Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Terugvoer - SAMRK-verslag oor taal
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 19/04/2023

By sy vergadering van Maandag 17 April 2023 het die Raad van die  Universiteit Stellenbosch (US) kennis geneem van en saamgestem dat daar aspekte in die verslag van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) oor taal in US-koshuise gedurende die verwelkomingstydperk in 2021 is waarop die Universiteit moontlik vollediger sal wil reageer en moontlik selfs wil betwis. Die Universiteit beoog egter nie om die inwerkingstelling van die kern van die SAMRK se regstellende optrede en aanbeveling tot die datum wat die Kommissie bepaal het (13 Mei 2023) te vertraag nie.

Die US herhaal ook sy vorige verklarings dat die soort optrede wat in die SAMRK se verslag uiteengesit is en wat die gebruik van Afrikaans in koshuise beperk het, verkeerd is en nooit moes plaasgevind het nie. Soos die SAMRK aangedui het, sou die Universiteit se Taalbeleid nie toegelaat het dat enige student verhoed word om om die taal van hulle keuse in koshuise te praat nie. Die US win tans regsadvies in oor aspekte van die SAMRK-verslag, waarna dit volledig op die verslag sal kommentaar lewer. Die Universiteit verwelkom egter die SAMRK se bevinding dat daar nie “'n flagrante en gekonsentreerde verbod op Afrikaans was wat deur 'n gesamentlike poging van die US en sekere individue in die bestuur aangevuur en gemotiveer is om Afrikaans by die US uit te roei nie".

Die US vra alle studente in die koshuise Minerva en Irene wat deur praktyke gedurende die verwelkomingsweek in 2021 geraak is en wat gevoel het hulle menseregte en waardigheid is aangetas deur nie Afrikaans in 'n sosiale konteks te kon praat nie, onomwonde om verskoning

Hoewel die Universiteit omvattende opleiding vir studenteleiers oor die toepassing van die Taalbeleid ingestel het en hierdie opleiding vanjaar versterk is, sal die Universiteit voortgaan met hierdie opleiding. Ons bevestig terselfdertyd ons verbintenis tot 'n meertalige, multikulturele universiteit wat menseregte en waardigheid respekteer en waar al ons belanghebbers welkom voel. Die US Senaat ondersteun hierdie stap.

Einde