Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ʼn Dag in die lewe: Dannielle Kenny
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
Gepubliseer: 25/05/2023

​As ʼn ekstrovert wetenskaplike en sosiale skakelingspraktiyn van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe​ (FGGW) kommunikeer Dannie Kenny ingewikkelde navorsingsonderwerpe behendig met ʼn breë gehoor. Maar sy is ook ʼn amateur-foodie wat haar ervarings van haar aangenome Moederstad en die restaurante wat sy besoek met haar aanlyn gemeenskap op sosiale media deel.

Ons het Mei met die gedenking van Werkersdag ingelui en ons dra hierdie reeks artikels op aan ons personeel en hul belangrike bydrae tot die Universiteit Stellenbosch (US). In hierdie onderhoud vertel Kenny ons meer oor haar werk.

Wat behels jou rol by die US?

My rol as ʼn wetenskap-skakelingspraktisyn is om seker te maak al die ongelooflike navorsing wat deur ons wêreldklas-navorsers in die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika (MBMG) en die Suid-Afrikaanse Mediese Raad (SAMR) se Sentrum vir TB-navorsing gedoen word, met belangrike belangegroepe gedeel word. Dit word gedoen deur middel van wetenskapskommunikasie-aktiwiteite, gemeenskapsinteraksieprojekte, sosiale mediaplatforms, beleidsverslae, media-onderhoude en openbare bewusmakingsgeleenthede.

Ek dien ook in verskeie komitees, waaronder die FGGW se Maatskaplike Impakkomitee, die FGGW se Visuele Regstellingstaakspan, die MBMG se Studentementorskapkomitee en die Afdeling MBMG se Verslagdoeningstaakspan. Ek is ook die Voorsitter van die Afdeling MBMG se Maatskaplike Impaktaakspan.

Hoe lyk ʼn tipiese werkdag?

Soos die geval met die meeste mense is, begin my dag met die lees van e-posse en ek drink oorvloedige koppies koffie. Vergaderings om nuwe of voortgaande projekte te bespreek maak ʼn groot deel van my dagprogram uit. Dit is wanneer terugvoer oor projekte gegee word, beursaansoeke met projekontwerp, begrotings en uitkomste ontwikkel word en verhoudings met sleutelvennote gevestig, in stand gehou en versterk word – alles ter nastrewing van betekenisvolle skakeling wat deursigtige, inklusiewe en deelnemende wetenskap vir die samelewing bevorder.  

Hoe het jou opvoeding of jou vorige ervarings jou vir hierdie rol voorberei?

Ek reken my agtergrond in wetenskap – wat steeds aan die gang is omdat ek tans deeltyds aan ʼn PhD in molekulêre biologie werk – het my gehelp om die navorsingspogings van ons Afdeling te verstaan sodat die inligting op ʼn duidelike en bondige manier met ʼn groot gehoor gedeel kan word.

Hierdie ervaring help my ook om die waarde van wetenskapskakeling in navorsing te besef en te bevorder deur as die tussenganger of as ʼn brug tussen navorsers en belangegroepe op te tree. Hierdie wedersyds voordelige interaksies stel navorsers en belangegroepe in staat om perspektief, begrip en passie vir navorsing met impak te ontwikkel.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Ek is ʼn ekstrovert en geniet dit om mense te ontmoet en betekenisvol met hulle te skakel. Ek leer en ontdek graag nuwe idees, benaderings, perspektiewe en kulture – dis seker maar ʼn kenmerk van wetenskaplikes. Ek geniet dit ook om deur my werk mense se geleefde ervarings en kreatiewe idees met ander te deel.

Vertel ons iets opwindends of interessant oor jouself wat min mense sou verwag?

Wanneer ek nie werk nie, geniet ek dit om die pragtige Moederstad as ʼn toeris te ontdek, want ek kom oorspronklik van die Oos-Kaap.

Ek is baie lief vir kos en beskou myself as ʼn amateur-foodie wat my ervarings met my aanlyn gemeenskap op sosiale media deel – dis meestal net my vriende en familie. Ek het ʼn nota op my foon met lyste van 40 toeristetrekpleisters en meer as 100 restaurante en kroeë om te besoek, so ek het altyd iets om te doen.