Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ʼn Dag in die lewe: Heilet Bertrand
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 22/05/2023

​As bestuurder van die Instituut vir Toekomsnavorsing (ITN) is Heilet Bertrand dink altyd vooruit om kliënte op hoogte van toekomstige neigings en ontwikkelings. Bertrand sê haar werk by die Stellenbosch Bestuurskool (SBS) is nommerpas vir haar aangesien sy ook 'n meestersgraad in Toekomsstudies het. 

Ons het Mei met die herdenking van Werkersdag ingelui en ons dra hierdie reeks artikels op aan ons personeel en hul belangrike bydrae tot die US. In hierdie onderhoud vertel Bertrand ons meer oor haar werk. 

Wat behels jou rol by die US? 

Ek is verantwoordelik vir die bestuur van die administrasie, finansies, bemarking en kliënteskakeling by die ITN. Die ITN onderneem toekomsnavorsings, lei maatskappye en individue op in die gebruik van toekomsdenke-instrumente en bied verskeie publikasies aan kliënte om hulle op hoogte te hou van wat op die horison lê en wag. Ons dienste is oor die algemeen daarop gemik om kliënte te help om strategies vooruit te dink om beter langtermynbesluite te neem. Dit sal hulle in staat stel om geleenthede raak te sien en risiko's vroegtydig teen te werk. Die ITN is in die Stellenbosch Bestuurskool gesetel en is die eerste en enigste Toekomsinstituut van sy soort in Afrika.

Hoe lyk 'n tipiese werkdag?  

My dag begin gewoonlik deur in te loer by die direkteur van die ITN, Doris Viljoen, en daarna gaan ek al ons sosialemediaplatforms na en beantwoord ek e-posse. Daarna hang dit af van kliënte se versoeke en dit kan die reël van vergaderings of die skedulering van skakelgeleenthede met kliënte insluit, asook om seker te maak finansiële aktiwiteite word bygehou, of ek gaan ons weeklikse en maandelikse verslae aan ons subskripsiekliënte na en werk dit by, ek stel voorstelle en begrotings vir kliënte op en verskaf ondersteuning in die kantoor vir enige ander aktiwiteite.

Hoe het jou opleiding of jou vorige ervarings jou vir hierdie rol voorberei?

Ek het 'n BCom-graad in bemarking behaal en my MPhil in Toekomsstudies voltooi. Daarna was dit my passie om die fantastiese werk wat die ITN doen, sigbaarder te maak. So toe die geleentheid hom voordoen om voltyds by die ITN te werk, het ek dit met albei hande aangegryp.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US? 

Ek is baie lief vir die vakgebied waarin ek werk – toekomsstudies het my denkwyse en werksmetode verander en ek kan my nie indink om enigiets anders te doen nie. Ek geniet dit om by die Bestuurskool te werk en om met nagraadse studente en alumni om te gaan.

Vertel ons iets opwindends of interessant oor jouself wat min mense sou verwag?

Ek het in my twintigerjare hip-hopdans gedoen en aan 'n paar kompetisies en vertonings deelgeneem.