenskaplike in die Departement Biomediese Wetenskappe in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, en drie nagraadse studente en alumni van die Departement Fisiologiese Wetenskappe in die Fakulteit Natuurwetenskappe. Hulle is: Dr Martin Page, Me Claudia Christowitz, en Dr Gina Leisching.
Dr Page werk tans vir die tegnologiekonsultasiefirma Capgemini Invent, waar hy betrokke is by digitale innovasie vir die lewenswetenskappe- en gesondheidsorg- en beleidsnavorsing. Dr Gina Leisching is 'n senior navorsingsgenoot in kliniese geneeskunde by die Skool vir Geneeskunde by Trinity Kollege Dublin, terwyl Me Claudia Christowitz 'n PhD-student aan die US is met Prof. Anna-Mart Engelbrecht as haar studieleier.
Volgens 'n mediavrystelling van die Akademie vir Wetenskap in Suid-Afrika (ASSAf), het die Suid-Afrikaanse deelnemers 'n twee dag lange werkswinkel bygewoon waartydens hulle toegespreek is deur hoëvlak sprekers in wetenskap en tegnologie, asook alumni van vorige Lindau-pryswennersvergaderings. Hulle was ook in gesprek met 60 leerders van Naledi Hoërskool, Jabulani Tegniese Skool, en Tswasongu Sekondêre Skool.
In Lindau, sal die jong wetenskaplikes 'n ses dag lange program van verskeie lesings en paneebesprekings deurloop. Hulle sal ook die geleentheid hê om skouers te skuur met van die bekendste wetenskaplikes in fisiologie en geneeskunde wanneer hulle aan die Lindau Nobelpryswenners voorgestel word.
Op die foto bo, van links na regs: Dr Nabila Ismail, Dr Gina Leisching, Dr Martin Page en PhD student Claudia Christowitz.